Die UJ-pryse 2017 is onlangs toegeken. Hier is John Miles se bedankingswoord op Johan Myburg se commendatio.
Van skrywerskant enkele gedagtes rondom die roman.
Soos baie skrywers werk ek in algehele afsondering aan ’n verhaal, maak nie saak hoe lank dit duur nie. Vooraf is daar geen afspraak met ’n uitgewer en dus geen saktyd nie. Eers met die eerste afronding kry my eerste leser, ’n vertroude een, iets om te lees, daarna ’n hand vol vriende. Bespreking met elkeen is kosbaar. Ek het Op ’n dag, ’n hond aan Human en Rousseau voorgelê. Die uitgewer se Nèlleke de Jager was die redakteur, elke opmerking en voorstel van haar en haar keurders was professioneel en het meegewerk tot die boek wat u besluit het om my met ’n prys te vereer. Daarvoor bedank ek die Universiteit van Johannesburg en elkeen wat deel was van die hele proses.
Ja, daar is flardes filosofie in die roman ingeweef. Trouens, die hoofkarakter is ’n onderwyser en getrou aan sy beroep voer hy ’n lessie of twee in die mou. So onopvallend moontlik. Nooit ’n preek nie, want “lessons are taken, not given” het ek vroeg geleer. Daarom moet alles strook met my opvatting van ’n verhaal.
Dit bring mee dat daar tydens die skryfproses voortdurend aangevul en gestroop word. Samuel Beckett het op ’n keer gesê James Joyce voeg immer by terwyl sy eie benadering neerkom op wegsny, tot afstroping. ’n Roman in wording het iets van albei nodig in dié sin dat sekere gedeeltes versterking vereis, groter motivering, terwyl die geheel kan baat as ander stukke weggelaat word.
Die lewe is geen verhaal nie, nie soos ons dit ken nie, ons máák verhale daarvan. Vir die groot orde is ons soos blindes en ons skep verhale om gemoedsrus te kry. Filosofie, godsdiens, mite. Hoe lyk ’n ware verhaal? Ek vind aansluiting by Mark Rowlands se insig in sy The Philosopher and the Wolf, “If I wanted a one-sentence definition of human beings, this would do: humans are the animals that believe the stories they tell about themselves. Humans are credulous animals.” Onverpoos vertel ons onsself verhale van allerlei soort en noem dit die waarheid. Ons kan nie anders nie.
Met Op ’n dag, ’n hond was daar eers niks, daarna ’n karakter. Ek het op ’n afgetrede onderwyser besluit. Voor hy die eerste aand aan die slaap raak, hoor hy sy eie hartklop, dis nie doef-doef of tik-tak nie, eerder en toe, en toe, en toe. Hy is tyd. Hy word verhaal.
Sy lewe was leeg en sonder ’n kaart, ’n vooraf-opgetekende landkaart wat wag om beskryf te word. Verlede en toekoms was oop. Behalwe dat sy pad met ’n hond s’n sou kruis. Die eerste sin. Geen kaart, maar wel ’n kompas (om aan te sluit by ’n teenstelling wat Javier Marías op ’n keer gebruik het by die tipering van sy romans). In my geval is dit ’n kompas waarvan die naald telkens rondtol as die magnetiese veld van Toeval tussenbeide kom.
Daar volg drie dae en ’n bietjie meer waarin ’n chaotiese lewe vol enorme tydgapings tot verhaal ingebreek word. Sodat die leser ten slotte saam met Joyce Carol Oates, in ’n bespreking van ’n roman, moet besef, “what initially appears to be random and casual is revealed to be inevitable as water circling a drain.”
