Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Multivers deur Hennie Smith: ’n onderhoud

$
0
0

Multivers
Hennie Smith
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9780928316643

Trisa Hugo gesels met Hennie Smith, digter van Multivers.

Jy is ’n kernfisikus en ’n kenner van tale en filosofie. Jy is berese en belese, wat jou ’n breë begrip en ondersteuning gee vir gedagtes oor lewensake. Uit die aard van die saak het dit jou ’n platform gegee om van te werk om die wetenskap en die filosofie te versoen in terme van die menslike bestaan. Op watter wyse het die verse hulle by jou aangemeld?

In die verloop van my werk met fisikabeskrywings gebeur dit dat ’n emosionele eggo ontstaan met interpersoonlike ervarings. Dan is dit asof ’n muse vir my ’n vers-idee inblaas en ek poog om die emosiebelaaide insig in versvorm te vang.

Die bundel is opgedra aan jou ma, Heiletta. Het sy ook ’n bietjie oor jou skouer geloer, veral waar jy die liefde en die vrouelyf besing?

Ek was gelukkig met ’n liefdevolle ouerhuis wat dit moontlik gemaak het dat ek met ’n gebalanseerde verhouding teenoor die ander geslag grootgeword het. Maar die intense belewenis van die man-vrou-interaksie het so deur die gene gekom, getemper met die opvoeding.

Jy het tydens die bekendstelling in Kleinmond aangedui dat jou ma telkens die toets van “ewigheidswaarde” aangelê het voor mens reageer op iets ontstellends wat gebeur het. Hierdie lewenswaarde en ook lewenswaarheid is amper tekenend van die hele bundel, wat met ’n spirituele inslag spreek in die kosmiese dimensie. Jou ma was werklik ’n groot invloed op jou, ’n kernfisikus wat ook ’n kunskenner is en kunsuitstallings open en ’n digbundel publiseer. Wil jy meer vertel van hierdie besonderse invloed?

Mense is so besig dat hulle nie sommer gedigte lees nie, veral nie as dit oor trivialiteite gaan nie. ’n Gedig moet streef na ewigheidswaarde: dit moet die leser of luisteraar met impak tref.

Tydens die bekendstelling in Kleinmond

Jy het in ’n informele gesprek aangedui dat jy ook aanklank vind by die gedagte dat kunstenaars vanuit ’n kollektiewe poel van kennis en kuns uit die univers tap. Wil jy bietjie uitbrei hoe jy hierdie kollektiewe kennis aanwend of benut, hoe jy dit ervaar?

Plato het geskryf van die Ideëwêreld, waar die ideale weergawes voorkom van verskynsels hier in die materiële wêreld. Ek meen Plato het ’n glimps ervaar van ’n kollektiewe kosmiese bewussyn waaruit groot kunstenaars soos Leonardo da Vinci, Händel, Mozart en talle ander getap het. Ek assosieer hiermee die invloed van die “muses” soos soms ervaar word.

Die geskiedenis en mitologie dien ook as agtergrond vir wat uiteindelik op die rakke as Multivers land. Jy verwys na Plato se “Mite van Er” met "the spindle of necessity", Dante se Inferno, Faust, en jy skryf oor Helena van Troje, die liefdesbriewe van Abélard en Héloïse. My kop duisel! Help ons verstaan.

Met ’n goeie onderwysstelsel neem mense tydens hul opvoeding kennis van hul kulturele herkoms. Dus is dit sinvol dat ek woorde en beelde gebruik uit klassieke ikone van die Westerse beskawing om in my verse segswaarde te kry in hedendaagse emosionele belewenisse.

Met jou spirituele inslag, die verwysings na Plato en die Mite van Er het ek subtiele konnotasies met reïnkarnasie ervaar. Hoe sou jy die moontlikheid van ’n Godheid en ook reïnkarnasie sien met jou diverse verwysingsveld?

Kom ons skei die twee aspekte. Eerstens oor reïnkarnasie: ek meen Plato het glimpse van “openbarings” ervaar en dit probeer interpreteer. Ek verstaan Plato so dat daar ’n repertorium van lewenservaring opbou waartoe almal bydra en mettertyd toegang mag kry. Denkers deur die eeue wat hierdie insig aangevoel het, het foutiewelik gemeen dit beteken reïnkarnasie in ’n nuwe aardse lewe. Die vraag van ’n Godheid is heel anders en kompleks: die begrip word vereenvoudig en gepopulariseer. Die moontlike “intelligensie” waarin die kosmos “hang” of bestaan, is ver bo ons menslike begripsvermoë en ons moet omsigtig daarmee omgaan. Een poging tot ’n term vir die Godheid is die Duitse woord Ungrund, die Onbegronde.

Hennie Smith

Dit is ’n baie interessante konsep om die bundel in drie te verdeel – die afdelings getiteld “ars poetica”, “ewige vroulikheid” en “woelende woorde”. Het jy dit so beplan toe jy met ’n spreekwoordelike laai vol gedigte gesit het? Is daar uiteindelik een spesiale gedig wat almal omvat?

Soos wat gedigte gestruktureerde woorde is, dra struktuur in die bundel by tot die leesbaarheid en die impak. Die vraag oor een spesiale gedig wat almal omvat: nee, ek meen dis nie moontlik wanneer elke gedig sy eie karakter het nie. Maar die titelgedig “Multivers” suggereer dat elemente (woorde) in verskillende gedigte mag voorkom, in die konteks van die bepaalde gedig: elke gedig is ’n eie klein univers, en die bundel is dus ’n multivers, veelvuldige verse.

Mimi van der Merwe se kuns komplementeer jou bundel – dit is ’n baie geslaagde medewerking. Hoe het dit gebeur?

Mimi het ’n gedig van my toevallig by ’n ete-kuier gesien en was dadelik geïnspireer om daaraan visuele uitdrukking te gee. So het toe deurlopende onderlinge inspirasie ontstaan.

Hoe lank het dit jou geneem om hierdie bundel te skryf?

Ek gaan sit nie en werk aan ’n bundel nie – die idee vir ’n gedig tref my uit die bloute en dan skryf ek die gedig. So dit kom van tyd tot tyd. Van die oudste verse in die bundel is van so 40 jaar terug, soos die gedig “Aan my ouers” wat die datum 1973 aandui.

Jy het die reggekry om die kosmos eroties te laat klink – veels geluk! Of is dit eerder die vrou wat ’n metafoor word vir ’n soort univers?

Goethe het die gedagte van die man-vrou-inspirasie raakgevat en ewigheidswaarde gegee in sy Faust met “Das ewig Weibliche, zieht uns hinan” (“Die ewig vroulike, trek ons heen). Daarmee het hy vir my die wedersydse man-vrou-wisselwerking ’n ewigheidswaarde gegee wat vir my ook kosmies voel. Die Duitse woord “hinan” is vir my wydstrekkend.

Gravitasiekolk

Die swaartekrag van vrouwees
wat uit jou wese straal
word ’n gravitasiekolk
waarom my denke
galakties tol

en stadig inspiraal
tot ek jou gebeurehorison
penetreer
deurklief
om in kosmiese koïtus
in jou op te gaan
en soos sterrestof
spermies
in jou omhelsing
in te plof.

The post Multivers deur Hennie Smith: ’n onderhoud appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>