Hier by ons in Huis Najaar praat mense in die alledaagse wandel nie juis oor die hiernamaals nie. Die verwisseling van die tydelike met die ewige is in enige ouetehuis redelik algemeen. Omdat sommige van ons inwoners nie doodseker is of die lewe na die dood vir hulle beter as die ondermaanse een gaan wees nie, vermy hulle enige bespreking van die onderwerp. Hier gesels almal eerder oor hulle pyne, siektes, operasies en allerlei werklike en gewaande geneesmiddels en behandelings. Dis asof ons almal die dag wat min of meer om die draai is, ignoreer en nie daarvoor wil beplan nie - as so iets ooit moontlik sou wees.
Sondag gebeur hier toe egter iets wat dié reëlmatigheid kortstondig versteur. Die gewone oggenddiens by die tehuis word deur ’n bejaarde besoekende predikant gelei en tot meeste van ons se verbasing wei hy in grafiese besonderhede uit oor die angswekkende oordeelsdag wat voor die deur is; hoe die skape van die bokke geskei sal word en dat dit gelukkig nog nie te laat is om ons te bekeer nie. Ek veronderstel ons besoeker het nie ’n kwade motief vir sy boodskap gehad nie – meer waarskynlik het hy bloot deur sy ou preke geblaai en gedink dié besondere een is gepas om die ou garde weer te laat besin.
Na die diens en tydens middagete is daar min reaksie op die vermaning. Iemand mompel agteraf dat hy hoop die tehuis hoef nie vir die preek te betaal nie. Dis al kommentaar. Maar dan moet ek ook sê dat daar normaalweg nie by Sondagmiddagetes tyd vir allerhande geselsies is nie. Die disse volg mekaar gewoonlik teen ’n spoed op, “want die personeel wil vroeg huis toe gaan.’’
Na dié vroeë middagete gaan ek sitkamer toe om soos gebruiklik ’n wyle op die gemaklike rooi leunstoel te sit en deur die koerante te blaai. Ek is alleen, want die ander kan gewoonlik nie wag om ’n rustige Sondagmiddagslapie in te kry nie. Die koerant is propvol vervelige transformasie en kolonialiseringstories en dit is nie lank nie voor ek self lomerig begin voel het.
“Sit jy maar net so, of dink jy dalk aan iets opwindends?” vra iemand langs my skielik. Toe ek gesteurd opkyk, sien ek een van ons aangenamer en aansienliker vroulike inwoners het haar op ’n gemaklike stoel langs my kom tuismaak.
“Ek weet nie juis of my gedagtes opwindend is nie,” sê ek versigtig, “maar ek peins oor die kerk, die dominee se preek en die hiernamaals.”
“So Jacobus, oorweeg jy dit nou uiteindelik om die vermanings ernstig op te neem en jouself te bekeer?” verneem sy belangstellend.
“As dit sou behels dat ek moet ophou om baie wyn te drink en met ’n begeerlike oog na vrouens soos jy te kyk, sien ek nie nou al daarvoor kans nie. Daar moet ’n makliker uitweg wees,” glimlag ek.
Sy laat haar nie van stryk bring nie. “Jy wil met jou sondige lewe volhard maar die ewige vuur van die hel, soos die dominee dit gestel het, vryspring.”
“Dis darem meer gekompliseerd! Sê nou maar daar is nie regtig ’n hemel of ’n hel nie en dat dit net ’n Bybelse vorm van beeldspraak is. Dan sou ek al my wêreldse plesiertjies in my laaste dae verniet opgeoffer het.”
“Maar,” sê sy dadelik, “jy kan nie honderd persent seker wees daar is nie ’n hel nie. Daar is ’n baie goeie kans dat jy verkeerd kan wees en dan sal jy vir ewig moet betaal!”
“Dis waaraan ek pas gedink het,” sug ek bedruk. “Wat ek regtig nodig het, is ’n betroubare versekeringsproduk. Iets waarvoor ek maandeliks betaal en wat my geloofwaardige vrywaring sal bied teen die moontlikheid dat die hel werklik bestaan. Maar, ongelukkig bied die kerke en die versekeraars nie tans so ’n innoverende opsie nie.”
