20th Century Women
Regie en draaiboek: Mike Mills
Spelers: Annette Bening, Lucas Jade Zumann, Greta Gerwig, Elle Fanning, Billy Crudup
Die groot misterie van vanjaar se Oscars is waarom hierdie film nie beter gevaar het nie. Dit het slegs ’n nominasie gekry vir beste oorspronklike draaiboek, terwyl Annette Bening op die minste ’n nominasie as beste aktrise verdien het. Greta Gerwig kon ook maar benoem gewees het as beste vroulike byspeler.
Die fliek speel af in die laat 1970’s in Santa Barbara, Kalifornië en is regisseur Mike Mills se terugblik op sy grootwordjare saam met sy eksentrieke ma, Dorothea (gespeel deur Annette Bening). Dit word feitlik in ’n dokumentêre styl vertel en daar is nie werklik sprake van ’n sterk spanningslyn nie – dis eerder die soort fliek wat op karakters fokus. Dorothea besit ’n kasteelagtige huis wat een groot restourasieprojek blyk te wees, wat sy benewens haar seun Jamie (Lucas Jade Zumann) deel met huurders Abbie (Greta Gerwig) en die restoureerder William (Billy Crudup). Jamie se effens ouer vriendin Julie (Elle Fanning) slaap so gereeld by hom oor (streng platonies, al is hy hopeloos verlief op haar) dat sy vir alle praktiese doeleindes ook ’n inwoner is. Wanneer Jamie vyftien word, begin Dorothea haar daaroor kwel dat sy hom nie “reg” grootmaak as man nie, dus roep sy Abbie en Julie se hulp in – met dikwels lagwekkende gevolge.
20th Century Women is nie ’n uitstaande fliek nie, daarvoor is die struktuur te los en rammelrig, maar dit het ’n groot, warm hart. Gaan kyk gerus.
Sterre: 3½
The post 20th Century Women: ’n filmresensie appeared first on LitNet.