Die navorser Elvis Saal het bevind dat wit en bruin werkersklaslesers van Sondag en Son sterk identifiseer met die skriftelike voorstelling van Afrikaanse omgangsvorme “as tipies hoe hulle Afrikaans gebruik”.
Menán van Heerden het met hom oor sy LitNet Akademies-artikel “’n Verkenning van taalvariasie in die Afrikaanse poniekoerante Son en Sondag” gesels om meer uit te vind.
Word die Afrikaans van die bruin en wit werkersklas – die onderskeie teikengehore vir Son en Sondag – as sosiolekte gedefinieer?
Enige variëteit wat deur sosiale faktore, soos sosiale klas, bepaal word, kan as sosiolek of sosiale dialek bestempel word. Werkersklasafrikaans is dus ’n voorbeeld van ’n sosiolek. Indien daar op talige wyse onderskei kan word tussen ’n wit en bruin Werkersklasafrikaans, dan sou sodanige variëteite ook as etnolekte of etniese dialekte bestempel kon word. Die veronderstelde onderskeid tussen ’n wit en bruin Werkersklasafrikaans is egter problematies, omdat die talige bewyse vir sodanige onderskeid nog ontbreek.
Hoe word die omgangstaal “outentiek”, geloofwaardig en realisties deur joernaliste voorgestel/“opgevoer” vir die onderskeie teikengehore?
Vir my gaan dit nie soseer oor die vraag of die omgangstaal “outentiek” of “realisties” skriftelik voorgestel word nie, maar eerder of die leser kan identifiseer met die “opgevoerde” omgangstaal. Wanneer joernaliste die omgangstaal skriftelik voorstel (ek verkies die term “opvoer”, wat jy óók pas as alternatief vir “voorstel” gebruik het), dan word daar (bewustelik?) ’n seleksie gemaak van sekere onderskeidende kenmerke van die omgangstaal wat dan aan die leser voorgehou word as tipies van die betrokke omgangsvariëteit van die teikenleser. Dit gebeur gereeld dat in die skriftelike voorstelling nie al die kenmerke van die omgangsvariëteit geïnkorporeer word nie, maar dat die fokus val op sekere kenmerke wat die skrywer ag makliker waarneembaar en identifiseerbaar vir die leser sal wees. Dis om hierdie rede dat daar soms ’n ooraanbod van sekere kenmerke kan wees (soos Engels-Afrikaanse kodevermenging; tipiese spreektaalitems en -uitdrukkings), terwyl daar by ander kenmerke (soos grammatiese kenmerke) weer ’n onderaanbod kan wees. (Ek onthou nog hoe daar in die reeks Manakwalanners ’n ooraanbod van die konstruksie “my se” was (soos in “my se ma sê ok so”) om Namakwalandse Afrikaans te tipeer.) As ek kyk na die skriftelike voorstelling van die omgangstaal in Sondag en Son is daar baie linguistiese kenmerke wat nie aan bod kom nie. In die artikel verwys ek byvoorbeeld na hoe daar in die nuusberigte van Son doelbewus nie geput word uit die grammatiese kenmerke wat Kaapse Afrikaans onderskei nie, byvoorbeeld spreektaalkenmerke soos loep vir loop, djy vir jy, ma’ vir maar, bietere vir beter, in die Lavender Hill vir in Lavendar Hill, ens. Die skriftelike voorstelling van die omgangstaal in die poniekoerante is niks anders as ’n selektiewe “opvoering” van omgangstaalkenmerke om optimale kommunikatiewe effek te bewerkstellig nie.
Jy het bevind dat Son en Sondag die omgangstaal met standaardtaal afwissel. Wat behels hierdie afwisseling in die onderskeie koerante? Hoe maak die joernalis hierdie gemelde keuses?
