In my hartstuiste geboei
My gedagtes verdwyn
My asemhaling wat wegkwyn
Jou teenwoordigheid laat my wese sonder pyn
My oë gefokus in een reguit lyn
Na die vensters van jou siel
Beide ons harte al ietwat verniel
Die kamers van ons harte, soos ’n onontdekte kelder
En sien ek glashelder
Die kleurskakerings van jou menswees
Baie meer as blote vlees
Ons – genees
Deur die Woord uit te leef en te lees
Die gedagte maak my opgewonde, tog kalm
Jou hand in my palm
Jou stem wat steeds in my weergalm
jy ’n kadens waarin ek oneindig wil talm
Lig in my skaduwee
Jy straal lig in my skaduwee
onverwags
red jy my soos Raponsie
met jou lang lokke
help jy my ontsnap
van ontsluiting
in my ondeurdringbare paleis
Agter slot en grendel
is ek die gevangene
van my eie tronk
gevonnis
lewenslank
vir die kwaad wat ek gedoen het, en hulle aan my.
My laste, swaar, druk teen my bors
omdat ek dubbeld die seer dra
Maar
soos die sonopkoms
skep jy nuwe hoop
vir ’n nuwe dag
stadig maar seker
dring jy deur
en bring verligting
in die donker kamers van my hart.
Soos die goue skynsel op die roesbruin herfsblare
is jy die gloeiende fakkel
in die verte
die hoop op iets ligter, lewendig, lukraak, selfs pret
vir my siel, so uitgeput
van verblindende duisternis
Jou onverwagse sjarme
jou stem
jou lyf
jou menswees
is ’n vuurtoring,
’n plek van veilig wees
Dankbaar en opgewonde
gaan ek die dag in
met die wete dat ek
weer daar sal wees
naby jou
Huis van hoop
Ek eensaam en verlangend
Praat soms onsamehangend
Verlate in ’n omgewing, goddeloos met geen vertroue
Bevind ek my soos Racheltjie de Beer, in die koue
Omgee en liefde, gee ek ten koste van myself
Die fonds na selfaanvaarding en liefde, nou eers uitgedelf
ek besef, my wese so naïef
Is daar kwaadwilliges, wat dele van jou wegdra soos ’n dief
Voor ek my kom kry, is ek op moedverloor se vlakte
Op soek na myself - die herontginning van my karakter
Laat daar lig wees
Al is ek dun gesaai, my innerlike stem sukkelend en hees
Sal ek met vermetelheid lig en liefde uitstraal
Tot U, my Pottebakker, my enige dag kom haal
Uiteindelik vind ek ’n geloofsgemeenskap
Wat my omhels, nie my menswees betrap
Oneindig dankbaar, geweldig
Deur God se genade en onveranderde liefde – oorweldig
Onaantasbare tuiste
Pyn, teenwoordig maar nie van belang
Word verlig deur die gewyde gesang
Onverskrokke en vreesloos, ver van bang
In teenstryd met die bose wat ons in ’n web wil vasvang
Dit relatief tot innerlike wonde
Dié wat met die tong geteister word
Totdat dit inbreek en soos ’n indringerplant binne jou siel teer
Moedeloos val ek op my knieë voor U neer
Vir meer as genoeg, oorvloed en oorvat van jou wese
Die gevoel – vasgevang – laat jou met geen keuse
Reuse gapings in die dele van jou
Kwaadwilliges lang in hul mou
Vir hierdie onverskrokke onloskombare ondier
Openbare gesiglose opinies wat voortbestaan soos die wêreldse tendens, 'n kortstondige modegier
Vir wie, vir wat
Verval ons dan in hierdie gat
Op soek na selfversekering, sekuriteit van ander se goedkeuringstempel
Onbewus van die redding en genade wat lê in die tempel
God hier teenwoordig. Egter alomteenwoordig
Laat ons biddend nader
Na U, ons verlangde Vader
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: Marnél Smit appeared first on LitNet.