Die UJ-pryse 2017 is onlangs toegeken. Hier is Johan Myburg se commendatio oor John Miles se Op ’n dag, ’n hond.
Een van die grootste vreugdes wat kreatiewe skryfwerk ’n mens bied is om die meester aan die werk te sien: hoe hy of sy verbeelding inspan om verhaallyne te trek wat so heerlik vergesog-geloofwaardig is; hoe die skrywer karakters versin wat ’n mens in jou, of dan rondom jou, kan herken; en hoe die skrywer sy of haar ambag beheer, verruim, en bowenal sinne só strengel dat dié vaardigheid voorkom asof dit binne bereik van iedereen sou wees.
Maar ’n nóg groter vreugde van kreatiewe skryfwerk is wanneer dié skrywer die leser nooi tot kreatiewe leeswerk. Dit is wanneer die leser die keuse het om benewens die basiese verhaallyn en wat nie al nie, die skrywer agterna te lees op allerlei afdraaipaadjies wat uitloop op verbluffende vistas. Of suggesties van syspore wat wêrelde binne die teks laat oopval.
In ’n tyd “waarin inligting ’n sekonde ver is”, soos wat John Miles in Op ’n dag, ’n hond dit stel, is dit dié aspek wat aan kreatiewe skryfwerk ’n verdere dimensie gee. Bykans alles is google-baar. En Miles slaan lieflik munt uit dié moontlikheid. In wese is dié boek veel lywiger as net 255 bladsye. Reken jy al die verwysings na wêreldletterkunde, die visuele kunste, musiek, filosofie en die natuurwetenskappe in, sit jy met die uitgebreide werk wat Op ’n dag, ’n hond ís. In al sy verwikkeldheid. Verwikkeld soos wat Miles se romans nog altyd was. Neil Cochrane het al verwys na Miles se “komplekse” romans wat getuig van “oorwoë outeursinnovasie”.
Drie en twintig jaar nadat Buiteveld in 1993 verskyn het en daarna Voetstoots in 2009, verskyn Op ’n dag, ’n hond in 2016 – miskien as die laaste boek in ’n soort trilogie met verskeie raakvlakke. Die vernaamste hiervan dalk die drie hoofkarakters wat die leser telkens teëkom: In Buiteveld die jonger Smerski, ’n Portugese taalkenner; in Voetstoots die middeljarige tandarts August Lotz; en in Op ’n dag ’n naamlose man in sy 70’s.
Daarby het al drie pen in die hand: Smerski is benewens woordeboekmaker ook (onsuksesvolle) romanskrywer en samesteller van ’n bundel verse; August die tandarts stort hom ná die dood van sy vrou in ’n projek om die dagboek van ’n 18de-eeuse VOC-amptenaar gereed te kry vir publikasie; en die naamlose vertaler van sy vrou se boeke, voltooi ná haar dood haar nagelate en onvoltooide manuskrip. Louise Viljoen betrek die voorganger van dié trilogie, Kroniek uit die doofpot van 1991, as sy verwys na Miles se hoofkarakter as “skrywersfiguur wat die leser bewus maak van die feit dat hy besig is om ’n verhaal te maak van die werklikheid wat hy ervaar”.
In sy agtste roman vergestalt Miles sy naamlose hoofkarakter – ’n oudonderwyser “wat te oud is vir enige onderwysdepartement” met die bynaam Mr Windows en wat ook aangesien word vir ene Reineke – as ’n man met wysheid én boonop met die besef dat hy nie alle wysheid in pag het nie. ’n Man met ’n bra stoïsynse blik op die lewe wat hom in staat stel om te kan onderskei tussen dinge waarby hy kan ingryp, waaraan hy iets kan doen, teenoor dié goed waaroor hy nie beheer het nie.
Aan die hand van die titels van die boeke op die onderwyser se rak – die leser kry ’n blik op dié rak deur ’n gordynlose venster van die tuin se kant af – kom verskillende gedaantes van ’n ou man aan die hand van uiteenlopende skrywers aan die orde, en in verskillende kontekste: Hoe leef ’n mens nadat jy onreg oorleef het, soos verwoord deur Aharon Appelfeld; wat maak jy met die geheue van verlies wat jy gely het, soos verwoord deur Sándor Márai; wat maak jy as jy gedwing word om te reflekteer/onthou soos verwoord deur Per Petterson; as jy moeite het my jou gewete, soos Roberto Tabucchi dit beskryf. Dit is die leser wat dié verwysings opvolg, of as dit onbekend sou wees wat bereid is om ywerig te google, vir wie gordyne oopgetrek word. Hierdie lys kan ’n mens soveel langer maak: Daar is ook Adorno en Benjamin; HierdiLeopardi en Keats; Rilke en die heuningby, Kazantsakis en Paz en via Paz ook Ovidius.
