Dakar is ’n stad in Senegal. In Suid-Afrika is “Dakar” ’n vreemdsoortige mite.
Dertig jaar gelede het 61 Suid-Afrikaners, waarvan die meeste Afrikaners, sonder die sanksie van die Nasionale Party-regering na Dakar gegaan om die verbanne ANC te ontmoet.
Navorsing sou toon dat tussen 1983 en 1989 die Dakar-ontmoeting die 70ste uit altesaam 176 kontaksituasies tussen Suid-Afrikaners en hul verbanne ANC-landgenote was.
Die gemene doelwit by al die vergaderings wat met of sonder staatsondersteuning of wete in Lusaka, Harare, Londen, Amerika en Europa gehou was, was om oor ’n toekomstige nuwe Suid-Afrika te praat.
Met die aankoms van ons manne en vroue in Dakar is die, glo, ietwat onthutse, bangerige Suid-Afrikaners deur die Senegalese president as New Voortrekkers bestempel. Tuis het die owerheid die groep useful idiots genoem, en die merendeels Afrikaanse media was besonder snedig oor die besoek.
Die AWB het protes gehou toe die Dakargangers van hul erkenningstog terugkeer. Die gangers self was benoud oor die ontvangs tuis. Theuns Eloff sou ook genoop gevoel het om liewers ná Dakar as dominee in die Gereformeerde Kerk te bedank.
Met 'n amperse Bybelse klinkende beskrywing sou die Dakargangers ook as Dakariete beskryf word; wat hulle gesê en gedink het sou Dakariaans word.
Op 24 en 25 Junie 2017 op Stellenbosch vergader ’n aantal oud-Dakariete op uitnodiging om te besin oor die politieke, ekonomiese en sosio-kulturele Suid-Afrika na 2019; en ook oor die lesse geleer uit die ’87 besoek.
Die inisiatief vir daardie besoek is deur Frederik van Zyl Slabbert, Alex Boraine en Breyten Breytenbach gereël met sterk ondersteuning van Danielle Mitterand se Liberte Foundation en ’n skeptiese George Soros se geldelike hulp. By die dertigjarige herdenking is voorgestel dat ’n blywende monument vir Van Zyl nodig is. Inderdaad het die Universiteit Stellenbosch ’n Frederik van Zyl Slabbert Instituut.
Met die intrapslag by die konferensiesentrum in die landelike/deftige Spier het een Dakariet (André Odendaal) die vergadering dadelik met die gewone lamentasie bevraagteken: as onder meer ’n klomp ou witmanne wat met mekaar praat. (Daar was twee baie duidelik nie-wit ou manne ook: die Pahad-broers Aziz en Essop.)
Toe gevra is om die aard van die vergadering te beskryf; ’n herdenking, seminaar, dialoog, konferensie, het Breyten eenkant geprewel “a wake”. Later sou hy instrumenteel wees in die ontploffing wat die “wake” kwaai lewe sou gee.
Die Burger se redakteur Willem Jordaan het die vergadering ’n regstelling genoem oor die versuim van, onder meer, Die Burger om dertig jaar gelede die besoek na behore te takseer.
Die Burger was toe ook ’n belangrike organiseerder van die onlangse reünie.
Die program was so ingedeel: twee sessies oor politiek in die post-2019 Suid-Afrika en dan oor die betekenis van radikale ekonomiese transformasie. Daarna sou die vergaarders kans kry om die rugby te kyk. Die volgende dag sou die Dakariete die sosio-kulturele situasie en toekoms van die land bespreek.
Hierdie plan sou later blyk heeltemal verkeerd te gewees het. Kon die Dakariete se waakengele maar gewaarsku het dat “sosio-kultuur” ’n bom sou baar. Dat dit dalk sou gehelp het om die rugby ná die sosio-kultuurgesprek te kyk. Maar nee, die duiwel was reg om los te breek onder die klomp “ou wit- en twee swartmanne” toe hulle op ’n helder en skoon Sondagoggend weer sou ontmoet om oor sosio-kultuur te besin.
