Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20671

Vir Angus oor sy lesing van 17 Maart 2017

$
0
0

Eerstens, lá fhéile Pádraig sona dhuit!

Wat ek vir jou gesê het oor linguistiek en grammatika staan steeds; niks in jou lesing negeer enigiets van wat ek gesê het nie.  Wat Chomsky betref, hy’s vandag se kind, nog nie eers 90 jaar oud nie en daar is baie in linguistiek die afgelope twee- tot driehonderd jaar gedoen. Hy kan ook nie die ‘vader’ van die moderne grammatika wees nie want op elke stadium van ’n taal se bestaan is die grammatika ‘modern’.  Engelse grammatika, byvoorbeeld, gaan oor 10 jaar modern wees, net soos dit in Shakespeare se tyd modern was – anders miskien, maar kontemporêr vir daardie tyd, dus modern.

Jy vra hoekom ek beweer jy verwar grammatika met grammatikaterme.  Eenvoudig; jy’t al male sonder tal vir my gesê mense kan ’n taal praat sonder dat hulle die grammatika ken, selfs julle huishulp aangehaal wat ek-weet-nie-hoeveel tale kan praat nie maar niks van grammatika weet nie. Ek het jou geantwoord en gesê julle huishulp, indien sy al daardie tale korrek praat, kan dit slegs doen as sy die grammatika korrek gebruik.  Sy weet nie eers sy gebruik nou ’n byvoeglike bysin of ’n selfstandige naamwoord of nominatief of genitief of so iets nie maar sy span die grammatika reg in om die taal te praat.  Om ’n taal te kan praat moet jy die grammatika en die woordeskat ken.

Jy’t steeds nie verstaan nie en ek het die voorbeeld van die Engelse seuntjie gegee (nav jou stelling dat klein kinders redelik goed praat) wat sê ‘I am’ en nie ‘I is’ of ‘I are’ nie; hy praat reg maar kennelik weet hy nie hy gebruik nou die eerstepersoonsuitgang van die werkwoord ‘to be’ nie – hy praat dus grammatikaal korrek maar hy ken nie die grammatikaterme nie, hy ken wel die grammatika. 

Jy’t daarna byna woordeliks herhaal wat ek vir jou gesê het en gesê wat ek beweer, is dat die kind móét weet hy gebruik nou die nominatief van die eerstepersoon ens ens.  Jy het weer verkeerd gelees; ek beweer juis hy hoef nie die grammatikaterme te ken om die korrekte grammatika te kan gebruik nie, net soos jy nie ‘n kennis van fisiologienomenklatuur nodig het om tot spierkoördinasie in staat te wees nie. 

So, ek sê weer, jy kan nie ’n taal goed praat as jy nie sy woordeskat en sy grammatika onder die knie het nie, jy het egter nie nodig om die grammatikaterme te ken nie.

Jy het ook telkens beweer iemand skryf vir ’n taal ’n grammatika; dié iemand gaan bestudeer die taal en skryf dan die grammatika.  Ek het dan elke keer vir jou gesê hy stel slegs die BESTAANDE grammatika ten boek. Hoe anders?  Die mense praat daardie taal en om die taal te kan praat span hulle die woorde reg in wat betref naamval, verbuiging, sintaksis ens.  Met ander woorde, hulle span die woorde in soos deur die grammatika voorgeskryf – hulle het ’n taal en die taal bestaan uit ’n woordeskat plus ’n grammatika wat voorskryf hoe die woorde ingespan moet word om sin te maak - hulle hoef nie te wag dat iemand dit vir hulle kom ‘skryf’ nie.

Jy skryf jy “ ...  het al herhaalde kere aan [my] verduidelik dat die kennis van grammatika, of grammatikaterme is nie nodig om ʼn taal te kan praat of om dit aan te leer nie.”  Halleluja! Dis wat ek heeltyd vir jou probeer sê.  Alhoewel, jy’s net halfpad daar want jy het nie die kennis van grammatikaterme nodig nie soos jy hierbo sê nie (en ek nog heeltyd vir jou vertel) maar jy het wel die kennis van die grammatika nodig anders kan jy die taal nie praat nie.  Die oomblik wat jy sê ‘Ihr seid’ gebruik jy die grammatika korrek alhoewel jy nie noodwendig weet ‘Ihr’ is tweedepersoonmeervoud en ‘seid’ is tweedpersoonuitgang van die infinitief ‘sein’ nie.  Jy hoef nie die nomenklatuur te ken nie maar die grammatika moet jy ken anders het jy gesê ‘Ihr bin’ of ‘Ihr bist’ of so iets.

