November 2015
P/a Mnr Johann Aspeling
Die Registrateur
Universiteit Stellenbosch
Lees ook: |
---|
• Vrydag die 13de |
• Johann Rossouw: Geagte professor De Villiers |
• Fanie Olivier: Vanuit Pole – rondom Stellenbosch |
Beste prof Wim de Villiers, lede van die senaat, en lede van die raad van Universiteit Stellenbosch
NEGE PUNTE VIR OORWEGING DEUR DIE REKTOR, SENAAT EN RAAD VAN UNIVERSITEIT STELLENBOSCH
Ons, die ondergetekendes, is nie almal Afrikaanssprekend, oud-Maties, gegradueerdes, geskooldes, ongeletterdes, wit, bruin of swart nie, maar ons gesamentlike vertrekpunt is dat dit 'n wesentlike skande is dat Universiteit Stellenbosch meer as twintig jaar na die einde van amptelike apartheid sy verantwoordelikheid versuim het en min vordering met betrekking tot inklusiwiteit gemaak het. As Suid-Afrikaners het ons belang daarby dat hierdie stand van sake verander. Ons vra Universiteit Stellenbosch om die voortou te neem met progressiewe transformasie, eerder as om die populisties gemaklike uitweg te kies. Ons stel die volgende punte voor:
- Universiteit Stellenbosch behoort hom voortdurend te beywer vir die behoorlike befondsing van onderwys en opleiding in die algemeen, maar spesifiek van hoër onderwys, deur die staat. In hierdie opsigte behoort die universiteit hom by die landswye #FeesMustFall beweging te skaar.
- Alle gesubkontrakteerde werkers wat vir meer as drie jaar voltyds by die universiteit werk, behoort binne een jaar vanaf hierdie vergadering direk deur die universiteit in diens geneem te word, sodat die gemeenskap wat die universiteit dien, ook daarna kan uitsien dat hulle kinders sal kan studeer, en sodat hulle self toegang sal hê tot mediese dienste en pensioenfondse.
- Alhoewel die staat verantwoordelik gehou moet word vir die voldoende befondsing van hoër onderwys, behoort Universiteit Stellenbosch ook self met rolspelers in die sakewêreld te onderhandel om soveel as moontlik beurse beskikbaar te stel. Toegang tot Universiteit Stellenbosch behoort bepaal te word deur 'n voornemende student se akademiese meriete eerder as deur haar klasposisie. #FooieMoetVal
- Universiteit Stellenbosch is die openbare instelling met die sterkste magsposisie om verandering in Afrikaanse gemeenskappe mee te bring en behoort nou, na heelwat versuim, 'n verskil te maak aan die uitsluiting by hoër onderwys van Afrikaanse bruin of swart mense.
- 'n Beursfonds vir arm Afrikaanse studente, veral dié wat bruin of swart is, behoort op die been gebring te word, en behoort baat te vind by 'n gedrewe en volgehoue fondsinsamelingsprojek, sodat dit 'n daadwerklike verskil kan maak aan die demografie van die studentekorps en aan die moontlikhede vir opwaartse klassemobiliteit in gemeenskappe van byvoorbeeld die Boland, die Kaapse Vlakte, die Overberg, die Karoo, en die Noord- en Oos-Kaap.
- Universiteit Stellenbosch behoort ook self – moontlik deur middel van sy Fakulteit Opvoedkunde – ondersteuning te bied aan arm Afrikaanse skole en hul leerlinge met die doel om die proporsie van bruin leerlinge wat universiteitstoelating behaal te verhoog.
- Universiteit Stellenbosch behoort sy personeelkorps meer divers en verteenwoordigend te maak.
- Waar dit ook al mag kort, moet uitstekende akademiese ondersteuning, ook wat betref taal, dringend daargestel word.
- Alle voorgraadse vakrigtings behoort in Afrikaans beskikbaar te wees en te bly.
Ons maak ook die volgende opmerkings wat betref die laaste punt, wat deur die onlangse verklaring van die rektor se bestuurspan genoodsaak word:
Ons ondersteun 'n meertalige demokrasie met plek vir diverse individue en kultuurgemeenskappe. Gegewe die geskiedenis van taalonderdrukking, behoort die staat aktief pogings aan te wend en te ondersteun om die gebruik van inheemse tale – insluitend Afrikaans – uit te bou. Universiteit Stellenbosch sou met sy eeu lange ervaring van die uitbou van 'n akademiese taal nou ondersteuning kon bied aan die Universiteit van die Vrystaat om Sesotho uit te bou, die Universiteit van KwaZulu-Natal om isiZulu uit te bou, en die Noordwes-Universiteit om Setswana uit te bou, en 'n belangrike rol kon speel daarin om die konstitusionele ideale van meertaligheid te help verwesenlik.
In die geval van Universiteit Stellenbosch dui die onlangse verklaring wat betref die taalbeleid op die onderskraging van 'n apartheidkonstruk van Afrikaans en haar mense. Ons verwerp hierdie eensydige idee van Afrikaans, om die redes hier onder:[1]
- Afrikaans is die eerste taal van meer as 13 persent van Suid-Afrika se bevolking (StatsSA 2012:25). Dit maak dit die derde grootste eerste of moedertaal in Suid-Afrika, na isiZulu en isiXhosa, en aansienlik meer verspreid as Engels, wat die eerste taal van minder as vyf miljoen Suid-Afrikaners is, of minder as tien per sent van die bevolking (StatsSA 2012:25–6). Tweedetaalsprekers is bykomend tot hierdie getalle.
- Afrikaans het 'n meerderheid van swart of bruin sprekers. Meer as 60 persent van wit mense praat Afrikaans as eerste taal, maar ten tye van die 2011-sensus was slegs sowat 2,7 miljoen van die bykans sewe miljoen sprekers van Afrikaans as eerste taal wit (StatsSA 2012:26).
- Die skuld vir die mate van uitsluiting van Afrikaanse bruin- of swart mense van hoër onderwys in Suid-Afrika kan nie voor die deur van 'n taal gelê word nie. Universiteit Stellenbosch het hom in die verlede aktief skuldig gemaak aan die uitsluiting van Afrikaanse bruin mense. Die speelveld van Afrikaanse laerskole en hoërskole is nog uiters ongelyk – 'n probleem met betrekking waartoe die universiteit en sy Fakulteit Opvoedkunde sou kon optree. Universiteit Stellenbosch het ook onder die demokratiese bestel sy verantwoordelikheid versaak om alle Afrikaanssprekendes by te staan om op grond van akademiese meriete toegang tot hoër onderwys te kry. Die voorgestelde veranderinge aan die taalbeleid sou die 150 jaar lange geskiedenis van uitsluiting volbring.
- Die akademie kan sekerlik slegs verryk word deur die insluiting van 'n diverse reeks perspektiewe en tale. Inklusiwiteit in alle opsigte kan wetenskaplike standaarde bevorder.
- Nie elke persoon wat aan 'n universiteit gaan studeer, hoef aan wêrelddebatte deel te neem nie. Sommiges wil met studie 'n aanvanklike breuk maak met 'n geskiedenis van armoede.
Daarom rig ons hierdie versoek aan u, prof De Villiers, die lede van die senaat, en die lede van die raad, met betrekking tot die nege punte hier bo.
Teken die petisie hier. |
[1] Statistiek word aangehaal uit hierdie bron: StatsSA (Statistics South Africa). 2012. Census in Brief. Pretoria: Statistics South Africa. Op 18 November 2015.
The post Liela Groenewald vra: teken hierdie petisie appeared first on LitNet.