Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

’n Wens vir winter

$
0
0

Olivia M Coetzee

Dis al wee die vyfde maand vannie jaar. Kan julle dit gloe? Dit lyk soes tyd met elke sekonde net ’n bietjie vinniger haloep. En dis wee daai tyd, tyd virrie Kaap se koue om ’n draai te kom maak. Die gawement speculate oorie water wattie winterseisoen gaan bring en baie van ôs is gewarried oorie water wat ôs wee moet in slaap. Wannie sinkplate offie huis se mure is biesag om af te briek. Dis mossie amal wattie lekkerte het om in ‘n warm droë plek te slaapie. Innie huis waa ek opgegroei het, kon ek altyd hoo die huil vannie winter, soes die wind soes Oupa Gollie die sand ommie huise se hoeke gejaag het soes in ’n outydse scary movie. Ek was gelukkig, ôs huis het nooit oorspoelie, daa was altyd droë klere, droë komberse en warm sop. Daa wassie altyd warm waterie, daa wassie altyd kraggie, maa daa wassie neighbers en hulle barmhartigheid. Daa was altyd ’n koppie dié of ‘n koppie daai of ’n bietjie krag wat hulle kon afstaan om ôs aanie liewe te hou vi nog ’n dag, of nog ‘n nag. Dit was ’n swaar storie, en baie mense om ôs wassie veel bieter affie, maa daai plek het my gelee van wat dit is om te deel wanne djy het en wat dit is om te deel al het djy oek niks. Dit het my gelee van community, van ubuntu, dit het my gelee van ‘n groot pot kos maak met ‘n lekke lang sous, vi as daa anne mense kom klop voo etenstyd, dan is daa genoeg. In die plek waa ôs amal konstant op ’n hustle was in ’n doodloepstraat kon ôs mekaa help.

Oorie afgelope twie maane kon ek nettie myself kry om te kom skryfie. Dis swaa om te kyk hoe die land vêder die afgrond in sak, dis swaa om te sien hoe mense se menslikheid net minner en minner raak en dan nog daa oo te skryf. Maa ‘n mens kan siekerie oek net skryf oo die goeie dinge nie. Die afgeloepe tyd moes ek oek baie anne dinge innie gesig kyk. Dit was universiteitskuld wat net groter en groter raak by die dag. Dit was ’n gewarrie oo waa gan ek my kop nee lê assie universiteit besluit ek moet waai. Dit was die donker wolk van moord, vekragting ennie anne siektes wat oo Suid-Afrika hang. Om te dink ôs liewe huidiglik in ‘n tyd waa ‘n derde wêreldoorlog kan uitbriek. En Putin, Trump en Noord-Korea se baas warrie mossie oo wat gebee mettie res van ôsie. Dit gan mos oo hulle en wie die grotere bom het.

My grooste stres was om deel te raak van ‘n onnerwysdepartement wat niks dink vannie mense wie hulle moet agte kykie. Ek het laas jaa besluit om nog ‘n jaa te doen en onnerwys te swat. Ek was gereed ommie pad te stap saam met kinners wat nog steeds opgroei innie selle situasies wat ek opgegroei het. Te min geld en te veel skuld, te min kos en te veel monne om oep te hou, te min beddens en te veel liggame. Te veel droeme en te min leiding. Ek het laasjaa besluit ek wil oek ’n onnerwyser wôd. Ek het gegloe dat ek sal iets na hulle tafel toe kan bring. Ek het gegloe dat wat ek kon bring, baie sou kon help om bietere een meeder toerusting te het virrie pad wat hulle eendag sal moet stap. Ek het gegloe, selfs toe ek met my eie oë gesien het, en met my eie ore gehoorit, dat daarie gou sal ’n verannering kommie, dat dit sal bieter raak. Maa daa is definitief ‘n veskil om in iets te gloe en vi jouself te lieg. Ek het elke dag myself uitie bed uit geforseer om in klasse te loep sit waa ek kon leer hoe om virrie toekoms van Suid-Afrika klas te gie. Ek het myself geforseer om te luiste na mense wie daa is nie virrie kinnersie, maa vi hulleself. Dis miskien ‘n bietjie kras om amal saam te groep, wan daa was genuine mense daa wat ‘n veskil wil maak in kinners se liewe, en daa was die mense wat eerlik was dat hulle net daa is om skool te gie. Ek het iets daa kom lee wat ek klaa gewiet het. Daa is ‘n groot veskil tussen skool gie en skool te gie.

