Enigiemand wat sedert 31 Maart ’n draai op sosiale netwerke gemaak het, sou iewers ’n post, twiet, pin of hutsmerk oor die Netflix-reeks 13 Reasons Why (of Th1rteen R3asons Why, soos dit ook geskryf word) gesien het. Hulle sou ook gesien het dat talle kykers hul na die internet gewend het om hul uiteenlopende menings oor die reeks te deel en deel te neem aan die hewige debatte rondom die inhoud daarvan.
Die meeste nuusberigte bevat ’n kort opsomming van die reeks: ’n Hoërskoolleerder, Hannah Baker, neem haar eie lewe. Sy het vooraf ’n reeks van 13 kassette met klankopnames gemaak oor die redes vir haar selfdood. Elkeen van die kassette is opgedra aan ’n persoon wat ’n aandeel in haar redes gehad het. Die kassette word aangestuur sodra elkeen van die mense al die kassette geluister het. Die kassette gee die karakters en die kykers ’n blik op Hannah se ervarings sedert sy en haar gesin verhuis het, haar aanpassing by die nuwe skool en die reeks gebeure wat haar uiteindelik oortuig het om haar lewe te neem.
Die hoofargument wat talle nuusberigte voer, is dat die morele aspek van Hannah Baker se weerwraak bevraagteken moet word, en dat die reeks selfdood verromantiseer en kykers aanmoedig om hulself seer te maak.
Ek gaan poog om die uiteenlopende hoofargumente wat in die media voorkom uiteen te sit ten einde ’n gebalanseerde oorsig van die verskillende menings te bied. Die lys van meningsartikels wat geraadpleeg is, verskyn onder aan die artikel.
Dit is noodsaaklik om ook te noem dat, vanweë die sensitiewe aard van die onderwerpe, ’n objektiewe standpunt aan die kant van enige verslaggewer of kritikus byna onmoontlik is.
Wie is die teikengroep van die reeks?
Volgens IMDB het die reeks ’n TV-MA-ouderdomsbeperking. Dit beteken dat die program bedoel is vir volwassenes en nie geskik is vir kinders onder die ouderdom van 17 jaar nie. Programme met hierdie ouderdomsbeperking is bekend daarvoor dat dit tonele met eksplisiete seksuele en/of gewelddadige inhoud bevat.
Op Netflix se eie webtuiste sê hulle dat die ouderdomsbeperking 16+ is, dus word senior hoërskoolleerders daarby ingesluit. Hulle beskryf ook die reeks as “Emotional, suspenseful, dark”.
Die problematiek rondom hierdie beperkings is dat die reeks in ’n hoërskool afspeel. Die karakters is jonk, die omgewing maklik om mee te vereenselwig. Dit gee hoërskoolleerders rede om te dink dat dit geskik is vir hulle om te kyk, ongeag hul emosionele intelligensie of vlak van ontwikkeling. Lizette Rabe is van mening dat die reeks gerig is op ’n “jong teikenmark” en dat die reeks moontlik skade aan “ontwikkelende en reeds brose psiges” kan berokken.
As die ouderdomsbeperking in ag geneem word, sou ek wel dink dat tieners van die bedoelde teikengroep reeds aan stressors en trauma blootgestel is – of dit nou in die werklikheid of in ander televisiereekse was. Hulle behoort ook reeds te kan onderskei tussen werklikheid en fiksie.
Die probleem is egter dat tieners nie altyd by ouderdomsbeperkings hou nie.
Wat is die belangrikste temas wat in die reeks aangeroer word?
Afknouery (bullying), middelmisbruik, verkragting, selfdood, mishandeling, groepsdruk, selfbesering, posttraumatiese stressindroom, homoseksualiteit, misdaad.
Is die program se inhoud eties?
Die belangrikste vraag wat in hierdie opsig ontstaan, is of dit “reg” is om ander te blameer vir jou gemoedstoestand en uiteindelike selfdood.
Lizette Rabe spreek haar sterk uit teen die reeks en etiketteer dit as “waarskynlik een van die siekste onderwerpe vir ’n reeks wat tot nog toe deur ’n vervaardiger uitgedink is”.
Ek wonder wel of mense se ongemak met die skielike dialoog rondom selfdood, depressie, selfbesering, verkragting, mishandeling en alkohol- en dwelmmisbruik onder tieners nie sommige mense by ’n punt bring waar hulle die etiek van die reeks bevraagteken nie. Hierdie dinge is nie maklik om te sien nie en nog moeiliker om oor te praat. As onderwerpe mense ongemaklik maak, deins hulle terug van ’n debat en verkies dat hulle denkraamwerk nie bevraagteken word nie.