Ek onthou die eerste keer toe ek Son gelees het (lank voordat ek die ondersoek onderneem het), was ek verbaas hoe maklik ek die berigte kon lees en verstaan. Ek het verwag dat die linguistiese variasie in Son iets soortgelyks sou wees aan die variasie wat ek in die literêre werke van Adam Small teëgekom het, maar ek het toe met ’n baie meer “konserwatiewe” voorstelling van Kaapse Afrikaans kennis gemaak. Dieselfde het gebeur in Sondag. In Sondag is die omgangstaal ook baie selektief voorgestel. Die omgangstaal wat in dié koerante voorgestel word, is een wat primêr fokus op die (direkte en indirekte) insluiting van Engelse leksikale items en algemene spreektaalitems. Eintlik kan die omgangstaal wat hier opgevoer word, gesien word as ’n verbreide omgangstaal, ’n omgangstaal met ’n groter reikwydte wat oor geografiese en sosiale grense strek. Dis hierdie algemene omgangstaal wat nou afgewissel word met Standaardafrikaans in hierdie koerante. Ek het in my studie bevind dat hierdie afwisseling van die omgangstaal en Standaardafrikaans relatief willekeurig plaasvind. Hierdie afwisseling word weinig beïnvloed deur die nuusonderwerp, maar blyk eerder afhanklik te wees van wie die berig skryf. Maar hierdie naasmekaarstelling van ’n algemene Omgangsafrikaans en Standaardafrikaans in die berigte is betekenisvol omdat dit illustreer dat "ernstige" nuus aangebied kan word in beide die standaardtaal en ’n omgangsregister sonder om die waarheidswaarde van die nuus in te boet. Dit was interessant dat die teikenlesers nie die nuusberigte wat in die omgangstaal geskryf is, gesien het as “smeerjoernalistiek” nie, maar as volwaardige nuusberigte wat die nuus vertel soos dit is. Dit sal interessant wees om te sien wat teikenlesers se resepsie van nuusberigte sal wees as dit byvoorbeeld in ’n omgangsvariëteit (soos Kaapse Afrikaans) geskryf word wat ’n groter integrasie van die onderskeidende spreektaalkenmerke behels.
Die gevestigde mediabedryf gebruik oorwegend Standaardafrikaans. Son en Sondag bestendig egter omgangstaal op skrif. Waarom is hierdie skriftelike voorstelling van Afrikaanse omgangsvorme belangrik?
Die skriftelike voorstelling van die omgangsvariëteite was voor die eeuwending hoofsaaklik tot die literêre sfeer beperk. Met die verskyning van die eerste Afrikaanse poniekoerant in 2003 word die omgangstaal nou uitgebrei as skryfkode vir die media. Gegee die suksesse van Son het dit nie verbaas dat daar later (in 2007) ook verder geëksperimenteer is met die omgangstaal as skryfkode met die verskyning van die tweede eksklusief Afrikaanse poniekoerant Sondag nie. Die skriftelike voorstelling van die omgangstaal is belangrik juis omdat dit groter erkenning verleen aan die bestaan van die verskillende spreektaalvariëteite in die Afrikaanse taalgemeenskap. Deur omgangsvariëteite as skryftaalkode in te span word daar geïllustreer dat die omgangstaal tog die talige vermoë het om ook effektief ingespan te word vir meer saaklike skryffunksies (soos om “ernstige” nuus oor te dra). Die groter sigbaarheid van omgangstaal in die media kan die leser ook onder die indruk bring van die beeldrykheid van die betrokke omgangstaal. Hierdie skriftelike voorstelling van die omgangstaal kan help om gesprek te stimuleer oor die addisionele waarde en nut van spreektaalvariëteite en moontlik daartoe bydra om sekere negatiewe houdings teenoor omgangsvariëteite positief te beïnvloed. Die toenemende gebruik van omgangsvariëteite in die drukmedia kan ’n verhoogde legitieme status inhou vir die omgangstaal. Omgangsvariëteite as skryftaal kan help om die gevestigde persepsie dat sulke variëteite slegs vir die informele domein gepas is, uit te daag en aan te toon dat sulke variëteite naas die standaardtaal ook bepaalde skryftaalfunksies effektief kan vervul. Die groter sigbaarheid van omgangsvorme in die media kan egter ook daartoe lei dat normerende bronne, soos die HAT en AWS, kennis (moet) neem van die omgangsvorme juis vanweë hulle gebruiksfrekwensie in die skriftelike domein. In hierdie verband het die jongste AWS (2009) en die HAT (2015) al begin om ’n belangrike kopknik te maak in die rigting van die omgangstaal met die insluiting van verskeie spreektaalitems.