Tog het die pre-rugby gesprekke wel op syn Dakariaans interessant verloop, met onder meer ’n ernstige waarskuwing van Aziz Pahad dat die ANC sou kon skeur. Dat ’n Arabiese lente op hande kon wees. (Later sou Christo Nel glo sê dat SA eerder ’n Arabiese herfs gaan beleef waarna dit alleen winter kan word.) Essop Pahad het gewaarsku teen ANC-bashing onder die aanwesiges en om ook nie oor moontlike nuwe faksies te praat nie. Dit na Max du Preez die verlies van, en nou verlange na ’n UDF uitgespreek het. Niemand het hulle aan Essop gesteur nie.
Sakeman Jabu Mabuza het toe reeds gepraat oor die nodigheid om die “give, give” verwagtinge onder die nasie te beëindig. Die kapitalis Leon Louw was vurig oor ’n kapitalistiese radikale ekonomie en stel tog ook later voor dat staatsentiteite soos SAL hul aandele bloot aan die “mense” moet oorgee.
Tommy Bedford is optimisties dat “Dakar” wel baie goed vir rugby was. Blykbaar het die “ANC” (tereg) geglo dat ’n goeie deurbraak na Afrikanerharte sou deur rugby kon geskied.
Toe kom “sosio-kultuur”. Ons diepste probleem. Nou praat jy ras, taal en geld, bevoorregting, onreg, skuld, beskuldiging, verontskuldiging. Nou praat jy die tien plae in ons land: Suid-Afrika en sy leierskap; sy minagting van moederonderwys, en, ja Afrikaans wat uit universiteite geweer word (Ampie Coetzee herinner die ou gangers dat die volgende taal- verwerping op skole gaan kom). Jy praat oor werkloosheid, verskriklike armoede. Breyten beklemtoon die krisis waarin die land en die wêreld verkeer. Die kamertemperatuur styg.
Aziz Pahad wou weet waarom die sosio-kultuuronderwerp nie vroeër op die program was nie. Hy het luide ondersteuning gekry. Hy, en ander, wil nie oor Afrikaans praat nie. Hulle wil oor nie-rassigheid praat, oor die groot probleme.
Kennelik was die enigste Afrikaans geuiter deur die deurtrapte aktivis André Odendaal toe hy die onrustige vergadering in Xhosa, Afrikaans en Engels groet voor hy Breyten onder meer van ’n “stream of consciousness” beskuldig het en prof Heribert Adam se sterk pleidooi vir introspeksie afmaak. Breyten het hom bedank vir die “kompliment”.
Dit het laat geword. Mense moes vliegtuie haal. Andrew Boraine het alreeds gesê die krisis in die land is ’n gebrek aan samehorige denke. Dis ook duidelik dat samehorige denke nog nie gevind is onder die Dakariete nie. Maar die drif vir idees en indrukke bly dringend.
Peter Gastrow, politikus wat hy in wese is, het die finale voorstel gemaak: om ’n verdere konferensie/seminaar/dinkfees te hou met sosio-kultuur as die eerste onderwerp op die program.
Dit het gelyk of die “ou wit- en twee swart manne” beslis kans sien. Gou ook, het Gastrow voorgestel, voordat hier net manne in rolstoele opdaag.
Geen verklaring is uitgereik nie. Baie insigte, waarskuwings, navorsing, diep denke en selfs drome is by die konferensie/regstelling/“wake” geuiter. Die gees van Dakar blyk tog nog meer as ’n mite te wees. Die eens vermaledyde gangers is steeds, dalk steekse, tog ernstige denkers.
Lees ook:
Van Dakar tot Stellenbosch 30 jaar later Jean Oosthuizen "’n Hewige bekgeveg het die afgelope naweek tydens die laaste gesprek van die seminaar losgebars toe Breyten Breytenbach ’n knuppel in die hoenderhok gegooi het. In sy laaste toespraak het hy skerp te velde getrek het teen die huidige stand van sake in die land." |
The post Die “gees” van Dakar leef voort (ook met verskille) appeared first on LitNet.