Quantcast
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20678

Martin Luther herdenk na 500 jaar: deel 1

  1. Die hervormer Martin Luther van Wittenberg

Martin Luther was die absolute stigter en grondlegger van die Duitse Christelike kerkhervorming en ook die seminale figuur wat die dwalende Rooms-Katolieke Kerk uit die Donker Middeleeue na die ware oorspronklike evangeliese lig gelei het. Trouens, sy hervorming het grondige neerslag gevind ver buite die grense van sy moederland, ook volstrek in Suid-Afrika. Hy was ‘n kloostermonnik, ’n diep-gelowige priester, ‘n geleerde teologiese professor en die komponis van ‘n bundel voortreflike geestelike liedere om by eredienste gesing te word. Leiers soos hy verskyn selde in die geskiedenis van die mensheid om die alledaags aanvaarde totaal te omvorm, ondanks sy eie persoonlike swakhede.

Martin was die seun van Hans Luder (of Ludher/Luther) en sy vrou Margaretha (née Lindeman). Hy is op 10 November 1483 op Eisleben in Sakse gebore en die volgende oggend reeds as Rooms-Katoliek gedoop op die feesdag van die Heilige Martin, die biskop van Tours en ‘n beskermheilige van Frankryk wat reeds in 397 oorlede is

Die volgende jaar, in 1484, het Martin se vader na Mansfeld verhuis waar hy ‘n pagter (huurder) geword het by ‘n kopermyn met sy eie smeltery. Martin Marty, een van Luther se biograwe, het Martin Luther se moeder beskryf as ‘n hardwerkende vrou uit die middelklas. Luther se vyande sou haar later nydiglik as ‘n hoer beskryf wat by die openbare baddens gewerk het – tipies van die ongegronde, neerhalende, teologiese debatte van die tyd. Martin het etlike broers en susters gehad, van wie sy broer Jakob die naaste aan hom was (Martin Marty, Martin Luther, Viking Penguin, 2004, bl 3).

  1. Die vooropvoeding van Martin Luther

Martin se vader het hoë aspirasies vir sy oudste seun gekoester, en wou gehad het dat Martin hom as regsgeleerde moes bekwaam. Hy stuur hom toe ook in 1497 na die Latynse skole van Mansfeld en Maagdenburg (en wel die Katedraal Skool aldaar) en die volgende jaar, in 1498, skryf hy hom verder by Eisenach in vir die Trivium-onderrig in grammatika (met die insluiting van die Grieks-Latynse klassieke letterkunde), die retoriek (kuns van welsprekendheid) en die argumentatiewe toepassing van die suiwer logika. Luther het later in sy lewe hierdie studiejare van hom as “die vagevuur” (purgatorium) en “die Hel” beskryf. Maar dit was die aangewese tug vir die intellek van die jongman.

In 1501, op die ouderdom van 19 jaar, het Martin hom ingeskryf by die Universiteit van Erfurt in Oos-Duitsland. Erfurt was ‘n stad wat reeds in die 14de eeu sy groot bloeityd beleef het. Hierdie Erfurt sou later, na Luther se hervorminge, die getuienis dra van ruim 90 Christelike kerke en kapelle wat daar opgeskiet het. Napoleon I het in September-Oktober 1808 daar ‘n kongres gehou saam met tsaar Alexander I van Rusland en ook vele ander Duitse vorste, wat as magsdemonstrasie bedoel was voordat hy hom teen Spanje sou keer. Luther het hier hard studeer – hy is reeds om vieruur in die oggend wakker gemaak om te begin studeer en godsdienstige “stiltetyd” te hou. In 1505 het hy hier sy meestersgraad verwerf. Later sou hy egter hierdie universiteit as ‘n “bier- en hoerhuis” beskryf (Marty, op cit, bl 4).