Hoe besluit die gedrukte media oor spelwyse wanneer omgangstaal op skrif gestel word?
Ek vermoed dat elke koerant sy eie huisstyl het oor die spelwyse van omgangsvorme. Die grootste uitdaging is natuurlik die skriftelike voorstelling van die streeks- of sosiale kenmerke van die uitspraak. (In Son en Sondag word die uitspraak egter weinig skriftelik voorgestel, wat die spelwyse van omgangsvorme vergemaklik het.) Die belangrikste is dat daar konsekwentheid moet wees ten opsigte van hoe omgangsvorme gespel word, want dit help ook die leser om makliker vertroud te raak met daardie vorme; verder vergemaklik dit ook die lees en verhoog dit verstaanbaarheid. Dit kan stilisties baie steurend wees as ’n woord verskillende spelwyses het, soos nevermaaind, newwermaaind of newwermaind (vir “nevermind”).
In jou studie noem jy dat sover vasgestel kon word, nog geen ondersoeke na die (veronderstelde) omgangsvariëteit van die wit Afrikaanse werkersklasspreker gedoen is nie. Hoe dra jou studie by as ’n beginpunt?
Ek moet dalk eers net hierdie verwysing na die “omgangsvariëteit van die wit Afrikaanse werkersklasspreker” in konteks plaas. Sondag maak daarop aanspraak dat dit oorwegend op die wit werkersklasspreker van Afrikaans gerig is. Die veronderstelling is dat die wit werkersklasspreker ’n omgangsvariëteit met sekere onderskeidende kenmerke besig. Om te probeer peil hoe sodanige “wit Werkersklasafrikaans” sou lyk, is daar ondersoek ingestel of studies hieroor al gedoen is, maar ek kon geen sodanige ondersoeke opspoor wat ek kon gebruik as vergelykingsbasis nie. Ek sien nie hierdie opmerking oor die “omgangsvariëteit van die wit Afrikaanse werkersklasspreker” as die beginpunt vir studies na die Afrikaans van die wit werkersklasspreker nie. Die ondersoekfokus behoort eerder te wees op sosiale groepe of sosiale netwerke wanneer sosiolinguistiese ondersoeke gedoen word, en vanuit hierdie ondersoeke kan dan afleidings gemaak word oor die invloed van sosiale faktore (en indien taalkundig gegrond, etniese faktore). Ek het byvoorbeeld ’n paar jaar gelede ondersoek gedoen na tienertaal in die ooste van Pretoria, en gevind met die ontleding van my data dat daar duidelike leksikale onderskeide waargeneem kon word tussen die bruin en wit tieners. Daar is egter nog heelwat sosiolinguistiese ondersoeke wat gedoen behoort te word na die spreektaal van die verskillende sosiale groepe of sosiale netwerke wat ons insig in hoe die spreektaallandskap van Afrikaans tans daar uitsien, kan verdiep. Ek sal graag wil sien dat die spreektaal van sosiale groepe meer gedokumenteer word en dat vergelykende studies hieruit sal voortvloei wat kan help om ’n beter geheelbeeld te gee van die onderskeidende aard van die spreektaalverskynsels, asook die migrasie van hierdie verskynsels.
Hoe vind die lewenskragtigheid, soepelheid en skeppingskrag van die Afrikaanse omgangstaal uitdrukking in die poniekoerante? Daarmee saam, kan dit Standaardafrikaans voed en laat groei?
