Sondag
Dit was weer Sondag toe ek opgefrommel in die oggendson goud soek,
maar dit was tevergeefs.
My dag en nag word een
en die son sak anders vanaand,
sonder jou,
alleen.
Maar, ek sal aanhou soek tot jou uitwisting bevestig is –
tot hulle hul woorde in my keel af forseer,
My skat, my lief, luister:
Jou goud is goud nie meer,
Hy word onder voet en aard
verrinneweer.
Maar, ek sal aanhou lê met my bors op joune.
Aan bed en brein gebind,
’n bed wat lankal nie meer myne is nie
en bly herroep,
tot ons liggame een word in vel en been
en ons weer saam tuis is,
my mens,
my goud,
my Sondagseën.
Selfregverdiging
Totaal ongerep.
Totaal ongereed
vir die mislukking wat jy op my sou neerplak.
Stuk vir stuk,
soos die nessie wat jy vir my bou
net sodat ek dit weer
stuk vir stuk
op die grond kan smyt
[en dit geniet]
vir myself,
want ek verdien net dit.
Oor
ek hoor jou
raak bewus
luister.
om jou ore te blok help nie meer nie.
jy luister nie vir my nie!
my velkleur is ’n sosiale las.
my kodewisseling onvanpas.
swart siele is wit gespat in ’n poging om in te pas ...
en nou ’n lagwekkende swart skepsel van onkunde
onhoorbaar
onverstaanbaar
in my eie land,
’n las.
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: Marguerite Wolvaardt se inskrywings appeared first on LitNet.