Die UJ-pryse 2017 is onlangs toegeken. Hier is Bibi Slippers se bedankingswoord op Karen de Wet se commendatio.
Ek wil my dankwoord begin waar my boek begin, met ’n aanhaling uit Marcus Boon se boek In Praise of Copying: “But suppose copying is what makes us human. What then?”
(Vir twee dae was dít my hele toespraak. Ek het nie geweet hoe verder nie. Want sien, “copying” is nie al wat ons menslik maak nie. Om nie te weet hoe om hierdie soort ding te doen nie, voel ook totaal menslik.
Ek steek telkens vas by ’n aanhaling van Rumi, iets wat die Sufi-digter êrens in die dertiende eeu kwytgeraak het: “Have you not heard of my universal fame? I am nobody, nobody, nobody.” Wat kan Nobody nou eintlik sê oor poësie, pryse en die politiek van die oomblik?
Maar omdat vanaand al hoe nader gekom het, en omdat daar van Nobody verwag word om iets te sê, is ek genoodsaak om die volgende menslike stap te neem en “UJ-pryse dankwoord” te gaan google.
Die eerste resultaat is die toespraak wat Ena Jansen in 2016 by hierdie einste geleentheid gemaak het – dankie LitNet – en omdat Marcus Boon waarskynlik reg is en ’n namakery van ons mense maak, en omdat Nobody tans besonder desperaat voel, besluit ek om Ena woord-vir-woord na te praat – so ...
Baie dankie vir almal wat hier is – omdat julle ook dink die UJ-pryse is ’n wonderlike inisiatief, en veral omdat sommige van julle spesifiek hier is omdat een van die twee pragtige UJ-pryse vanaand myne is. Ek wil begin om ’n paar mense te bedank:
(As mens eers aan die gang kom met kopiëring, raak jy maklik meegevoer …)
Ek wil dus óók die absoluut fantastiese keurpaneel bedank, en vir Ingrid Waldeck wat die reëlings getref het sodat ek én Pamela vanaand saam hier kan wees …
( – maar, dit sal nie deug nie, want ek het alleen gekom en sover ek kan onthou het ek en Pamela nog nie ontmoet nie. Plan B: dalk dan maar eerder my eie bedankings uit Fotostaatmasjien kopieer.)
Dankie aan Marlene van Niekerk en Willem Anker wat my met die skryfwerk begelei het tydens my Meestersgraad, en ook aan my medestudente James, Fanie, Wynand en Erns. Aan Riana Barnard, Tertius Kapp en die hele span by NB Uitgewers, my eerste leser Loftus Marais en die allerbeste ontwerper Richard Myburgh. Dankie aan die proeflesers wat my van verleentheid red. Ek is dankbaar vir werkgewers en kollegas se begrip en ondersteuning deur die jare. Dankies ook aan my vriende en familie – almal se name staan agter in die boek as jy dit wil gaan opsoek – en aan my useless kat Frikkie wat van geen hulp was nie, en tog …
(Nou vloei die dinge mooi – byna ’n derde van die toespraak is agter die blad! En ek reken ek sal met hierdie fotostateerdery kan deurdruk tot aan die einde. As Nobody nie iets te sê het oor poësie, pryse en die politiek van die oomblik nie, laat dit dan aan die beter skrywers oor wat ek in elk geval in my boek nagepraat het: Van die groot Afrikaanse digters soos Antjie Krog, Breyten Breytenbach, Wilma Stockenström en Ingrid Jonker tot internasionale skrywers soos die Annes (Anne Carson, Anne Michaels, Anne Sexton), Allen Ginsberg, Charles Bukowski en Tony Hoagland; en die popsterre wat ek om verskillende redes bewonder – Beyoncé, Taylor Swift, Lianie May en Jay.)
In Fotostaatmasjien is die skepping van Beyoncé Knowles een van die fotostaterende skepper se eerste skeppingsdade, en daarom gaan ek haar ook eerste laat praat.
(Ek google.)
“The great thing about McDonalds is that they have a lot of different things on the menu. I love their salads.”
(Uhm. Ek probeer weer.)
“The more successful I become, the more I need a man.”
(Ahem. Een laaste keer?)
“Y’all are so cute and y’all talk so proper over here. I love England.”
(Google se top Beyoncé-aanhalings gaan skynbaar nie die paal haal wanneer mens iets probeer sê oor poësie, pryse en die politiek van die oomblik nie. Dus wend ek my tot die oer-digters van Fotostaatmasjien.)
Met betrekking tot poësie, hierdie brokkie Breyten Breytenbach (sien Fotostaatmasjien, bl 32), uit Die Burger, wat in 2013 verskyn het:
Poësie is die dans met die bonatuurlike, nie omdat dit buite ons is nie, maar omdat ons altyd daardie donkertes in ons gaan hê wat ons waarskynlik net kan betrek op ’n byna ritmiese omgang daarmee. Poësie is ’n taal op sigself, ’n uitdrukkingsmiddel wat los staan, alhoewel dit baie diep bepaal word deur die taal waarbinne dit gebeur. Dis die oudste vorm van menslike kommunikasie onderling en mens met boom en met dier en met wolk en met klip en met lig en met waarskynlik die voorvaders en die geeste. Dis absoluut noodsaaklik … dis ook absoluut totaal – veral binne ons moderne samelewing – geheel en al nutteloos.