Sy kyk my skepties aan. “Jy dink tog nie regtig dat die kerke ooit so ’n bedrogspul sal bemark nie – ’n versekeringspolis om die hel af te weer!”
“Dis nie onmoontlik nie,” sê ek. “Daar was ’n tyd toe jy in sekere kerke kon betaal om kwytskelding van jou sondes te kry – was dit nie net versekering om die warm plek te ontsnap nie?”
“Maar sal dit nie die einde wees van die kerk soos ons dit nou ken nie?” vra sy onseker.
“Dis dalk nie so ’n slegte opsie nie,” gaan ek ongesteurd voort. “Die kerkstruktuur oor die hele wêreld word onbetaalbaar duur. Dink net hoeveel geld word aan geboue spandeer en dan het ons nog al die dienaars van die kerke wat betaal moet word. Daar moet goedkoper en doeltreffender maniere wees om die bokke van die skape te skei! Die koerante sê juis alles moet transformeer en dekolonialiseer – selfs die kerke. So miskien is daar nog ’n geleentheid hier vir ’n ondernemende sakeman wat die risiko’s kan evalueer.”
“Wat het jy in gedagte?” verneem sy beleefd.
“Om ’n nuwe soort kerk hier in Suid-Afrika tot stand bring,” sê ek pront. “Ons kan dit Die Getransformeerde Kerk van Suid-Afrika noem. Wat uniek sal wees is dat hierdie kerk geen kerkgeboue, predikante of eredienste sal nodig hê nie. Die hele kerk sal bedryf kan word uit ’n enkele kantoor met ’n skootrekenaar en ’n koffiemasjien.
“Om aan hierdie opwindende nuwe generasie kerk te kan behoort,” vervolg ek, “sal jy vanselfsprekend moet behoorlik registreer (met al jou FICA-dokumente byderhand) en ’n voorafbepaalde maandelikse bydrae moet betaal. Die kerk weer, sal ’n geskikte toep vir selfone beskikbaar moet stel sodat almal gerieflik en tydig die stand van hul finansiële verhouding met die kerk kan naspeur. Dit sal ten alle tye krities belangrik wees om nie dié kerk geld te skuld nie, anders verval jou versekering!”
Sy verstaan nie mooi nie. “Dit klink darem baie vreemd. Hoe sal blote lidmaatskap van die kerk keer dat jy in die hel opeindig? As die kerk nie geloofwaardige resultate kan waarborg nie is dit mos niks anders nie as net nog ’n Ponzi-skema wat in die hof gaan beland.”
Hier moet ek lig loop, weet ek. “Waarborge is inderdaad problematies, maar nie onoorkomelik nie. Dis jammer dat daar ’n kommerwekkende gebrek aan deursigtigheid oor die hiernamaals is. Die Bybel gee weinig leiding hieroor. Daar is egter uiteindelik net twee alternatiewe scenario’s.
“Die eerste moontlikheid is dat daar ná die dood geen hemel of hel is nie. In hierdie geval het ons versekerde lidmaat, in ruil vir sy finansiële bydraes, groot vrede vir sy siel gekry toe hy nog gelewe het. Hy kon saans rustig slaap en hom nie oor die dood bekommer nie. Sy Getransformeerde Kerk het hom voorwaar alles gebied waarvoor hy gevra het en hy het goeie waarde vir sy geld gekry.”
“Maar sê nou maar aan die ou einde van die dag, soos Naas sou sê, is die dood inderdaad nie die einde van die storie nie?” vra sy dadelik.
“Die antwoord is meer gekompliseerd en vereis nogal verbeeldingskrag,” erken ek huiwerig. “Kom ons veronderstel ek kom tot sterwe. As daar lewe na die dood is, moet ek iewers wees. Dink aan ’n groot ruimte, iets soos ’n lughawe se vertreksaal waar daar voortdurend nuwe reisigers (afgestorwenes) aankom. Meeste van hulle is stokoud en sukkel om oor die weg te kom. Al die aankomelinge word so gou doenlik administratief geprosesseer om chaos te voorkom. Daar is duidelike aanwysings op groot elektroniese kennisgewingborde wat nuwe aankomelinge maan om dadelik te registreer en ek val ook in die lang tou in.