Die byna vanselfsprekende titel het eers veel later gekom, aan die begin van die laaste gedeelte. In my gedagtes het ek wel ’n werktitel gehad, ek het dit ms Reineke genoem omdat die onderwyser op hierdie naam aangespreek is tydens die middernagtelike foutiewe telefoonoproep wat hy ontvang. Nêrens kry hy ’n naam nie, hy is enigiemand van A tot Z, maar nie Reineke nie. Hy is die nie-Reineke, die nie-hy. In daardie stadium van skryf wou ek meer aksent plaas op die misplaaste identiteit wat ander aan hom toeskryf. Vir Hazl is hy haar stiefpa, Liz sien hom as ideaalbeeld, hy is weggeloopte minnaar, bedrieër, ’n karikatuurskets, ens. Elke ander karakter het vir hom ’n identiteit gereed. Aan die skeepsromp van elke identiteit kleef en groei die aanpaksels van ander se menings soos vassuigende eendemossels.
Maar iewers op pad na die einde het ek besef ek sit met ’n man sonder naam gelei deur ’n hond op reis na ’n naamlose vrou, ’n hond met die naam Bluf omdat hy nie net hond is nie.
Bluf het nie lewe buite die roman nie. Hy bestaan net in die boek. Ek het sy advertensiefoto gesien op ’n sak met hondekos en die afbeelding later geëien as ’n Airedale Terrier. My eie honde op die plaas is twee foksterriërs met ander name: Boegoe en Madampie.
Vir professor Kerneels de Wet en skoolhoof Liz het ek gebruik gemaak van twee foto’s van onbekende mense wat ek uit ’n tydskrif geskeur het. Die strate van Bloemfontein het ek my grootliks verbeel, ook dié in die Kaap. Maar ek kon eindeloos strooptogte op die werklikheid onderneem. Die onderwyser se woonstel onder Liz se huis bestaan as ’n tuinwoonstel in Mowbray, Kaapstad, nogal presies so deels uitgehol onder die woonhuis met aangeboude kamer op hoër vlak, uiters beknop en slegs deur die huis bereikbaar. Dit was vroeër die eiendom van vriende waar ek en Saar ’n paar keer tuisgegaan het wanneer ons die Kaap besoek. Maar Liz bly nie daar nie, sy bestaan net in die roman. Die modelvliegtuig wat van die plafon hang hoort in ’n ander gastekamer van vriende op Vredendal. En ja, Oubaai se strandhuis is iewers aan die Weskus.
Op die ou end is hierdie feite irrelevant want daarvan word gebruik gemaak in ’n konteks waar fiksie die werklikheid is.
In sy gedagtes omvorm die onderwyser Jan Rabie se bekende “aanhou beweeg en geraas maak” tot “aanhou verbeel en geraas maak”. Dis ook die skrywer se motto. Die filter van verbeelding nivelleer alles tot die verhaal. Javier Marías formuleer dit só: “When you describe or introduce into fiction something that really happened, the only acceptable and credible way of doing so is to pass it through the imagination … That is the territory of literature, a territory that doesn’t care where the material comes from, because that material comes and goes incessantly. And in the end, its various origins will be indistinguishable and of no importance, because the filter of imagination renders everything equal.” (Harper’s Magazine, Dec 2016, p 14)
Daarom, wanneer ek gevra word of ek die onderwyser is, is die antwoord: nee. Dis nie ek nie, maar ek het die potensiaal om soos hy te wees. Toevallig was ek ook eenmaal ’n onderwyser, maar hierdie hoofkarakter is soveel meer as ek en soveel voorbeeldiger in sy poging om ’n goeie Stoïsyn te word.
Simon Leys haal in sy bundel essays, The Hall of Uselessness, vir Iris Murdoch aan: “Man is a creature who makes pictures of himself, and then comes to resemble the picture.” (p 28)
Die warboel van ’n lewe moet getem word tot verhaal, maar iets van die oorspronklike chaos sal bly kleef.
Vanselfsprekend is die onderwyser se mymeringe vir my van betekenis. Ek voel gevlei dat daar lesers is wat daarby aanklank vind. Dat ek hiervoor die UJ-prys kry is ’n groot bonus.
Dankie dat u die verhaal geloofwaardig kon vind.
John Miles, 19 Mei 2017
The post UJ-pryse 2017: Bedankingswoord deur John Miles appeared first on LitNet.