Jy stem saam dat Engelse woorde Afrikaanse woorde verdring maar reken daar is niks wat ons daaraan kan doen nie.  Hoekom kan ons nie iets daaraan doen nie?  ‘n Engelse woord is nie ’n entiteit met ’n eie wil nie; hy kom wurm homself nie goedsmoeds in Afrikaans in sonder dat jy dit agterkom nie – hy word gebruik willens en wetens deur die spreker en, om daarvan af weg te kom, moet die spreker bloot daardie woord nie gebruik nie.  Nou laat ek nou weer vir jou sê – Engelse woorde verdring die Afrikaanses omdat ons toelaat dat Engels in ons kele afgedruk word deur die media (veral RSG en KykNET), die regering, lektore en professore, ‘n groot gros onderwysers en ’n klomp predikante.

Jy sê jy hou nie van Engelse woorde in Afrikaans nie, dis vir jou ‘afskuwelik lelik’, jou presiese woorde.  In dieselfde asem sê jy egter dit is nou maar wat  gebeur in Afrikaans en jy kan nie jou kop soos die spreekwoordelike volstruis in die sand druk nie.  Dit is JUIS wat jy doen met jou défaitistiese houding:  skouers ophaal en kop in die sand druk, gods water oor gods akker laat dawer.  Buitendien, hoe kan iets wat afskuwelik lelik is nou Afrikaans verryk?  Jy het reg oor die afskuwelik en dan boonop verskraal dit nog Afrikaans deur die Afrikaanse woorde te verdring.

Afrikaans is net so min, of net so veel, vervalle Nederlands as wat Nederlands vervalle Nederfrankies (oud-Nederlands) is, of Italiaans vervalle Latyn is, of Engels vervalle Engels is van die Engels wat in  Chaucer se tyd gepraat was.  Afrikaans en Nederlands het in die 17de eeu geskei en vandag is Afrikaans ’n volwaardige taal met sy eie woordeboeke, letterkunde ens.  Die ‘afskuwelike’ mengsel wat in die sepies gepraat word is bloot mengeltaal – swak Afrikaans dus en nié die geboorte van ’n nuwe taal nie.  So ’n Engfrikaanse woordeboek, byvoorbeeld, sal ’n Afrikaanse en Engelse woordeboek aanmekaargeplak wees; duidelik ’n aanduiding dat dit bloot maar ’n mengsel van Afrikaans en Engels is.

Jou beskouing dat Afrikaans nie sonder Engels kan klaarkom nie omdat laasgenoemde nou kwansuis die wetenskaptaal is, is ’n mite.  Enige taal is die wetenskaptaal van daardie sprekers.  ‘Naklankduur’ is net so ’n goeie woord vir ‘reverberation duration’ byvoorbeeld, indien nie beter nie.  Een taal hoef nie in kontak met ’n ander een te wees om tegniese en wetenskaplike ontdekkings en ontwikkeling te doen en name daarvoor te gee nie.  Hoe dink jy het die vresens tegniese terme vir, sê hulle vlieënde pierings, ontwikkel?  Ek het nog niks Engels of Russies of Duits op enige vlieënde piering gesien nie en ek het met my eie oë al foto’s van baie vlieënde pierings gesien.

Maar laat ek opsom.  Ons is waar ons begin het, Afrikaans word verwaarloos deur Afrikaanssprekendes, luister maar na die radio en kyk na die sepies.  Wie se skuld is dit?  Net ons s’n; ons sluk die twak wat sommige dominees, ’n klomp politici en kamtig verligte professore en lektore vir ons opdis hoek lyn en sinker soos soetkoek.

Terloops, met jou verwysing na teorie in die ‘wetenskaplike sin’ en ‘algemene sin’ dink ek jy verwar wat die Engelse ‘theory’ en ‘theorem’ noem, ‘teorie’ en ‘stelling (teorema)’ in Afrikaans.

Groetnis

Jan Rap

 

The post Vir Angus oor sy lesing van 17 Maart 2017 appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20671

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>