Wanneer daar na die omgangstaal verwys word, oorheers die invloed van Engels gewoonlik die gesprek. Met hierdie ondersoek was ek eintlik heel aangenaam verras deur die lewenskragtigheid van die omgangstaal. Ek was onder die indruk dat die meeste uitdrukkings tog maar in die gewaad van Engels sou voorkom, maar ek was aangenaam verras deur die hoë frekwensie van uitdrukkings en spreektaalitems wat as “trots Afrikaans” beskryf kan word. Uitdrukkings soos “punt innie wind”, “sterk gevriet trek” en “in die tjoekie gaan kool vreet”, en spreektaalitems soos “tikkop”, “papgeld” (onderhoudgeld), “stukkie” (meisie), “blare” (geld) en “jassies” (kondome) illustreer dat Omgangsafrikaans nog nie sy skeppingsvermoë ingeboet het onder die druk van Engels nie. Dis so waardevol dat hierdie “eg” Omgangsafrikaanse uitdrukkings en spreektaalitems op skrif gestel word en aan ’n groter Afrikaanse gehoor bekendgestel word, want dit het die potensiaal om deur ’n groter groep sprekers gebruik te word. Hierdie kreatiewe skeppinge in die omgangstaal het die potensiaal om Standaardafrikaans te voed en verder te verryk, en daardeur kan die afstand tussen die omgangstaal en die standaard verklein word. Soos reeds genoem, het die jongste AWS (2009) en HAT (2015) al ’n belangrike kopknik in hierdie rigting gegee deur aan sekere spreektaalitems erkenning te gee, en die verwagting is dat die spreektaal al groter erkenning sal kry in die toekoms juis vanweë die toenemende gebruiksfrekwensie van die omgangsvorme.
Wat is jou mening oor die stigmatisering van Engelse invloed in Afrikaanse omgangstaal?
Engelse invloed in die omgangstaal is ’n talige gegewe wat wydverspreid voorkom. Die stigmatisering van kodevermenging in die Afrikaanse omgangsvariëteite het sy oorsprong in die wyse waarop die standaardiseringsproses in Afrikaans plaasgevind het. In die standaardisering van Afrikaans is daar ’n hewige stryd gevoer om Standaardafrikaans "suiwer" te hou van die ongewenste Engelse invloede (die anglisisme-jag), met die gevolg dat omgangsvariëteite soos Kaapse Vernakulêre Afrikaans, met sy kenmerkende Afrikaans-Engelse vermenging, sterk gestigmatiseerd geraak het. Sulke gemengde taalgebruik is altyd getipeer as minderwaardig en as "onsuiwer" Afrikaans, wat tot die marginalisering van hierdie sprekers gelei het. Verskeie ondersoekers het al daarop gewys dat sprekers van byvoorbeeld Kaapse Vernakulêre Afrikaans hul variëteit as minderwaardig begin beskou het, wat daartoe gelei het dat verskeie sprekers hulle tot Engels as kultuurtaal gewend het. Die kodevermenging wat in Son en Sondag voorgekom het, het ook nie aan kritiek ontglip nie, en die redaksie is al baie keer gekruisig oor die gemengde taalgebruik. Stigmatisering van die Engelse invloed in die omgangstaal kan vervreemding en polarisasie in die hand werk in die Afrikaanse taalgemeenskap deurdat sprekers van omgangsvariëteite waar kodevermenging ’n dominante talige verskynsel is, hulself sien as die stiefkinders van Afrikaans. Hierdie stigmatisering van kodevermengingspraktyke bemoeilik pogings om die negatiewe persepsies rondom omgangsvariëteite af te breek en die afstand tussen die standaardtaal en die omgangsvariëteite te verklein.
Daarmee saam, wat is die waarde van die toenemende benutting van kodevermenging in poniekoerante?
