Vaselinetjie deur Anoeschka von Meck word vanjaar op 22 September op die silwerdoek vrygestel. Die verwerking is gedoen deur René en Corné van Rooyen, met regie deur Corné van Rooyen.
René en Corné werk al vir ’n paar jaar in die filmbedryf. René het onder andere in 2012 kykNET se Silwerskermfees gewen met haar kortfilm, Nantes. Sy was ook die draaiboekskrywer en regisseur van Mooirivier.
Corné was in 2016 die regisseur van Sy Klink soos Lente en in 2014 was hulle medeskrywers en vervaardigers van Hollywood in my Huis.
Von Meck se boek, wat ook voorgeskryf is vir graad 11 leerders, handel oor ’n meisie, Helena Bosman (Vaselinetjie) wat by haar bruin ouma en oupa woon en dan weggestuur word omdat sy wit is. Deur alles wat die lewe haar kant toe gooi, leer ken sy wie sy werklik is.
Sosiale media het Vrydag (19 Mei) omtrent gegons toe Vaselinetjie se amptelike plakkaat vrygestel is.
Ek het met ’n paar mense wat betrokke is by die film gesels om bietjie meer daaroor uit te vind.
Corné van Rooyen
Waarom Vaselinetjie?
Toe ek die eerste keer Vaselinetjie in 2005 gelees het, was ek so diep geraak deur die storie en sy karakters - dit was my grootse droom om eendag ’n film oor die boek te maak, maar ek was ongelooflik bang vir die grootheid, sensitiewe onderwerp - om met ’n klomp kinders te werk wat moet vloek, fight en sulke erge dinge beleef. Dis ervaringe buite my eie verwysingsraamwerk . Nadat ek my eerste film, Hollywood in my Huis in 2013 gemaak het, het ek besluit om my vrese aan te pak en het Vaselinetjie vir kykNET voorgelê om die filmweergawe aan te pak. ’n Week later het hulle my gebel en gesê dat dit ’n groen lig is ... Ek moes eers gaan skottelgoed was om terug te kom aarde toe!
Waarna kan gehore uitsien?
Die sterkste element in Vaselinetjie (die film) is die rolspelers en spel. Ek en René het ’n jaar voor die tyd begin met oudisies regoor die land. Ons was in die Noord-Kaap, Kaapstad, Gauteng en Durban ─ en na ons oor die 5 000 kinders gesien het, het ons besluit op die perfekte rolverdeling. Vir byna 80 % van die spelers in Vaselinetjie is dit hul eerste keer voor die kamera ─ hulle is vir ons die regte mense, wat so na as moontlik aan die karakters is.
Was dit moeilik om Von Meck se boek vir film te verwerk?
Die verwerking van die draaiboek het rondom ’n jaar en ’n half gevat. Dit was seker die moeilikste ding ooit! Die storie van die boek is so ongelooflik mooi en ek het tot die besef gekom dat Vaselinetjie die sterkste vertel word binne boekformaat ─ maar hoe om dit in ’n draaiboek te skryf, daarvoor moes ek en René redelik van die boek se gebeure afwyk om die storie ook vir die grootskerm te maak werk. Ons het die karakters en gebeure ons eie gemaak, nes Anoeschka ook ’n diep persoonlike verhouding met haar storie se karakters gehad het.
Die belangrikste vir my was om so na as moontlik te bly aan die storie se temas, siel en hart. Dit gaan daaroor dat daar ’n groter doel met ons lewens is (nog voor ons gebore was), dit maak nie saak hoe jy in die lewe gekom het of waar jy vandaan kom nie - ons almal het ’n plek in die lewe, maar dis ons reis om dit te vind en na te streef ... Vaselinetjie gaan oor ’n meisie wat ten spyte van haar toekoms en haar tyd in die kinderhuis haar eie doel en plek in die lewe vind.
Marguerite van Eeden (19) wat tans ’n tweedejaarstudent in Geesteswetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch is, maak haar debuutverskyning in die fliek. Van Eeden, wat ook onlangs te sien was in Sara se Geheim op kykNET, het eers Drama en Teaterstudie studeer en toe oorgeskuif na Geesteswetenskappe.
Hoekom het jy vir die film ’n oudisie gedoen?