Op haar beurt bring Bibi Burger in haar beoordelaarsverslag gepas die werk van die Booker-pryswenner Kazuo Ishiguro, veral soos in The Remains of the Day en Never Let Me Go, in berekening as aanduiding van die leser wat gelei word om saam met die verteller vir antwoorde te soek.
Dit is dan geheue, herinnering, die slytasie van onthou, verlies en gewete wat Miles verken terwyl sy onderwyser (met trekke van ’n fossiel) ’n greep probeer kry op sy omstandighede. Ná die dood van sy vrou – sy is vermoor in ’n aanval in hul huis in ’n kusdorp – word die onderwyser deur ’n oudleerling oorreed om aanvullende klasse te kom gee in die stad waar sy die skoolhoof is. Terugflitse roep nie net die onderwyser se verlede op nie, maar bied hom ook die geleentheid om ’n bestekopname van sy lewe te doen. Sy hart word as’t ware geweeg om sy lewenswaarde te bepaal. Ná ’n verwoestende storm maak die hond van die titel sy opwagting in sy klaskamer by die skool. Dit is dié verskyning van die hond wat die onderwyser se lewe en dus ook die verhaal in ’n rigting stuur.
Die roman is welig bevolk deur honde. En elke verwysing na ’n hond laat die leser se ore spits: Is dít die dag? Is dít die hond? Party van die honde word in die verbygaan genoem – hoewel die ervaring met van dié honde ingrypend en blywend is – terwyl ander name kry (soos Skoert en Mymer en Bluf). Party honde se eienaars is dalk belangriker as die honde (soos Schopenhauer se poedel). En dan is daar natuurlik Anubis, die hond wat ook ’n jakkals is.
In haar beoordelaarsverslag verwys Karin Cattell na “die verhouding tussen mens en dier, en in die besonder tussen mens en hond, wat ’n belangrike rol speel in die (her)bewusmaking van die leser dat die mens se optrede teenoor diere ’n morele grondslag het en as spieëlbeeld van menslike moraliteit dien. Dit het noodwendig ook gevolge vir die menslike lewe,” skryf sy.
Soos in sy vorige boeke manifesteer geweld, of eerder die reaksie op geweld, in Op ’n dag, ’n hond. Die leser kom geregtigheid wat wel geskied teë, maar eweso geknoeide geregtigheid. In ’n samelewing wat mank gaan aan geweld, misdaad en korrupsie, in die polisie, die onderwys en hospitale waar “ubuntu self ’n pasiënt is”, is Miles se roman eerder ’n lamentasie op ’n potensieel misleidende ligte trant oor die toedrag van sake, ’n filosofiese besinning wat tegelyk ook stoïsyns kalmerend is. Marcus Aurelius word by meer as een geleentheid aangehaal in die binneoor van die onderwyser: “Wees verdraagsaam, hoflik en nederig, onder alle omstandighede moedig, vermy beuselagtighede en verdra vryheid van spraak ...”
Miles is ’n knap storieverteller, maar dit is die interpretasiemoontlikhede wat hy deurgaans as moontlikhede laat (en wat nooit aan die leser opgedwing word nie) wat so aangryp.
Die kreatiwiteit wat Miles aan die dag lê, raak benewens metaforiese beelding ook sy woordgebruik. Met min, hand-uitgesoekte woorde, beskryf hy sy verhaal. Met ’n poëtiese ingesteldheid wat by tye die leesspoed laat afneem en ’n mens so ver kry om passasies te wil herlees.
By ’n prys waar kreatiewe skryfwerk die maatstaf is, staan Op ’n dag, ’n hond uit omdat Miles nie net in die skryfproses kreatiwiteit laat seëvier nie, maar ook in die leesproses.
Dit is vir my aangenaam om te versoek dat die 2017 UJ-prys vir kreatiewe skryfwerk in Afrikaans aan John Miles oorhandig word.
Johan Myburg
17 Mei 2017
- Fokusfoto van John Miles: Liné Enslin
The post UJ-pryse 2017: Commendatio oor John Miles se Op ’n dag, ’n hond appeared first on LitNet.