Engels-Afrikaanse kodevermenging (ook na verwys na as “Engfrikaans”) in skriftelike gebruik is geneig om hewige emosie en polemiek te ontlok. Daar word soms sarkasties verwys na die omgangstaal as dat jy Engels moet ken om dit te kan verstaan. Om dus ’n vraag te beantwoord oor “die waarde van kodevermenging”, is om vir moeilikheid te vra. Die (algemene?) siening is dat daar tog niks goeds uit so ’n gemengde taal kan kom nie. In literatuur oor kodevermenging word gemengde kodes in skriftelike gebruik baie keer gesien as ’n vorm van verset teen die hegemoniese posisie van die standaardtaal in gereguleerde openbare ruimtes (soos die media). In sulke hoogs gereguleerde ruimtes wat gewoonlik met die standaardvariëteit geassosieer word, kan kodevermenging gesien word as ’n doelbewuste poging om die dominante variëteit (hier Standaardafrikaans) uit te daag en weerstand te bied teen die gevestigde taalpraktyke in hierdie gereguleerde ruimtes. Deur die intrek van kodevermenging in sulke openbare gebruiksdomeine eis die gemarginaliseerde groep hulle variëteit op deur dit legitieme status as skryftaalkode te probeer gee. Die inspan van ’n gemengde kode as skryftaal is ook ’n manier om bestaande normatiewe beskouings dat gemengde kodes as sodanig afwykend en minderwaardig is en nie juis geskik is vir formele geskrewe situasies nie, uit te daag en die gemengde kode van ’n nuwe status te voorsien. Kodevermenging in poniekoerante dien nie net as ’n aanduider van die veranderinge in die sosiopolitieke dinamika van die Afrikaanse spraakgemeenskap nie, maar het ook die potensiaal om onder lede van die spraakgemeenskap ’n bewustheid van hierdie veranderinge te skep. Uit van die lesersbriewe wat ek ontleed het wat voorgekom het in Sondag, was daar duidelike tekens dat van die lesers die omgangstaal tog anders begin waardeer het. Verskeie lesers was verbaas oor hoe effektief die omgangstaal ingespan is om die nuus oor te dra. Verskeie lesers het groot waardering gehad vir die feit dat die poniekoerante die nuus vertel soos dit is in ’n omgangstaal waarmee hulle kan identifiseer. Die gebruik van die omgangstaal in openbare ruimtes het die potensiaal om opnuut gesprek te stimuleer oor die talige veranderinge wat besig is om plaas te vind in die spraakgemeenskap, asook om sprekers uit te daag om bestaande beskouinge oor die invloed van Engels (insluitend anglisismes) in heroënskou te neem.
Hoe word heersende sosiolinguistiese norme in Afrikaans uitgedaag in Son en Sondag?
Ek het alreeds in van my antwoorde op die vrae hier bo verwys na hoe die omgangsvariëteite deur hul groter sigbaarheid in die openbare gebruiksdomein ’n groter legitieme status kan verkry, wat weer op sy beurt daartoe kan lei dat taalhoudings ten opsigte van omgangsvariëteite positief verander kan word. Die media kan hier ’n demonstreerbare bydrae lewer om die stigmatisering wat nog aan die omgangsvariëteite van Afrikaans kleef, teen te werk. Die toenemende sigbaarheid van die omgangstaal in die media kan lei tot ’n herevaluering van wat sprekers as gepaste en onvanpaste taalgedrag sien. Die algemene beskouing dat Standaardafrikaans gewoonlik die gepaste vorm is vir die formele domein en dat omgangsvariëteite gepas is vir slegs die informele gebruiksdomeine kan deur die toenemende sigbaarheid van die omgangstaal in die media lei tot ’n herevaluering van wat sprekers as gepaste en onvanpaste taalgedrag sien. Die groter sigbaarheid van die omgangstaal in die media behoort nie as bedreiging vir Standaardafrikaans gesien word nie, maar eerder dat dit Standaardafrikaans kan verryk (en omgekeerd). Die naasmekaarstelling van ’n standaard- en omgangsregister in die poniekoerante is bewys dat die variëteite nie in kompetisie met mekaar hoef te wees nie, maar as funksionele taalopsies vir ’n skrywer kan dien.
The post “Jol”, “antie”, “pelle”: omgangstaal in poniekoerante appeared first on LitNet.