Toe ek 13 of 14 was het ek van Hollywood in my Huis gehoor. Ek het op René en Corné se webtuiste gegaan [Red Letter Day Pictures] en gesien hulle gaan Vaselinetjie in ’n fliek maak, toe dog ek ek wil graag daarin speel! Ek het hulle ge-epos en het my agent gevra ek wil daarvoor ’n oudisie doen. En so twee of drie jaar later het hulle begin oudisies hou en ek het gegaan!
Waarna sien jy uit vir wanneer Vaselinetjie begin wys?
Ek sien uit daarna om na skole toe te gaan en te hoor wat mense gedink het, met watter karakters skoolkinders kon relate en hoe dit dalk hul lewe verryk het.
Ek sien ook uit daarna dat mense Corné en René se goeie werk kan sien en beleef watter besonderse mense hulle is, nie net in die filmbedryf nie, maar ook as mense. Die hele span het baie hard gewerk ... grimering, die kunsafdeling en al die akteurs.
Hoekom dink jy is dit belangrik dat Vaselinetjie se storie vertel word?
Dit is ’n belangrike storie vir ’n paar redes. Dit gaan nie net oor Vaselinetjie se lewe nie – dit kan wees vir mans en vroue. Aan die einde van die dag moet sy vrede maak met wie sy is en vanwaar sy kom. Dit maak nie saak wat jou agtergrond is nie, jy moet vrede maak. En dit is moontlik om bo jou omstandighede uit te styg. Al Vaselinetjie se moeilike tye maak haar sterker.
Dit vertel universele stories – die ander karakters gaan ook deur baie stuff. So daar sal iets in die film wees vir almal. Wie ook al die fliek kyk, gaan in een van die karakters iets vind waarmee hulle kan relate. Of hulle lag of huil, of kwaad gaan wees, dit is ’n cool fliek vir Suid-Afrika. Dis waar, dis nie kru nie en die onderwerpe is eg.
Amptelike persverklaring:
Vaselinetjie, Anoeschka von Meck se bekroonde jeugboek, word in September vanjaar as film vrygestel.
Vaselinetjie (Helena) Bosman, wie al sedert die boek se eerste vrystelling in 2004 in die harte van lesers kruip, woon by haar liefdevolle ouma en oupa in ’n piepklein dorpie in die Noord-Kaap. Op 10-jarige ouderdom word sy egter na ’n weeshuis in Gauteng gestuur omdat sy wit is en nie haar bruin oupa en ouma se regte kleinkind nie. Dit is 1993, Suid-Afrika staan op die kruin van onherroeplike verandering en soos die land verander, so ook word Vaselinetjie in die vreemde, ongenaakbare en gevaarlike wêreld van die weeshuis ’n jong vrou.
Vaselinetjie is ’n film oor die soeke na identiteit en die lang pad na oorlewing om te ontdek wie jy werklik is; ’n huldeblyk aan die krag van die menslike gees, die mag van liefde en ons vermoë om ten spyte van alles wat teen ons saamsweer te triomfeer.
Vaselinetjie is tot draaiboek verwerk deur Corné en René van Rooyen, met Corné ook as regisseur van die film. Saam was die paartjie ook medeskrywers en -vervaardigers van die film ‘Hollywood In My Huis’ wat in 2014 vrygestel is. René was die draaiboekskrywer en regisseur vir ‘Mooirivier’ (2015) en Corné was op sy beurt die regisseur van ‘Sy Klink Soos Lente’ (2016).
Nicole Bond en Marguerite van Eeden maak hul silwerskermdebuut onderskeidelik as jong en ouer Vaselinetjie Bosman. Rolverdeling sluit ook in Arno Greeff, Elzet Nel, Elani Dekker, Marise Loots, Anchen du Plessis, Daniah de Villiers en veteraanakteurs Royston Stoffels en Shaleen Surtie-Richards.
Vaselinetjie, vervaardig deur Danie Bester en Saskia Schiel, is vanaf 22 September 2017 landswyd in teaters te sien.
Sosiale media skakels
Facebook: https://www.facebook.com/Vaselinetjie
Twitter: https://twitter.com/vaselintjiefilm
Instagram: https://www.instagram.com/vaselinetjiefilm
The post Vaselinetjie, die film: ’n onderhoud appeared first on LitNet.