Ek is ’n mens wat dinge, maak nou nie saak wat dit issie, baie letterlik opvat en dinge doen soes dit moet gedoen wôd. Soe mee wanne dit kom by die dinge wat ek in gloe. Ek vat niks vi grantetie. Wanne ek in iets gloe, dan is ek “all in”, hanne, poote, kop en pens in vi daai ding. En ek gloe dat as elke pesoon ’n kans kry innie liewe, vi amal die selle kans, dan sal dinge baie maklike gan vi ôs amal. Soes ek elke dag in daai klasse gesit het, het dit my bygeval. Daa issie ’n manier dat die Departement van Basiese Onnerwys die mense en toekoms van die land in ag niemie. En daa issie ‘n manier dat hulle rêrig wil intelligente leerders produseerie. Daa issie ’n manier dat hulle warrie oo watte soort mense uitie sisteem uit geskop wôtie. Nie een vannie leiers van die land warrie oo ienige iets anners dan hulleselfie. Dis hoekô ekkie ees my asem gemos het om te skryf oo die siewende Aprillie. Wan kyk nou, ’n maand na die tyd, en waa sit ôs nog steeds? Gigaba wôd nou geëer soes hy rêrig wiet wat hy doen, ennie res vannie Malemas en Maimane’s is stil oo wat biesag is om te gebee. EFF fokus eeder hulle hele stem agterie val vannie “Stem” innie land se lied, of eeder die val van Afrikaans, wan amal gie mos vi Afrikaans skuld en nie die mense wie die taal gebruik het om anners onner te hou nie. Maa dis mos soes ôs deesdae is – gie alles anners skuld dan die eintlike die fout is.

Ek vra nou die dag vi Hellen Zille op Twitter of sy in Delft, oppie Cape Flets, sal gan bly. Dis nou nadat sy die mooiste “brief” geskryf het, gerig aanie armes van die land, oo hoe dankbaar hulle moet wies virrie sinkplate wattie City vi hulle opsit in Wolwerivier. Sy't nog tot vandag toe nogie een kee van haa laat hoo om my te antwoortie. Dit vir ’n mens wat hang an daai blou voël se bek soes dit haa kos en water is. Maa dis mos tipies vannie leiers van die land. Wan hulle is mos uitgesort, agte hoë wit mure en security manskappe, offie army in Zuma se geval. Ek dink in elk geval hulle amal sit onner een sambreel en handjies vashou. Hulle is net gewarrie oo hulle eie, en boggher die res.

Maa dis mos maa net hoe mens is, of hoe? Ôs kan dit mos maa elke kee gebruik as ‘n veskoning.

Die manier van mens wies, van Christen, Moslem of Boeddhis wies. Priek oorie liefde van Mohammed en Jesus en Boeddha, maa warrie mee oo hulleself dan ienige iets anners. Julle wiet mos wat gebee innie kerke, maa ôs gloe maa, wan wat dan anners. Ennie onnerwysdepartement en dié se strategie is mossie annersie. Die manier hoe skole gelei wôd is mos maa nie differentie. Die hoofde van skole wat soe sleg is. Hulle is ampe soesie trein- of teksie-ghaardjies wat daai bietjie mag wat hulle het gebruik om anner mense uit te buit of af te druk. Het djy al ooit gesien hoe vieslik Metrorail se ghaardjies is met mense wie nie geld het vir ’n treinkaartjie nie? Ek was eendag in ’n trein op pad Ceres toe. Daa is net een trein wat jou daai kant toe kan vat. Daai Worcester-trein ry twie kee innie dag. Die eeste kee is voo vyf die oggend, uit Worcester uit, ennie twiede kee is dit wee voo vyf die aand uitie Kaap uit. Nou djy moet dit rêrig self onnevind om te vestaan wat dit vi baie mense betieken om met daai trein te kan ry. Vi baie mense issit die ienigste manier hoe hulle by die huis of by die wêk kan uitkom.