Martin het wel, ooreenkomstig sy vader se wese, in die regte gaan studeer, maar dit was nie in sy eie aard om opgelei te word om wit-swart te moet praat nie. Die regspleging vereis dat jy ook skuldige mense se saak moet verdedig, waar die absolute waarheid dan relatief word, iets waarmee die jong Martin hom nie kon vereenselwig nie. Martin het na vaste sekerhede in die lewe gesoek, en besluit om eerder verder in die teologie en die filosofie te gaan studeer. Hy was veral beïndruk deur die oud-Griekse wysgeer Aristoteles (vir wie die Skolaste in die 12de eeu herontdek het, en wat meer prakties-empiries georiënteerd was), asook deur William van Occam in Surrey, Engeland (ongeveer 1300–1349). Laasgenoemde was ‘n Fransiskaan en Oxford-geleerde, “Doctor Invincibilis”, wat toe nooit sy MA ontvang het nie, maar dié nominalis van die tyd was wat Plato se Ideë slegs as flatus vocis beskou het – net name (nomina) wat nie werklik dinge (res) verteenwoordig nie: vandaar dan die dg Occam’s razor – om “universalia” weg te sny wat nie bestaan nie. Plato se notiones universae het nie vir Occam bestaansreg gehad nie. Hy was ‘n kritiese en onafhanklike denker. Hy het geloof en rede in godsdiens geskei, en aan geloof alleen die attribute van God gekoppel. Die wil (en nie rede nie) van God was vir hom die oorsaak van alle dinge. God het dinge deur sy wil laat ontstaan, nie omdat dit as sodanig goed is nie, maar omdat alles tog goed is omdat dit sy wil was. Dit kan, paradoksaal genoeg, die skepping van die Bose deur God self verklaar: die balansering van die positiewe met die negatiewe in hierdie enkel en enigste werklikheid waarin ons leef. ‘n Mens weet wat goed en reg is alleen as jy ook weet wat verkeerd, sleg en boos is. Ons ken die lig van die dag teenoor die duister van die nag – ‘n ewige filosofiese waarheid. (Sien hier SU Zuidema, De Philosophie van Willem van Occam in zijn Commentaren op de Sententiën, in twee volumes, Hilversum, 1936. Die Sententiae van Petrus Lombardus (ong 1100–1160) bevat ‘n reeks sistematies-geordende teologiese uitsprake en opinies van godgeleerdes in die Middeleeue, in vier boekdele, saamgestel as handboek vir kerklike gebruik (veral afkomstig van Augustinus van Hippo in Afrika) wat agtereenvolgens oor (1) God die Skepper, (2) die mens as skepsel van God, (3) die verlossing deur Jesus Christus, en (4) die heilige sakramente van die Kerk handel.)

Ook die filosofie as sodanig het Martin helaas nie bevredig nie. Dit was vir hom te spekulatief met te veel onsekere relativisme daarin. Luther wou sekerhede hê van die (responsiewe) liefhebbende God self, waarheen Aristoteles se louter rede hom nie (soos by Thomas Aquinas in sý grootse Summa Theologica) kon lei nie.

  1. Martin Luther word ‘n priester van Jesus Christus en professor in die heilige godgeleerdheid op Wittenberg

Martin Luther se besluit om uiteindelik net in die teologie te gaan studeer, het hy geknoop aan ‘n skrikwekkende ervaring wat hy beleef het. Op 2 Julie 1505 was hy van sy ouerhuis te perd terug op pad na Erfurt. ‘n Hewige donderstorm het losgebars en die bliksemstrale het die aarde naby hom getref. Hy was bang dat dit die einde van sy lewe sou beteken en dat die oordeel van God dan sou volg terwyl hy nog nie seker was dat hy gered is nie. Hy het toe luid uitgeskree: “Help my, Santa Anna! Ek sal ‘n kloosterling word” (Martin Brecht, Martin Luther, vert James L Schaaf, Fortress Press, Philadelphia, 1985–1993, vol I, bl 48). Luther het sy gelofte nagekom, die regsfakulteit verlaat, al sy regshandleidings verkoop, en hom op 17 Julie 1505 by die Augustiniaanse Klooster op Erfurt gaan aanmeld (EG Schwiebert, Luther and his times, Concordia Publishing House, Sint Louis, 1950, bl 136). Martin se vader was erg ontsteld oor sy begaafde seun se besluit, wat vir hom ‘n vermorsing van geld beteken het.

Martin het hom nougeset gewy aan die reëls en verordeninge van die Augustynse Klooster. Hy het ure lank in gebed verkeer, sy sondes voor God bely, gevas, en pelgrimstogte onderneem. Hy het hierdie periode in sy lewe beskryf as een van diepe geestelike wanhoop. Hy het gevoel dat hy kontak met Christus, sy Verlosser, verloor het, wat hom die tronkbewaarder en laksman van sy eie siel gemaak het (James Kittelson, Luther the Reformer, Augsburg Fortress Publishing House, Minneapolis, 1986, bl 79). Johann von Staupitz, sy opsiener en later professor in godgeleerdheid aan die Universiteit van Wittenberg, het hom egter daarop gewys dat selftoegediende marteling en straf hom nie sal red nie, maar dat hy eerder innerlike van hart moet verander, en dink aan die grootse meriete wat Jesus Christus namens hom vir hom verwerf het (Le Roy Edwin Froom, The prophetic faith of our Fathers 2, Washington DC, Review and Herald Publishing Association, 1948, bl 249). Luther het veral Paulus se briewe bestudeer, asook die geskrifte van mistieke skrywers soos Johann Tauler (ong 1300– 1361), die Dominikaanse priester wat gedurende die Swart Dood van 1348 in sy vaderland soveel hulp as moontlik verleen het.

