Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Parys-aanvalle, Daesh en die compassion gap in rapportering

$
0
0

In 2012 het ek begin met die rowwe beplanning van ʼn misdaadroman oor mensehandel. Ek het geweet dat minstens een van die karakters ʼn vrou sou wees wat die politieke situasie en potensiële verkragting as oorlogswapen in een of ander Midde-Oosterse land wou ontvlug. Sirië het na ʼn goeie plek geklink, en ek het my karakter daar geplaas.

Lees ook:
Lees Bettina Wyngaard se vorige rubriek
Lees Marita van der Vyver se gedagtes oor die Parys-aanvalle

Op daardie stadium het Daesh, of ISIS, soos dit meer algemeen bekend is, nog nie bestaan nie, in elk geval nie onder daardie naam en so georganiseerd soos wat dit nou blyk te wees nie. Al-Qaeda was die terroriste-organisasie wat vrees ingeboesem het, en ISIS was so onbelangrik dat niemand hulle ernstig opgeneem het nie. Die vlugtelingkrisis het nog nie in die Weste die proporsies aangeneem wat dit nou bereik het nie. Sirië was nog nie die fokus van ʼn internasionale teenterreurveldtog nie.

Die terreuraanvalle in Parys op 13 November het natuurlik gelei tot verskerpte aandag op die bedrywighede van Daesh toe hulle verantwoordelikheid aanvaar het. Dié organisasie het maar eers hier van middel-2013 af begin aandag trek en publisiteit verwerf onder daardie naam, en eers in 2014 met ʼn internasionale terreurveldtog begin. Terwyl hulle in die Weste as ISIS of ISIL bekend is, word hulle in die Moslem-wêreld Daesh genoem, om te verseker dat daar duidelik skeiding tussen die organisasie en Islam is. Dis dan ook die naam wat ek in hierdie artikel gebruik.

In 2015 het ons selfs berigte begin kry van Suid-Afrikaanse tieners wat vir Daesh se doelwitte gewerf word. Hulle het klaarblyklik ʼn effektiewe werwingsmeganisme.

Hulle gevaar en hulle aantrekkingskrag lê in die godsdienstige beloftes wat hulle maak. In ʼn wêreld wat hulle toenemend al meer vervreem, waar “racial profiling” algemeen is, waar kinders verbied word om ʼn doek, ʼn simbool van hulle deugdelikheid, by hulle skole te dra, waar vroue forseer word om hulle gesigte en hare te onbloot terwyl dit teen hulle geloof indruis, belowe Daesh vir Moslems ʼn heerskappy wat hulle grootsheid as geloof in ere sal herstel. Dis ysingwekkend om te sien hoe groot hulle gevolg in slegs twee jaar geraak het. Ek kan nie anders as om te wonder of daar ooit ruimte vir ʼn organisasie soos Daesh sou gewees het om so paddastoelagtig te ontstaan en groei as dit nie was vir George W se kortsigtige oorlog in Irak nie. Dit het ʼn leemte gelaat wat Daesh kon vul, en vir die eerste keer in ʼn lang tyd kan hulle oor geografiese grense heen fanatiese Moslems in ʼn gemeenskaplike doel verenig.

Daesh het in die afgelope twee jaar aansienlik meer gematigde Moslems se dood veroorsaak as enige Westerse dode, maar uit die eensydige manier waarop daar verslag gedoen word, lyk dit asof net die Weste in hulle kruishaar is. Een verslaggewer het dit beskryf as die compassion gap tussen beriggewing oor terreur in die Midde-Ooste en Afrika aan die een kand, en terreur in die Weste aan die ander kant.

Die oorgrote meerderheid vlugtelinge wat in die Weste ontvang word, vlug om onder Daesh se despotiese beheer uit te kom. Dan word hulle egter in die Weste met vyandigheid as terroriste bejeën, terwyl die oorgrote meerderheid juis vlug om terreur te ontkom. Die treffendste prentjie wat die huidige situasie uitbeeld, was ʼn spotprent van ʼn gesin wat gestop word deur ʼn hand met die sirkel sterre van die Europese Unie op die mou, terwyl ʼn mes gemerk Daesh in hulle rug gedruk word.

Wat Vrydag in Parys gebeur het, is tragies. Wat Donderdag in Beiroet gebeur het, is ewe tragies, maar daar word nie dieselfde beriggewing daaraan gewy nie. Hierdie week, met die Al-Qaeda-georkestreerde Mali-aanval, was daar weer aansienlik beriggewing – dalk omdat die slagoffers toeriste was, eerder as inboorlinge van die land. Daar is terreur dwarsoor die wêreld, maar dis interessant hoedat daar meer waarde geheg word aan, of dan meer koerantspasie gewy word aan, Westerse lewens wat verlore gaan. Die vitrioel wat oor die naweek op sosiale media ontplof het na albei kante toe as gevolg van die oneweredige beriggewing, die compassion gap, het my sprakeloos gelaat. Onder sommiges was daar ʼn amperse Schadenfreude oor wat in Parys gebeur het. By ander was daar iets soos ʼn kompeterende ons-swaarkry-is-erger-as-julle-s’n.