Nou ek het ’n paa herinneringe an my trips in-en-uitie Kaap uit Ceres toe, maa daa is een wat uitstaan. Wan ek het my oë toegemaak en weggekyk vannie onmenslikheid wat voo my gebeerit. Soes gewoonlik kom die trein-ghaardjies om met hulle se ge-“tickets, tickets” net soe naa Wellington-stasie. Hulle loep gewoonlik in ‘n groep van drie of meer. Vi intimidasie of veiligheid of al twie, ek kan net anneem dat dit ’n mengsel van al twie is. Soes hulle toe hulle rontes doen, gan staan hulle voo ’n man wat halfskyns in sy seat gesit het. Sy klere was flenters en geel van oudgeid tien sy donkebruin vel. Hy was jonk, soes ’n man wat iemand se jonge broertjie kan wies. Sy hanne was plek-plek vaal getrek, tekens dat hy lanklaas water oo sy lyf gevoel het. Sy oë was trug gesink in sy gesig. Dit het my laat dink aan daai “Poverty in Africa”-advertensies. Hy hettie ‘n woord vestaan wat daai ghaardjies met hom gepraat hettie, of soe het dit gelyk. Hulle het hom oor en oor gevra: “Where is your ticket?” maa hy’t net reguit voo hom uit gestaar, soes ‘n mens wat se siel lankal die aarde velaat het. Hy’t angesit voo hulle soes hulle sy straf vi hom uit gelies het: “Betaal of djy’s uit.” Dis soes amal in daai waentjie nie ‘n warrie gehad het oo wat met daai man sal gebeerie, wan sê djy iets dan is djy neks. Die personeel van Metrorail het vêder angegan met hulle intimidasie. Hulle het hom later opgepluk en laat staan voorie trein se deu. Toe die trein stop op een vannie stasies waa die stasie se platform gemaak is van lang gras en onkruid, toe sit hulle hom uit. Hy’t daa gestaan waa hulle hom uit gesit het, hy’tie trug gestry of baklei nie, maa net voo hom uit gekyk. Die trein het stadig weggetrek en hy het an bly staan soes dit nie geriggestreer het by hom wat biesag was om te gebeerie. Of miskien het hy virrie laaste kee proebee, maa die liewe het weer eens haa rug op hom gedraai. Ennie res van ôs was maa net dankbaar dat dittie met ôs gebeer hettie. Daai trein ghaardjies het vêder an gegan met hulle wêk soes niks gebeer hettie. Ek was al self opgesluit deut Metrorail, nie deur my eie skuld nie, maa omdat daa nie ‘n kaartjiekantoor op een van hulle stasies was nie. En toe ek trug stry, toe word ek toegesluit. Hoe laat djy mense vestaan wie se koppe vol gestop is met valse idees van mag van hulle menslikheid? Die deuntjie is mos altyd: “I am doing my job.” Sien, geld, en die gewarrie van geld, vat om menslik te wies en menslikheid uitie storie uit. Kyk maa net om jou. Selfs familie sal jou afstaan as hulle kan geld spaar. Dis swaar om te erken, maa dis soes dit is.

Ek wens dat ‘n dag sal anbriek waa dittie gan oo hoeveel geld ‘n mens kan save, of hoeveel ‘n mens kan by kry as djy nie die anne uithelpie. Ek wens vi daai dag waa mense hulle menslikheid sal onthou en dit trug vat. Dis sieke maklik om te sê dat ‘n mens Christen, Moslem, of deel is van maak nou nie saak watte godsdiensie, maa as djy nie tot en volle jouself kan inleef in dit nie, dan moet djy sieke maa alles los. Wan soeve ek wiet is elke godsdiens gebaseer op en in Liefde, en Liefde vi die een langsaan jou en nie Liefde vi mense wat djy kiesie.

Ek wens dat daa ’n dag sal anbriek waa mense nie hoef oppie straat te liewe nie. Dat elke mens hulle waardigheid sal kan behou ennie moet te swig of hulleself hoef klein te maak om te liewe nie.

Soe, dié winter, soes djy jou gemak en voorreg geniet, maak nou nie saak wie djy issie, dink an jou medemens, daai wat oppie straat liewe, wan daa issie ’n anner keuse nie. Dink an daai mense wie uit hulle lande uit moes vlug vir ’n kans om liewendig te bly. Dink an daai mense wie in sinkhokke moet bly wan hulle reg op “decent housing” was weggevat deurie gemors van apartheid en word nog steeds weg gehou deurie huidige leiers. Dink an mense wie moet bullets dodge elke dag van hulle liewe, en wie moet warrie oo hulle veiligheid elke kee wanne hulle by hulle huise uitstap. Dink an daai wat nog nooit rêrig ’n kans innie liewe gekry hettie en nog steeds sukkel. Maak jou hart oep vi anners wie minner dan djy het. Onthou jou menslikheid, en hulle menslikheid. Wan dit hangie af vannie gawement af om ôs amal ’n bietere liewe te gie nie, maa dit hang van jou af, van my af, van ôs af. Mandela het gesê dat ôs moetie bang wies om ôs lampe te skynie, wan soe kannie neks pesoon oek hulle lig vind. Ôs is meer dan net ôs differences, ôs is mee dieselle dan ienige iets anners. Maak nou nie saak of velkleur, of geloof, of watte geslag ôs mag lief hê nie, of vi wie ôs stem nie. Ôs is eestens mens, en ôs bloei dieselle rooi bloed.

Op die oudedom van 16 was uh Goodhope fm dj by o’s skool. Hy het met uh mic innie ronte geloep om kinnes te vra wie hulle is en waa’vandaan hulle kom. O’s almal het oppie netbalbane se sementblad gesit. Hy’t voo my kô staan, en hy’t my gevra. “So who are you and where you from? Heelwat op sy nerves. Ek ’it hom boe oo my brille gekyk en stadig gesê: “Ek is Livy. Vannie Rive.”  

Bly te kenne!

The post ’n Wens vir winter appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>