In 1507 is Martin Luther as priester georden. Hy het gereed in sy latere lewe na homself bly verwys as ‘n priester (uit Grieks presbúteros, ‘n ouderling as kerkamptenaar), selfs nadat hy op Wittenberg professor in die godgeleerdheid geword het. Hy het die volgende jaar (1508) vir Johann von Staupitz as professor in die teologie op Wittenberg opgevolg. Hy het sy baccalaureus-graad in Bybelstudies op 9 Maart 1508 ontvang, asook ‘n verdere baccalaureus-graad in Petrus Lombardus se Sententiae in 1509 (Martin Brecht, op cit, vol I, bl 93).

Wittenberg is ‘n Oos-Duitse stad aan die Elberivier in die distrik Halle. Dit is vandag beroemd om die 95 stellings wat Luther op 31 Oktober 1517 teen die deur van die Schlosskirche (kasteelkerk) in die stad vasgespyker het. Vanaf 1423 was dit die woonplek van die Wetteners, ‘n oud-Duitse dinastie. Hulle het hierdie hertogdom met keurvorstelike waardigheid in besit bekom (Otto Posse, Die Wettiner van 1897).

In 1510 het Luther Rome besoek. Dit was vir hom ‘n ietwat ontgogelende ervaring wat later ‘n daadwerklike uitwerking sou gehad het. In Mei 1512 was hy egter weer terug in Wittenberg, waar hy lesings aangebied het oor die sedekunde en natuurkunde van Aristoteles.

Op 19 Oktober 1512 is die graad doktor in die teologie Luther toegeken, en op 21 Oktober 1512 het hy in die senaat die Fakulteit Teologie van die Universiteit Wittenberg verteenwoordig – die pos waarin hy Johann von Staupitz opgevolg het en wat hy vir die volgende byna 34 jaar, tot sy dood, beklee het. Elf kloosters is ook onder sy toesig geplaas in die regio van Sakse en Thuringia.

  1. Die verkoop van aflaatbriewe deur die Rooms-Katolieke Kerk

In 1516 is die Dominikaanse priester Johann Tetzel as afgevaardigde van pous

Leo X na Duitsland gestuur om aflaatgeld in te samel – lede van die Rooms-Katolieke Kerk kon sertifikate koop wat hulle eendag sou vrywaar van straf in die hel. Hierdie gebruik het al in die 11de eeu begin. Dit was ‘n slim manier wat die owerhede van die kerk uitgedink het om geld mee te bekom, want almal het die hel se vuur gevrees as straf vir hul sondes. In 1095 het pous Urbanus II reeds só geld in Frankryk ingesamel vir die eerste kruistog. So het die kerk dan ‘n fonds (thesaurus ecclesiae) opgebou waardeur hulle tot hulself uiteindelik kon verryk. Pous Sixtus IV sou in 1475 selfs aflaatsertifikate vir die redding van gestorwe geliefdes uit die vagevuur (pergutorio) verkoop het. Die kerk sou hierdeur sy bemiddelende voorbede gepleeg het vir die aanvraers daarvan. Die aflaatsertifikaat was ‘n “blanko tjek vir verlossing” in geval van doodse nood. Hierdie uiterste wanpraktyk in die kerk is eers finaal op 16 Julie 1562 met die Konsilie van Trente (sessio XXI) stopgesit.

Die beginsel van die praktyk van die verkoop van aflaatbriewe deur die kerk was die volgende: ‘n mens kom tot bekering (metánoia, om tot ‘n ander insig te kom) wanneer jy die evangelie van Jesus Christus en sy soendood teen betaling aanvaar, met die onmiddellike sekuriteit dat al jou sondes op rekord dadelik vergewe is. Maar die swakke menslike natuur sal hom weer laat sondig. En daarvoor moes hy weer en weer vergifnis verkry. In die vroeëre Middeleeue het die gebruik toe ook reeds ontstaan dat die sondaar net sy sondes aan ‘n priester kon bely wat hom dan verseker het: “Ego te absolvo” (“Ek spreek jou vry”). Veral vir doodsondes, soos egbreuk, moord en afgodediens, het ‘n sondaar iemand meer, ‘n geordende priester, nodig gehad om namens hom vergifnis van sondes te vra, eerder as om net na sy eie binnekamer te gaan en God te vra om hom te vergewe. Sogenaamde sakerdotalisme (die bemiddellende optrede van ‘n priester wat na belyer-verborge belydenisse geluister het) het toe oorgeneem. En die weg vir indulgentia as “gunsbewysende geskenk” vir die priester was oop. Die vergifnis van sondes het drie elemente behels, naamlik: (1) contritio cordis, die “fynmaal van die hart”; (2) confessio oris, die “belydenis per mond”, en (3) satisfactio operis, die “voldoening aan goeie werke”.