Een persoon het selfs so ver gegaan as om die situasie in Beiroet as ʼn “everyday horror” te beskryf, iets waarvoor mens afgestomp raak. Ek het daardie kommentaar gelees en gedink: “Behoede my daarvan dat ek ʼn punt bereik waar ek ooit selfs een enkele sterfte as ʼn everyday horror afmaak.” Die realiteit is dat Beiroet die afgelope jaar, dalk selfs langer, baie stabiel was. Die oningeligte persepsie in die Weste is egter dat die hele Midde-Ooste een onstabiele put van godsdienstige onverdraagsaamheid is.

Wat word van ons menslikheid as ons ʼn glyskaal van gruwelikhede begin ontwikkel? Of is dit eerder ʼn geval dat slagoffers in Afrika en die Midde-Ooste so lank reeds in die media van hulle menslikheid ontneem is dat dit in orde is om willens en wetens die rug op hulle lyding te draai? Is dit dat die slagoffers anders genoeg lyk dat ons ons nie met hulle hoef te vereenselwig nie, want hulle lyk nie soos ons en ons familie of vriende nie? Ons hoef nie te empatiseer nie, want hulle is anders, hulle glo anders, hulle leef anders.

Nie almal in die Midde-Ooste is egter fanatiese Moslems met net een doel voor oë, om die imperialistiese Weste te vernietig, nie. Die meeste Moslems wil maar net hulle lewe in vrede deurbring, net soos die meeste Christene.

Oorhaastige, ondeurdagte optrede na Vrydag se aanvalle bring egter die gevaar mee dat gematigde Moslems, deur diskriminasie en toenemende vyandigheid, geforseer word in ʼn situasie waar hulle geradikaliseer word. Is Frankryk, met sy bombardering van Siriese posisies, ook siviele posisies, nie besig om ʼn verdere vakuum te skep wat toestande vir die groei van Daesh-tentakels bevorder nie? Die Amerikaanse Republikeine maak stem dik, en is besig om wetgewing te probeer deurforseer wat hulle toelaat om Siriese vlugtelinge, spesifiek Moslems, toegang en hulp te weier.

Na die 9/11-aanvalle was daar toenemende racial profiling in Amerika en ander lande. Daar was selfs hoogs-gepubliseerde pogings, tydens Obama se verkiesingsveldtog, om hom as ‘n Moslem (en dus nie geskik om president te wees nie) uit te maak.

Dit lyk asof dieselfde verdagmakingsveldtogte nou weer plaasvind. Die presidensiële kandidate in die volgende Amerikaanse verkiesing was almal gevra wat hulle posisie rondom Siriese vlugtelinge is, en dit lyk toenemend asof terrorisme en die vlugtelingkrisis bepalende faktore in die verkiesing kan wees.

Daar word groot gewag gemaak daarvan dat een van die aanvallers Vrydag die land op ʼn Siriese paspoort binnegekom het. Die ander is egter sogenaamde “homegrown” terroriste. Omtrent nie ʼn woord word oor hulle gerep nie. Watter toestande in hulle tuisland het egter gemaak dat hulle bereid was om dit aan te val? Die aanvallers in Parys was almal in hulle 20’s, dus mense wat hulle vormingsjare in ʼn agterdogtige, post-9/11 wêreld waar alles wat Islamities is, verdag is, moes deurmaak. Sou hulle nog steeds gekies het om te sterf vir ʼn ideaal wat vir westerlinge onverstaanbaar is indien hulle geloof, tradisies en kultuur aanvaar was?

My grootste vrees is dat ons oor 15 jaar ʼn hernude vlaag terreuraanvalle kry, gepleeg deur mense wat nou hulle tienerjare binnegaan en intense diskriminasie gaan ervaar as gevolg van die Parys-aanvalle en die regerings se reaksie daarop. Ek vrees dat ons in die tussentyd groter getalle geradikaliseerde Daesh-volgelinge gaan kry, omdat daar nou blindelingse, deur-die-bank-aggressiwiteit teenoor Moslems gepleeg word sonder om behoorlik vas te stel of hulle terroriste is of maar net gelowiges wat hulle geloof in vrede wil uitleef.

My vrees is dat die compassion gap in beriggewing oor die tragedies tot verbittering gaan lei wat anti-Westerse sentimente kan veroorsaak. Ons het dit reeds begin sien die afgelope week.

Parys, Brussel ... hoe lank voordat iemand besef Kaapstad en Johannesburg is ook gewilde bestemmings vir toeriste?

The post Parys-aanvalle, Daesh en die compassion gap in rapportering appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>