“Uiteindelik word ek bedien deur ’n aantreklike jong dame. Om die vereiste profiel van my vir hulle databasis te skep, benodig sy al die gewone inligting: volle name, laaste permanente adres, ID-nommer, epos-adres en naaste familielid. Die inligting word spoedig in die rekenaar gevoer en dan kry ek ’n nuwe identiteitskaart vir die hiernamaals.
“Daarna val ek weer in ’n lang tou by die volgende toonbank waar skeptiese personeel in donker uniforms (soos doeanebeamptes) elke aankomeling ondervra en evalueer. Hulle besluit of jy hemel of hel toe gaan en daar is geen appèl moontlik nie.
“Toe ek mettertyd aan die beurt kom, moet ek eers my ID oorhandig. Dit word in die rekenaar gevoer, wat ’n beknopte intelligensieverslag lewer. Die nors amptenaar oorweeg die inligting vlugtig. Hy sê hy benodig meer besonderhede oor hoe dit met my kerksake staan. Dis dán wat ek my selfoon te voorskyn haal, op die Getransformeerde Kerk se toep klik en dit aan die amptenaar oorhandig. ‘Ten volle opbetaald,’ sê hy dan tevrede. ‘Baie professioneel. Jy kwalifiseer maklik vir ’n groen stempel op jou kaart. Volg die groen roete.’ Van daar af is daar inderdaad twee roetes. Die rooi roete gaan met ’n lang roltrap na ’n laer verdieping. Ek sidder as ek dink waar dit eindig. Die groen roete lei ook na ’n roltrap, maar dié een gaan boontoe. Aan die bopunt van die roltrap is daar ’n groot, ondeursigtige glasskuifdeur – soos by die aankomssaal van ’n lughawe. Wanneer die deur oopskuif, sien ek baie mense wat met groot afwagting saamdrom om onlangs afgestorwe vriende en familielede te kom ontmoet. Party hou plakkate met die name van geliefdes in die lug. Ander staan entoesiasties gereed met kameras.
“Ek wonder senuagtig of ek iemand sal herken. Sê nou al my gestorwe geliefdes is dalk met die rooi trap af? Was dit nie vir die Getransfomeerde Kerk nie sou ek seker ook daaronder in die hitte van die stryd beland het ...
“Gelukkig sien ek gou iemand wat hulpvaardig lyk. Op sy lapel staan dat hy van die Openbare Skakelafdeling is en ek sê dadelik vir hom dat ek ’n nuwe inkommer is. Waarheen nou?” vra ek.
“Gelukkig hóéf jy nie êrens heen te gaan nie,” lig hy my in. “Ons logistieke reëlings hier is weliswaar ietwat lukraak maar op een of ander manier werk dinge tog sonder veel moeite. Die kultuur hier is amper soos dié van Nieu-Zeeland. Almal gehoorsaam die reëls en aanvaar dat daar nooit iets opwindend sal gebeur nie. Gelukkig het die Kiwis darem rugby om verveeldheid teen te werk.”
Sy antwoord prikkel my belangstelling. “Kry julle darem nuusdekking hier oor die ondermaanse rugby?”
“Hoegenaamd nie. Volgens ons gedragsreëls word rugby en dans gesien as swak verskonings vir allerlei onheilighede. Terloops, hier is vir jou ’n kopie van ons nuwe hersiene en bygewerkte reëlboek.” Hy skuif ’n lywige dokument in my rigting. Op die voorblad is ’n hemelse foto met dié gepaste logo: Niks om te doen of jou oor te bekommer nie. En vir ewig tyd daarvoor!
Ek voel ’n benoudheid in my opstoot. En ek het nogal my premies so gereeld betaal ...
Teetyd kry geskokte inwoners oom Jacobus op die rooi leunstoel.
“Hy’s dood,” bevestig die suster wat aan diens is.
Almal kyk met groot oë na die eienaardige, beswaarde uitdrukking op sy gesig.
“Lyk asof hy na die verkeerde plek toe is,” fluister iemand later agterlangs.
The post Die rooi leunstoel appeared first on LitNet.