Johann Tetzel, vir wie pous Leo X nou na Duitsland gestuur het om afkoopgeld vir sondes te gaan preek en in te vorder, was ‘n dominante figuur: groot, sterk, met ‘n forse stem, en tien jaar se ondervinding daarby. Natuurlik het skinderstories dit gehad dat hy die vader van ‘n buite-egtelike kind in Leipzig was. Pous Leo het die geld nodig gehad vir die herbouing van die Sint Petrus-basilika in Rome. Regverdiging, het Tetzel gepredik, bestaan uit die aktiewe liefdadigheid vir goeie werke (fides caritate formata): vgl Konsilie van Trente, cessio VI van 13 Januarie 1547. En geld vir die kerk sal daarvoor sorg.

Dit was net hier waar Martin Luther nie meer saam met sy gewete kon bly leef het asof alles in orde was nie. Vanaf 1510 tot 1520 het hy aan die Universiteit van Wittenberg lesings gegee oor die eksegese van die psalms, die Hebreërbrief, Romeine en Galasiërs. Hy het tot oortuig geraak dat die kerk nou die pad dogmaties kwytgeraak het met die bedrieglike, verfoeilike en laakbare verkoop van aflaatbriewe. Luther het naamlik tot die gevolgtrekking gekom dat die mens alleen deur die genade van God van sy sondes vergewe kan word, en dat geen geld dit kan koop nie, en dat geen mens dit ooit kan verdien nie. Regverdigmaking kom alleen deur die geloof (pístei of dià písteôs, in Grieks; sola fide in Latyn) in Christus Jesus as die Ou-Testamentiese plaasvervangende offer vir sy oortredinge (soos ook John Wycliffe en William Occam van Engeland dit gehad het). En hierdie regverdiging van die mens is voorbeskik vanaf die grondlegging van die wêreld (predestinasie, van Latyn praedestinatio) waarin die mens geen vrye wil het nie (contra Desiderius Erasmus se geskrif hieroor in 1524). Dit het ook ingedruis teen die eietydse opvatting dat gelowiges regverdiging verkry in samewerking (sunergese) met God.

  1. Vergifnis van sonde deur die geloof alleen en nie deur goeie werke nie

Luther het sy argument van goddelike vergifnis gegrond op die eksegese van Efesiërs 2: 8-10: “Want uit genade is julle gered (tê[i] chárití [dativus instrumentalis] este sesôsménoi [perfektum van voltooide handeling met ‘n durende resultaat]), deur die geloof (dià písteôs [vir pístei]), en dit nie uit julleself nie (kaì toûto ouk eks humôn): dit is die gawe van God (Theoû tò dôron [< dídômi, “ek gee”]); nie uit die werke nie (ouk eks érgôn [met ou as negatief van die werklikheid, teenoor, die negatief van die hipotetiese]), sodat niemand mag roem nie (hína [wat hier ‘n gevolgsin inlei, een van die sowat 14 afsonderlike funksies daarvan in die NT, waarin dit 663 keer gebruik word: vgl Nick Pretorius se doktorale tesis by my aan die US in 1985] mê kauchêsetai). Want ons is sy maaksel (autoû gár esmen poíêm [‘n poiêtês is ‘n “skepper” of “digter”), geskape in Christus Jesus (ktisthéntes en Christô[i] Iêsoû [datief van sfeer soos in Sanskrit]), tot goeie werke (epì érgois agathoîs [doel uitgedruk deur epí, “met die oog op”), wat [hoîs: attraksie van die relatief – dit moes ‘n akkusatief van die direkte voorwerp gehad het] God [self] voorberei het (proêtoímasen ho Theòs [vgl Jupiter, Jovis, Zeus < Sanskrit dyach, “dag”, “lig” vir OT Jahweh]), sodat ons daarin kan wandel (hína en autoîs peripatêsômen [“rondloop” – soos Aristoteles in sy “Peripatetiese” Skool/Gimnasium in Athene). Luther het geleer dat die Christen tot regverdigheid kom volkome van buite homself. Christus self (deur louter en alleen die geloof in Hom) laat die sondige mens tot regverdigheid kom, eerder as dat hy daarmee deur sy eie self besiel word. Luther se sentrale ontdekking dat verlossing en regverdigmaking van die mens alleen deur Jesus Christus kan kom, en dat dit nie met geld gekoop kan word of deur sy eie goeie werke bekom kan word nie, het die sentrale hoeksteen vir die Hervorming gelê. Sy sterk geloof was vir hom “getrooste vertwyfeling”, is al opgemerk.