Betreffende die wyse waarop Hannah ander vir haar selfdood blameer, is dit geldig om te sê dat dit nie regverdig is om diegene wat agterbly, met daardie skuldgevoelens te laat nie. As mens egter verby die ooglopende na die implisiete kyk, kan mens wel erken dat elke persoon deur sy of haar optrede of woorde ’n noemenswaardige impak op iemand anders se gemoedstoestand kan hê. Hoe kon Hannah wegstap van die skinderstories, stalkers, vernedering in die openbare oog, rugstekery en verkragting sonder om vir ewig daardeur verander te wees?
Is daar ’n gevaar dat kykers meer geneig sal wees tot risikogedrag, selfbesering of selfdood na hulle die reeks gekyk het?
Lizette Rabe noem in haar artikel dat depressiegevalle by klinieke gestyg het sedert die reeks uitgesaai is.
Mens moet versigtig wees om hier ’n oorsaak-gevolg-scenario te sien waar daar miskien nie een is nie. Mens moet in ag neem dat elke kyker tot die reeks toetree met ’n sekere geskiedenis en samestelling van karaktertrekke. Enige reeks het die vermoë om “triggering” te wees indien jy byvoorbeeld ’n traumatiese ervaring gehad het wat daarin uitgebeeld word. Indien jy reeds depressief gevoel het voor jy die reeks gekyk het, is daar ’n kans dat jy jou kon vereenselwig met die karakters se ervarings, wat dan jou gemoed kon beïnvloed het. Dieselfde geld vir die ander traumatiese ervarings wat in die reeks uitgebeeld word. In daardie opsig sou ek dink dis positief as gevalle waar depressie aangemeld is, gestyg het. Dit kan beteken dat mense al ’n tyd lank met iets worstel en nou uiteindelik besluit het om die hulp te soek wat hulle nodig het.
Baie kommentators is bekommerd dat die reeks daartoe sal lei dat adolessente Hannah se aksies sal na-aap, of dat hulle sal dink dis ’n waardige ding om te doen. Dit geld vir beide haar selfdood en die kassette waarin ander tot groot skade vir haar aksies kwalik geneem word. Jennifer Wright noem tereg in haar artikel dat tieners kan dink dat hulle in die dood vir ewig jonk, mooi en geliefd sal wees en die vermoë het om ander se lewens te beïnvloed. Hulle kan ook dink dat hulle dan gehoor sal word – en al wat hulle moet doen, is om op te hou asemhaal.
Die na-aping van gedrag wat in films, videospeletjies en op die televisie voorkom, is kommerwekkend en het al baie navorsing tot gevolg gehad. Dit is ’n probleem op sy eie en hierdie aspek van die reeks vorm dus deel van ’n baie groter diskoers.
Is die visuele materiaal te ontstellend vir die teikengroep? Word traumatiese ervarings met die nodige sensitiwiteit uitgebeeld?
In hierdie opsig het Brian Yorkey, wat betrokke was by die maak van die reeks, kommentaar gelewer in “Beyond the reasons”, Netflix se agter-die-skerms-insetsel oor hoe die reeks se skeppers storie benader het. Hy sê: “We worked very hard not to be gratuitous, but we did want it to be painful to watch because we wanted it to be very clear that there is nothing, in any way, worthwhile about suicide.”
Volgens hierdie insetsel het die vervaardigers beraders op stel gehad wat die akteurs deur traumatiese tonele gelei het en hulle gehelp het met die emosionele sy daarvan. Die beraders het ook insae in die skryfproses gehad.
Is dit voordelig of nadelig dat psigiese steurnisse in die media uitgebeeld word?
Rabe noem in haar artikel dat dit belangrik is dat selfdood bespreek word – dit moet net op die regte manier benader word. Sy sê egter dat een kommentator (waarvan die bron ontbreek) skryf dat die komplekse psigiese siekte wat selfdood tot gevolg het, in die reeks vereenvoudig is en dat daar nooit eksplisiet melding gemaak word van die teenwoordigheid van depressie nie.
