Twee Suid-Afrikaanse musikante, Annari Breed en DuPreez Strauss, het pas op hul eerste Europese toer vertrek met die doel om Afrikaanse musiek en die groeiende ondersteuning van Suid-Afrikaanse kuns en kultuur in België en Nederland te vier.
Breed en Strauss het op 1 Maart na Vlaandere en Nederland vertrek vir ’n reeks optredes om ’n passie vir Afrikaanse musiek in die buiteland te bevorder. Hul deel hul eksklusiewe dagboekinskrywings met LitNet.
Tweede konsert
Geskryf op Vrydag 10 Maart in Brussel, België
Ná ons eerste vertoning in Tervuren reis ons, op aandrang van ons gasheer, Hubert, na Oostende vir ’n welverdiende twee dae van ontspanning by die see. Vir Suid-Afrikaners om op ’n seevakansie te gaan in nul grade Celsius en snerpende wind, aan ’n kuslyn wat altesaam maar slegs 66 km strek, is natuurlik nogal ’n interessante ervaring.
Op die eerste dag klim ons op ’n trem wat die hele kuslyn dek, en by stasie nommer 3 reeds kyk ek en Annari vir mekaar en lag – die arme Europeërs is in die strate en op hul fietse, vol entoesiasme vir ’n bietjie vars lug en see, en ek en Annari bibber van die koue! Ek kyk uit by die trem se venster, en op die stasiemuur staan ’n paar strofes van Jacques Brel geskryf:
Zonder liefde, warme liefde, waait de wind, de stomme wind.
Zonder liefde, warme liefde, weent de zee, de grijze zee ...
En ek besef: ons almal se tale is onlosmaaklik verbind aan die plekke waar dit vandaan kom. Dit is die plig van elke taal om dinge te sê oor sy eie stukkie grond en sy eie mense wat geen ander taal sal kan sê nie. As ek dink aan Afrikaans, dink ek aan stoom wat uitslaan uit my pa se plaas se grond wanneer daar geploeg word. Ek dink aan die Afrika-son. Ek dink aan die rykheid van Suid-Afrika se natuur wat net gee en gee sonder om iets terug te vra … En wanneer ek dink aan Nederlands, dan sien ek beelde in my kop van ’n groep mense wat ten spyte van soveel moeilike omstandighede deur derduisende jare dit reggekry het om iets ongelooflik op te bou deur konstante harde werk, onwrikbare vasberadenheid, en altyd met vuurwarm harte van menslikheid.
Ná ons tremrit gaan ontdooi ons in Café Piaf, waar ons drie uur lank sit en middagete eet, net soos ons geleer het by ons Belgiese vriende: koffies, heerlike soet “stoofvlees”, en natuurlik altyd ’n bak vol fritjes met mayonnaise. Soos gewoonlik, praat ons maar Afrikaans met enigiemand wat ons teëkom, en ná drie ure het ons kelner uiteindelik die moed bymekaargeskraap om vir ons te vra waar ons vandaan kom met ons snaakse aksente – hy was oortuig ons moet uit Friesland, Noord-Holland, wees! Sy oë skitter toe hy hoor dat hy omtrent 10 000 km te ver noord geskat het – dit was die eerste keer ooit dat hy Afrikaans sou hoor.
Ons reis na Genk en word weer eens met vuurwarm harte verwelkom deur lede van die Marnixring wat ons optrede gereël het.
Met groot trots word hulle dorp se Stadhuis en Stadschouwburg aan ons voorgestel – ’n gebou uit die sewentigerjare wat modern oorgedoen is van binne, met ’n asemrowende stadsbiblioteek langsaan waarin selfs tieners in geskeurde jeans rondhang met boeke en koerante op groot, gemaklike, moderne rusbanke.
Ná ons klanktoets, weer eens op ’n pragtige vleuelklavier met net die beste klanktoerusting en tegnici, moet ons weer vir drie ure gaan middagete eet. Hierdie keer smul ons elkeen ’n steak om ons brandende lus vir rooivleis te stil, en die manne om die tafel vertel ons van België se 900 verskillende soorte bier, terwyl die vier van hulle saam ten minste agt geure kafdraf.
Ons optrede hier in Genk is gereël deur drie verskillende organisasies wat hulself basies vir dieselfde ding beywer: die voortbestaan en bevordering van die Nederlandse taal en kultuur. Lede van hierdie organisasies – die Marnixring, De Orde Van Den Prince en die Algemeen Nederlands Verbond – daag in hul hordes op by ons vertoning en ons sing ons harte uit vir ’n groep van oor die 200.
Nadat ons ons vorige vertoning afgesluit het met twee boereliedjies wat al die Nederlanders ken, het ons terugvoer ontvang oor die interessante woorde in hierdie boereliedjies wat die Nederlanders ewe lekker saamsing, maar nog nooit regtig verstaan het nie. In “Bobbejaan klim die berg” weet die meeste Nederlanders nie wat ’n bobbejaan is nie – dit blyk dat die meeste van hulle, van hulle kinderdae af reeds, aanneem dat Bobbejaan iemand se naam is. Hulle noem ’n bobbejaan ’n baviaan – en ons besef dadelik waar ons Baviaanskloof se naam vandaan kom.
Ek en Annari was nogal verras deur ’n paar strofes in hierdie liedjie, asook in “Sarie Marais” wat ons in Suid-Afrika verloor het, maar wat steeds bestaan in die Nederlandse weergawe. Dit sluit in ’n paar verwysings na Engelse soldate (“kakies” en “rooinekke”) – terme wat Annari dan ook aan ons Nederlandse gehore verduidelik. Dis opvallend dat hierdie redelik “anti-Britse” sentimente my en Annari deesdae effe onrustig maak – en in gesprekke met die Belge blyk dit dat ons in Suid-Afrika vir seker meer sensitief geword het vir enige negatiewe verwysings na ander groepe mense.
Soos met ons laaste vertoning word ons ná die tyd oorval deur mense wat hulle persoonlike verbintenis met Suid-Afrika en Afrikaans wil kom deel met ons – besoeke aan Suid-Afrika, kinders wat daar woon … Daar is selfs ’n kunstenares wat daarop aandring om vir my ’n skildery te gee wat sy geverf het van die Groot Vyf!
Daardie nag sit ons tot drie-uur en drink “jenever”, sjampanje en wyn saam met ons allerwonderlikste gashere en gasvroue. Ons slaap in hulle huise, hulle ontferm hulle totaal oor ons, en kan net nie uitgesels raak oor politieke, taalkundige en kulturele ooreenkomste en verskille tussen ons land en hulle land nie.
The post Afrikaans in die Laaglande-toerdagboek: inskrywing 3 appeared first on LitNet.