  1. Luther se 95 stelling vasgespyker aan die deur van die Schlosskirche in Wittenberg op 31 Oktober 1517

Op die middag van 31 Oktober 1517 het Martin Luther sy 95 stellinge van oortuiging in die evangeliese dogma en leer gaan vasspyker aan die deur van die Schlosskirche in Wittenberg, waar hy ook gepreek het, vergesel van sy assistentprediker Johann Schneider van Eisleben, ook Agricola genoem (na die naam van die Latynse geskiedskrywer Tacitus se skoonvader). Dit is moontlik dat hierdie stellinge, of tesisse, eerder gedruk was as dat dit met die hand uitgeskryf was. Hy het niemand vooraf van sy voorneme verwittig nie. Die aanplak van sulke akademiese dokumente op die kerk se hoofingang was ‘n algemene eietydse praktyk. Luther wou blykbaar nie gehad het dat die keurvors van Wittenberg vooraf daarvan moes weet nie. Tog het hy op dieselfde dag briewe aan Albert van Mainz, wat ook die aartsbiskop van Maagdenburg was, en biskop Hieronymus Schultze van Brandenberg, geskryf (en ‘n gedrukte afskrif van sy stellings daarby ingesluit). Hy het by die aartsbiskop gepleit om Johann Tetzel nie toe te laat om aflaatbriewe daar te kom verkoop nie. Dit was vir hom ‘n onkompromitteerbare saak van gewete en beginsel.

Luther het met die aanspyker van sy stellinge geensins die idee van ‘n groot hervorming wat op pad was, in gedagte gehad nie. Inteendeel, hy wou die Rooms-Katolieke Kerk net laat wakker skrik uit sy dogmatiese slaap van etlike eeue wat so hoogs onskriftuurlik was.

Vir die teks van Luther se 95 stellinge kan óf die Weimar-uitgawe (van 1883 vervolgens) van sy Versamelde Werke, óf die Erlangen-uitgawe (van 1826 vervolgens) daarvan geraadpleeg word.

In sy eerste tesis het Luther baie bondig verduidelik presies wat hy onder “berou van sondes” verstaan. Boetedoening was vir hom nie ‘n sakramentele handeling nie. Dit het slegs vir elke individu afsonderlik gegeld. Die pous kan nie iemand se sonde vir hom vergewe nie; hy kan alleen bevestig dat God alleen dit self sal kan doen (tesis 6). Die enigste straf waaraan die pous kan toegee is dié onder die kerkorde, en dit sluit nie die vagevuur in nie (tese 5). God hou wel die priesters verantwoordelik vir die vergifnis van die sondes van hul kerklede (tese 7). Kanonieke strawwe geld alleen vir die lewendes, want dit kan nie vir die vagevuur uitgestel word nie (tesisse 8–19). Die pous kan niemand van straf vir sonde uit die vagevuur verlos nie (tesisse 2–29). Die pous kan alleenlik versagting van straf vir dié in die vagevuur verkry deur vir hulle met gebed in te tree (per modum suffragii). Dit is ‘n blote menslike stelling dat sodra die muntstuk in die kis klink, die saligheid in die vagevuur wink (tesisse 26 en 27). Wat dan is die verhouding tussen die aflaatstelsel (waar vergifnis gekoop word) en ware berou oor sonde (tesisse 30–40). Diegene wat glo dat hul saligheid gewaarborg is deur aflaatsertifikate, sal alleen maar die ewige verdoemenis ingaan (tese 32). Iemand kan nie deur die aflaatstelsel met God versoen raak nie, want dit is geheel onevangelies en onchristelik (tese 35). Ware berou ontvang vergifnis van straf op sonde gepleeg, en maak daarom afkoopbriewe van nul en gener waarde (tesis 36). Dit is onmoontlik vir die mees geleerde van teoloë om afkoopbriewe vir straf sonder ware berou (met gewetenswroeging) aan te beveel vir sondige mense (tese 39). Ware geloof bely straf, terwyl afkoopbriewe dit probeer verhoed (tese 40). Afkoopbriewe staan in kontras met goeie werke, want ware berou en afkoopgeld staan vir teenoorgesteldes (tesisse 41–52). Om jou naaste lief te hê en aalmoese uit te deel is beter as om afkoopbriewe na te streef (tese 43). Daardie mense wat weinig te spaar het, moet nie hulle geld op afkoopbriewe uitgee nie, maar moet eerder daagliks vir hulleself sorg (tese 48). Afkoopgeld het waarde alleen as jy nie daarop hoef te vertrou nie (tese 49). Ons moet eerder vir die pous bid as om hom ons afkoopgeld vir hom te laat kry (tese 48). Ek sou eerder die Basilika van Sint Petrus in Rome in ruïnes wou sien lê, het Luther gesê, as dat dit gebou word met die “velle van my skape” (tese 50). Om die evangelie van Jesus te verkondig is baie belangriker as om afkoopgeld te predik (tesisse 52–55). Die skat van die kerk (thesaurus ecclesiae) bestaan nie uit sy aardse rykdom nie, en ook nie uit die verdienste van Jesus en die heiliges nie, maar die ware “skat van die kerk” is sy mees heilige evangelie van die glorie en genade van God (tese 62). Die verkondiging van afkoopgeld vir oortredinge weerspreek die evangelie van Jesus Christus (tesisse 69–80). Waarom is die vagevuur van minder belang as dit by geld kom – suiwer uit die liefde daarvoor (tese 82)? Waarom word die reëls vir berou oor sonde, wat reeds afgeskaf is, tog as waardig oorweeg vir afkoopgeld (tese 85)? Hoekom herbou die pous, wat ryker is as die skatryk Crassus (Marcus Licinius Crassus, gebynaamd “Dives, die Ryke”, eertydse Romeinse veldheer en staatsman) die Basilika van Petrus nie met sy eie geld nie (tese 86)? Luther sluit dan sy stellinge af met vier kragtige tesisse waarin hy die gees van die Teologie van die Kruis van Jesus bybring: “Weg met al daardie profete wat vir die mense sê: ‘Vrede! Vrede!’”, en daar is geen vrede nie (tese 92). Vervloek is al daardie profete wat vir die mense van Christus Jesus sê: “Die kruis! Die kruis!”, en daar is geen kruis nie (tese 93). Die Christene moet aangemoedig word om ywerig te wees in hulle navolging van Jesus Christus, hulle Hoof deur straf, dood en die hel heen (tese 94). Wees vol vertroue om die hemel (werklik) binne te gaan, eerder as om op die valse sekuriteit van (‘n) sogenaamde vrede te vertrou (tese 95).