Noodsaaklik en nutteloos. Maar blykbaar ook besig om ’n oomblik te beleef buite die grense van die beperkte klein wêreld waarbinne dit tradisioneel bedryf word – dis nou as jy Sam Riviere (sien Fotostaatmasjien bl 64) wil glo. Riviere sê:
At this moment, poetry does seem to be more visible outside of its own world, and maybe able to connect more directly than for a while. If so, this is because of the internet; for the first time in ages, the development of language is happening in written language instead of orally. A poem is ideally suited for circulation online, and there are writers doing really innovative things within that environment, making poems using images, found text, sound, video.
Beyoncé (sien Fotostaatmasjien bl 26) – ons is sommer vinnig weer terug by haar – is nog ’n rede vir poësie se oomblik in die kollig. Haar samewerking met die digter Warsan Shire aan die teks van haar visuele album Lemonade het (aldus Martha Baussels van LitHub) ’n tweeledige uitwerking: Shire se poësie help om Beyoncé se album te verhef tot die vlak van letterkunde, terwyl Beyoncé se sterstatus gehelp het om Shire van betreklik onbekende Britse digter na internasionaal beroemde woordkunstenaar te verander.
Dis op die oomblik in die mode om oor Beyoncé te skryf. Sien bv Fotostaatmasjien en Morgan Parker se bundel There are more beautiful things than Beyoncé. Parker sê oor die samestelling van haar bundel: “I think it’s important to show that a kind of showy, glittery poem about Beyoncé can exist alongside a much quieter poem about depression.” Maar waarom herhaal ek hierdie inligting? Dis omdat ek, by monde van Wilma Stockenström, (sien Fotostaatmasjien, bl 74 – 75) iets wil sê oor pryse:
Literêre modes, persoonlike smaak en politieke tendense speel ’n rol by die toekenning van alle literêre pryse, sê Stockenström.
Dis ’n louter gelukskoot as ’n mens dit kry.
Met ’n deeglike bewustheid van die gelukskoot wat my beval het, wil ek die geleentheid gebruik om eer te betoon aan die werk van Anneli Groenewald en Valda Jansen, wat ook op die kortlys vir hierdie prys was. Ek het Die skaalmodel en Hy kom met die skoenlappers verlede jaar gelees en ek is ’n fan. As daar nie gou weer nuwe werk van my verskyn nie, is heerlike boeke soos hulle s’n grootliks te blameer. Soos Barend Toerien (sien Fotostaatmasjien bl 54) geantwoord het toe hy gevra is of hy weer gaan skryf:
Ek wil, maar ek wil nie. Ek is te lui. Ek lees te lekker.
Nog een vinnige ding oor pryse. Antjie Krog (sien Fototstaatmasjien, bl 31) het in 2000 aan Rapport gesê:
As ek ’n lewe daaruit kon maak, sou ek net wou dig.
Dis iets waaroor ek ook droom, en ’n kontantprys soos die UJ-debuutprys maak dit minstens vir ’n kort tyd moontlik om net te dig. Daarvoor is ek ontsettend dankbaar.
Ek wil afsluit met nog woorde van mense wat op verskillende maniere in Fotostaatmasjien figureer – en elkeen is vry om dit op enige manier met Nobody se boek in verband te bring, of nie.
Van Anne Sexton (Fotostaatmasjien, bl 73)
I am a collection of dismantled almost
Van Yayoi Kusama (Fotostaatmasjien, bl 44)
Certainly, I devote my energy to both telling my personal life story and seeking self-obliteration. However, I will not destroy myself through art.
Van Paul Fattaruso (Fotostaatmasjien, bl 116)
Like an angel, the bicycle is born with an innate choreography which it cannot fail to understand.
Van Charles Bukowski (Fotostaatmasjien, bl 60)
To do a dull thing with style – now that’s what I call art.
Van Tony Hoagland (Fotostaatmasjien, bl 48)
When you’re a student of poetry, you’re lucky if you don’t realize how untalented you are until you get a little better. Otherwise, you would just stop.
Van Lucian Freud (Fotostaatmasjien, bl 45)
It is the only point of getting up every morning: to paint, to make something good, to make something even better than before, not to give up, to compete, to be ambitious.
Van Allen Ginsberg (Fotostaatmasjien, bl 45)
The only thing that can save the world now is the reclaiming of the awareness of the world. That’s what poetry does
En van Anne Carson (Fotostaatmasjien, bl 76)
Every thought starts over, so every expression of a thought has to do the same. Every accuracy has to be invented. I feel I am blundering in concepts too fine for me.
Ek wil nie verder blunder nie - daarom laat ek julle met drie stelletjies woorde van die onblusbare Taylor Swift (Fotostaatmasjien, bl 85)
I like the app where you can make your own memes. I make memes all the time and send them to my friends.
I’m always worried about everything. Like spiders.
You can’t be in love with a google search.
Dankie.
The post UJ-pryse 2017: Bedankingswoord deur Bibi Slippers appeared first on LitNet.