Ek stem saam dat sensitiwiteit uiters belangrik is wanneer psigiese steurnisse betrokke is. Ek wonder egter of die woord “depressie” en die eksplisiete melding daarvan enige verskil aan die boodskap sou maak. Kykers kan sien hoe Hannah deurlopend meer negatief word, haarself isoleer, emosioneel reageer op alledaagse gebeurtenisse en hoe sy stadig maar seker ’n donker plek in haar gemoed nader. In die woord “depressie” lê daar baie stereotipes en stigmas opgesluit, en ook baie wanpersepsies. Dis soms gevaarlik om iets ’n naam te gee en die risiko te loop dat dit oor die gehoor se koppe sal gaan. Uit die visuele uitbeelding van die verandering in iemand se gemoedstoestand kan die kyker miskien meer dinge wys raak oor die emosionele lading wat op die sentrale karakter se skouers rus.
Elle Hunt haal in haar artikel die uitvoerende hoof van Lifeline, Pete Shmigel, aan. Hy sê dat daar tekortkominge is met die verslaggewing van selfdoodgevalle in die media: die sterftes word dikwels toegeskryf aan “no suspicious circumstances”. Hy sê dat die geheime kode in die verwysing na selfdood nie van enige nut is nie en dat dit stigmas verder bestendig.
As ’n algemene riglyn moet die kyker insig in sy of haar eie gemoedstoestand hê. As jy deur ’n traumatiese ervaring soos verkragting is, sal jy byvoorbeeld vooraf weet dat flieks soos Dis ek, Anna (2015) of Precious (2009) jou sal ontstel en dat dit wys sal wees om eers seker te maak jy is emosioneel op die regte plek voor jy dit kyk.
Watter tipe terugvoer het die reeks in verskillende sfere ontvang?
Op IMDB (1 Junie 2017) het die reeks uit 97 072 beoordelings ’n gemiddeld van 8,6 uit 10 sterre.
Op Rotten Tomatoes (1 Junie 2017) het die reeks uit 2 667 beoordelings ’n gemiddeld van 4,2 uit 5 sterre.
Uit hierdie gemiddeldes is dit duidelik dat kykers baie meer positief op die reeks gereageer het as die media, wat byna deur die bank kritiek uitgespreek het. Die reeks is in die algemeen goed ontvang in die sosiale media.
Word genoegsame inligting verskaf vir waar om hulp te kry?
Die reeks se amptelike krisiswebwerf het ’n soekfunksie waar jy jou land kan kies en dan die beskikbare hulpbronne in jou land kan raadpleeg. Vir Suid-Afrika verskaf die soekfunksie byvoorbeeld SADAG (Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep) se besonderhede. Die reeks self doen dus ’n goeie ding deur mense te ondersteun wat die reeks kyk (al is Rabe van mening dat die skeppers van die reeks nie begaan is oor die skade wat hulle aanrig nie). Die hulp wat gebied word, is meer as wat ander grusame, grillerige en gewelddadige reekse en films ooit bied.
Is Hannah Baker se storie ’n uitsondering?
Mense is geneig om uitsprake te maak oor die selfsugtige aard van Hannah se kassette en hoe sy ander mense se lewens drasties verander en nie meer daar is om die nadraai van haar aksies in die gesig te staar nie. Dit is belangrik om bewus te bly daarvan dat (1) die reeks fiktief is en (2) Hannah se storie ’n uitsondering is vanweë die vermaaklikheidsrol wat dit moet vervul.
Om dit nog verder te neem: elke tiener is uniek. Twee tieners kan dieselfde reeks gebeure ervaar; een sal daarvan wegloop en die negatiwiteit as ’n leerkurwe sien en ’n gesonde en gebalanseerde lewe lei, terwyl die ander eenvoudig nie sal kan opstaan nadat die lewe hom gepootjie het nie.
Lizette Rabe maak die uitspraak dat “eksterne oorsake of omstandighede – dinge wat met enigiemand kan gebeur” – nie gesoek moet word wanneer selfdood ter sprake is nie. Ek dink tog dat elke mens die produk is van al sy of haar vorige ervarings. Al kan ’n verkragting met enigiemand gebeur, beteken dit nie dat so ’n traumatiese ervaring nie ’n invloed op die slagoffer se psigiese welstand het nie.
Kristi Hugstad noem dat Hannah se situasie veral in een opsig nie so onrealisties is soos mens sou hoop nie: dat Hannah se berader by die skool, haar onderwysers en haar liefdevolle ouers nie die tekens gesien het nie. Sy glo ook dis ’n algemene tendens dat ouers, onderwysers en beraders dikwels nie toegerus is om in te gryp wanneer hulle die tekens sien nie. Hopelik kan hierdie aspek van die reeks lig werp op die noodsaaklikheid van opvoeding oor psigiese steurnisse en ander probleme waarmee adolessente worstel.