Martin Luther was ‘n geweldig emosionele mens wat soms gegrens het aan die melancholiese. Soos ons reeds gesien het, het hy in 1505, midde-in ‘n verskriklike donderstorm te perd op pad na Erfurt, belowe om ‘n monnik te word as God hom sou spaar, want hy was onseker oor sy heil. Tussen 1512 en 1515 het hy weer sy Turmerlebnis (“Toring-ervaring”) beleef waarin hy ewe skielik die ervaring in homself ondervind het van die reddende genade van die evangelie van Jesus Christus, en dat hierdie redding nie deur goeie werke (dade) bekom kan word nie, maar enkel en alleen deur die geloof in Jesus Christus as Verlosser van die sondige menslike siel.

  1. Luther begin met hervorming van die Christelike kerk

Luther se hervorming kan aan twee hoofelemente geknoop word: (1) dat die mens alleen deur die soewereine genade van God, en wel deur in die offerdood van Jesus Christus te glo, die ewige saligheid kan bereik; en (2) dat geen mens sy saligheid kan verdien deur goeie werke nie, nog minder deur dit met aflaatgeld te koop – wat toe al ‘n ou praktyk in die Rooms-Katolieke Kerk was.

Onvoorwaardelike geloof was vir Martin Luther die belangrikste. Die sondige siel moet glo in die soendood van Jesus Christus en dit sy eie maak. Hy moet glo dat Jesus vir sy sondes plaasvervangend gesterf het en weer uit die dode opgestaan het (Lukas 24:34, “Die Here het waarlik opgestaan!’); dat Jesus die “lam” was wat daarvoor volgens OT- gebruik geoffer is (Johannes 1:29) omdat Hy ons almal, wat “soos skape gedwaal het”, se ongeregtighede op Hom geneem het (Jesaja 53:6); en dat Jesus werklik die offerlam was wat deur God gestuur is (Johannes 1:37 – “Ide ho Amnòs toû Theoû – Kyk, die Lam van God!”) om vir ons versoening te bied deur sy bloed (Romeine 3:25, en tô[i] auitoû haímati). Ons ontvang dit alles gratis sonder enige verdienste van goeie werke wat ons gelewer het. Ons moet net daarin glo. En God gee, deur sy groot genade, selfs hierdie geloof om te kan glo: Romeine 1:17 – ek písteôs eis pístin – om “deur geloof tot geloof” te kom! Dit is hier waar soveel mense “faal” wat buite die uitverkiesing (predestinasie) lê, volgens Luther – ‘n leerstuk met sy eie ernstige probleme, wat alleen metafories (en nie letterlik nie) te interpreteer is.

Aartsbiskop Albrecht van Mainz en Maagdenburg het nie geantwoord op Luther se brief met die 95 stellinge daarby nie. Hy het dit wel na Rome gestuur om vir kettery ondersoek te word. Hy het egter die geld uit afkoopbriewe dringend nodig gehad om die pous te betaal vir sy ampsbekleding. Maar soos Luther later opgemerk het, het die pous ook self ‘n aandeel daarin gehad, want hy wou die Sint Petrus-basilika herbou.

  1. Luther vlug uit Augsburg

Pous Leo X was teen hierdie tyd al gewoond aan hervormers en ketters (Richard Marius, Luther, Quartet, Londen, 1975), en het met groot sorg langsaam opgetree. Vir ‘n volle drie jaar daarna het hy hard probeer om Luther tot ander insigte te bring, deur byvoorbeeld die Dominikaanse teoloog Sylvester Mazzolini aan te sê om eers ‘n saak van kettery teen Luther op te stel. Die elektor (keurvors) Frederick het die pous egter oorreed om Luther by Augsburg te laat ondervra waar ‘n Ryksdag vir drie dae in Oktober 1518 sou plaasvind, en waar kardinaal Cajetan die pouslike legaat moes wees om Luther oor die kwessie van die aflaatbriewe te pak. Die verhoor het egter in ‘n oor-en-weer-geskree ontaard. Luther se konfrontasie met die pous en sy kerk het finaal geword. Cajetan se oorspronklike instruksies was om Luther in hegtenis te laat neem as hy met sy standpunt sou volhou en nie sy stellings terugtrek nie. Maar Cajetan het hom eers daarvan weerhou. Luther, wat die gevaar waarin hy verkeer het, maar te goed verstaan het, het in die donker van die nag uit Augsburg gevlug.

  1. Luther in Leipzig teen Johann Eck

In Januarie 1519 het die pouslike nuncio (aankondiger), Karl von Miltitz, nogeens versoening probeer werkstellig. Luther het tog sekere toegewinge gemaak en belowe om stil te bly as sy opponente dieselfde doen. Die teoloog Johann Eck was egter vasbeslote om Luther se “ketterye” in ‘n openbare forum aan die kaak te stel. In Junie en Julie 1519 het hy met Luther se kollega Andreas Karlstadt op Leipzig ‘n vergadering gereël en Luther oorgenooi om sy saak te kom stel (Roland Bainton, Here I stand: A life of Martin Luther, Penguin, New York, 1995, bl 82). Luther het die pous se argument by Matteus 16:18 (“Jy is Petrus (Pétros) en op hierdie rots (pétra) sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie”) as geheel eensydig verwerp, en aangevoer dat enige Christen die eksklusiewe reg het om die evangelie krities op sy eie wyse te interpreteer volgens sy eie gewete en insigte. Dit sou ook geld vir kerklike vergaderinge en konsilies, wat nie onomkeerbare uitsprake kan lewer nie. Hierop het Eck vir Luther as ‘n uiterste ketter gebrandmerk en hom vergelyk met Jan Hus van Boheme wat vir sy ketterye op die brandstapel in Praag moes sterf. Van daardie oomblik af het Eck hom voorgeneem dat dieselfde lot vir Martin Luther moes wag (GR Elton, Reformation Europe: 1517–1559, Collins, Londen, 1963, bl 177).

  1. Luther verbrand sy ekskommunikasiebul en publiseer drie anti-Roomse pamflette

Op 15 Junie 1519 het die pous Martin Luther met sy bul (edik) Exsurge Domine gewaarsku dat hy die risiko loop om uit die kerk geëkskommunikeer te word tensy hy al sy dwalinge binne 60 dae herroep. En dit het sy 95 stellings aan die deur van die Schlosskirche ingesluit. Johann Eck het dit ook op Meissen en ander Duitse dorpe bekendgemaak. Luther self het die pouslike bul op 10 Desember 1520 in die openbaar buite die Elsterpoort in Wittenberg verbrand (saam met RK-kerklike wetboeke) nadat hy reeds in Oktober vir die pous ‘n kopie gestuur het van sy pamflet oor die Christen se vryheid. Dit het ‘n groot indruk op sy studente en volgelinge gemaak. ‘n Man van die daad, is gereken.

In 1520 het Martin Luther sy bande volkome met die Middeleeuse Rooms-Katolieke Kerk gebreek, waartydens hy drie gevierde hervormingsgeskrifte die lig laat sien het, naamlik (1) An den christlichen Adel deutscher Nation, waarin hy die Duitse prinse aangemoedig het om die hervorming van die Christelike kerk in eie hande te neem, geldelike bydraes aan Rome te staak, die selibaat vir priesters te laat vaar, asook misse vir die dodes en pelgrimsreise, om die relikwieë van die heiliges aan te raak (soos ook ‘n stukkie van die rots waarvandaan Jesus ten hemel sou gevaar het in Jerusalem), saam met baie ander RK-praktyke van die dag; (2) Von der babylonischen Gefangenschaft der Kirche, in Latyn uitgegee as De Captivitate Babylonica Ecclesiae, waarin hy wys op hoe die leek deur die RK-kerklikes gevange gehou was, en dat hy net die eucharistie/nagmaal en die doop as sakramente erken; en (3) Von der Freiheit eines Christenmenschen, waarin hy weer die vrymaking van die Christen deur sy geloof alleen bespreek, vry van enige goeie werke om só die ewige geluksaligheid te verdien.