Wat staan ouers te doen?
Ouers moet eerstens reeds eerlike gesprekke met hul kinders hê en hulle aanmoedig om oor dinge te praat waarmee hulle gekonfronteer word tydens hul tienerjare. Verder noem die maatskaplike werker Dori Mages in ’n onderhoud met Jackie Pilossoph dat dit wys sal wees om jou kind se persoonlikheid, geaardheid en vlak van volwassenheid te peil en seker te maak die reeks is nie iets wat die betrokke kind te veel sal ontstel nie. Kritiese denke moet aangemoedig word en kinders moet dit nie kyk net omdat hulle nuuskierig is nie.
Twee kinders kan dieselfde reeks kyk en heeltemal verskillend daarop reageer.
Terselfdertyd is daar ook baie volwassenes wat risikofaktore mag hê en sleg op die reeks kan reageer, terwyl ander dit kan kyk en genoeg afstand daarvan kan kry om te verseker dat hulle emosionele welstand nie beïnvloed word nie.
Dit is ook wys om die Parents Guide op IMDB te lees. Dit gee ’n episode-vir-episode-uiteensetting van die tonele waar seks, naaktheid, geweld, kru taal, alkohol, dwelms, rook en angswekkende of intense beelde voorkom.
Die meeste van die artikels beklemtoon dat hierdie reeks ’n goeie wegspringplek vir ouers is om sekere gesprekke met hul kinders te hê. Die dinge waaraan tieners blootgestel word, is baie swaar en ouers is dikwels nie bewus van al die maniere waarop hul kinders hul onskuld verloor nie. Deur met hulle te praat oor moeilike onderwerpe, maak jy dit duidelik dat hulle na jou toe kan kom met enige probleem en dat julle saam deur al die gepaardgaande emosies en reaksies kan werk.
Ouers moenie wegskram van hierdie gesprekke omdat dit hulle ongemaklik maak nie. Die werklikheid is nie gemaklik nie en dis belangriker dat ouers die kommunikasiekanale moet oophou. Buitendien bied die reeks ’n blik op die wêreld van tieners en kan dit vir ouers waardevolle insig in hul kinders se lewe gee. Iets soos die teenwoordigheid van kuberboelies was nie ’n probleem toe vandag se adolessente se ouers daardie ouderdom was nie. Net omdat hulle dit nie verstaan nie, beteken dit nie hulle moenie daaroor praat nie.
Dori Mages stel voordat jy met jou kinders praat oor wat hulle sou doen as hulle in Hannah se skoene was. Sy meen dis ’n goeie les om hulle te leer dat hulle, voor dinge handuit ruk, met jou as ouer, ’n onderwyser of ander betroubare persoon moet gesels. Leer hulle ook dat hulle moet volhou met hul storie totdat iemand bereid is om daarna te luister.
Ten slotte
Hannah se storie hou ’n dieper betekenis in: dat ons ons storie moet vertel, en ook bereid moet wees om na mekaar s’n te luister voor dit te laat is.
Die meningsartikels wat geraadpleeg is tydens die skryf van die artikel:
- “13 redes waarom reeks oor selfdood nie goeie idee is” deur Lizette Rabe, Netwerk24
- “Column: 13 Reasons Why prompts tough talks with kids on suicide, depression” deur Jackie Pilossoph, Chicago Tribune
- “One big reason 13 Reasons Why is failing our teens” deur Kristi Hugstad, Huffington Post
- “Netflix’s controversial 13 Reasons Why gets a second season” deur Bethonie Butler, Washington Post
- “Bullying: The forgotten lesson in 13 Reasons Why” deur Paul Coughlin, Fox News
- “Schools superintendent: Students are harming themselves and citing 13 Reasons Why” deur Valerie Strauss, Washington Post
- “13 Reasons Why tells teens they’re beter off dead” deur Jennifer Wright, New York Post
- “Schools issue stark warning to parents that Netflix suicide drama 13 Reasons Why could be triggering for students WHO are ‘already looking for a way out’” deur Naomi Ackerman, Daily Mail
- “13 Reasons Why ‘not helpful’, suicide prevention summit told” deur Elle Hunt, The Guardian
The post 13 Reasons Why: enkele argumente appeared first on LitNet.