  1. Luther verskyn voor die Ryksdag van Worms

Op 3 Januarie 1521 het pous Leo X vir Martin Luther met die bul Decet Romanum Potificum geëkskommunikeer.

Die uitvoering en afdwinging van Luther se uitsetting uit die kerk is toe aan die sekulêre owerhede oorgelaat. Op 18 April 1521 moes Luther voor die Ryksdag van Worms verskyn. Die verhoor was vasgestel vanaf 25 Januarie tot 25 Mei 1521, met keiser Karl V as voorsitter. Prins Frederick III, die elektor van Sakse, het ‘n veilige bywoning van sy verhoor vir hom gewaarborg.

Met die verhoor het Johann Eck, wat as assistent van die aartsbiskop van Trier opgetree het namens die staat, kopieë van Luther se geskrifte op die tafel voorgelê, en gevra of hy die outeur daarvan was, en of hy nog by die inhoud daarvan staan. Luther het bevestigend op die eerste deel van die vraag geantwoord, maar tyd gevra om die laaste deel van die vraag te beantwoord. Luther het daarna met sy vriende gekonfereer en ernstig daaroor gebid. Die volgende oggend het hy sy antwoord gegee: “Tensy ek oortuig word uit die getuienis van die Heilige Skrif self, of met goeie rede, is ek gebonde deur my gewete as ‘n gevangene van die Woord van God. Ek kan en wil niks herroep nie, want dit is nie geoorloof of reg om teen my gewete te getuig nie. Mag God my help. Amen” (Martin Brecht, op cit, vol I, bl 460). Aan die einde van sy kort toespraak sou Luther sy arm omhoog opgestoot het – volgens Michael Mullett (Martin Luther, Routledge, Londen, 1986/2004, bl 25) “soos die tradisionele saluut van ‘n (Middeleeuse) ridder wat sy veldslag gewen het, ‘n klassieke epogmakende oratoriese teken”.

Hierna het Eck geantwoord: “Martin, daar is nie een van die ketterye wat die boesem van die kerk oopgeskeur het wat nie sy oorsprong gehad het in ‘n (jou) variante interpretasie van die Heilige Skrif nie. Die Bybel self is ‘n arsenaal waaruit elke venuwer sy bedrieglike argumente bekom. Dit was met Bybelse tekste dat Pelagius en Arius hulle doktrines probeer staaf het (dat Adam en Eva seminaliter verantwoordelik was vir die totale Val van die mensheid, en dat Jesus tog maar net ‘n mens was). Toe die vaders van die Konsilie van Konstanz vir Jan Hus veroordeel het, het hulle ook daar ‘n fout begaan. Die kerk van Christus is soos ‘n goeie moeder: sy omhels almal in haar arms wat die naam Christen dra, almal wat geroep was om die hemelse geluksaligheid te beërwe” (soos Luther dit self later in sy eie biografie gepostuleer het). Luther verwys ook hierin na Jan Hus se uitspraak dat die kerk van Jesus Christus die enigste gemeenskap is van dié wat uitverkies is.

Luther het geweier om enige van sy uitsprake terug te trek. Soms word hy hier aangehaal as sou hy aan die einde van sy kort toespraak voor die Ryksdag gesê het: “Hier staan ek. Ek kan nie anders nie. So help my God.” Daar is navorsers oor Martin Luther se lewe wat meen dat die woorde “Mag God my help” ‘n latere interpolasie is (sien Richard Marius, Luther, Quartet, Londen, 1975, bl 155). Michael Mullett (op cit, bl 25) meen dat, gesien die dramatiese oomblik van sy uitspraak (en sy sensitiewe temperament, überhaupt) Luther wel hierdie woorde kon toegevoeg het.

Oor die volgende vyf dae is daar samesprekings gehou oor die lot van Martin Luther. Die keiser het die finale opstelling van die Edik van Worms op 25 Mei 1521 onderteken. Luther is voëlvry verklaar en enigiemand mag hom doodgemaak het sonder enige strafregtelike gevolge. Sy werke is verban, en daar is om sy arrestasie gevra.

“Ons wil ‘n berugte ketter vang en straf,” was die uitspraak (Dennis Bratcher, “The Diet of Worms” in The Voice: Biblical and Theoogical Resources for Growing Christianity, 13 Julie 2007).

 

Die volgende gedeelte van hierdie essay oor Martin Luther verskyn binnekort.

The post Martin Luther herdenk na 500 jaar: deel 1 appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20678

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>