Frans Boas (1850—1942) word gereken as die vader van die Amerikaanse linguistiek. Dit het ek maar eers heelwat later in my lewe uitgevind; ek het altyd maar gedink hy is net die vader van die moderne antropologie. Hy is in Berlyn gebore, het daar studeer, en later uitgewyk Amerika toe. In Amerika het hy belang gestel in die verskillende rasse, en was van mening dat ʼn studie van die verskillende rasse se tale noodsaaklik is om hulle kulture te verstaan. Een van sy studente was ook ʼn Duitser wat uitgewyk het Amerika toe, nl Edward Sapir, ook ʼn bekende linguis. Sapir en Boas is veral bekend daarvoor dat hulle saam ʼn sterk verband getrek het tussen linguistiek en antropologie. Interessant is die debat wat Sapir en ʼn student van hom, Benjamin Lee Whorf, ontketen het met hulle teorie dat taal die wyse waarop die mens die wêreld beleef, beïnvloed. (Miskien sou hulle lekker kon saamgesels met George Orwell se Big Brother in 1984.)
Dit bring my by Leonard Bloomfield (1887—1949) en sy belangrike werk, Language (1933), ʼn omvattende beskrywing van die strukturele grammatika. Dis een van die weinige boeke oor taal wat ʼn mens maar soos ʼn storieboek kan lees. Telkens sal jy vir jouself sê: maar ek weet dit; het nog nooit so daaroor gedink nie. Aan die einde verstaan jy taal baie beter. Hoofstuk 26, met die opskrif: Intimate Borrowing, sal heelwat lig werp op die Engels-Afrikaans-situasie in Suid-Afrika. Waarom is Afrikaanssprekendes so geneig om Engelse woorde te gebruik as hulle Afrikaans praat?
Na Bloomfield volg ʼn hele aantal linguiste wat aan die linguistiek ʼn empiriese, wetenskaplike grondslag gee. In plek van om te filosofeer oor taal, ondersoek en beskrywe hulle bestaande bekende, maar meestal onbekende tale. Sommiges het taal formeel benader en ontleed, sodat dit eerder na wiskunde as taalkunde gelyk het. Zellig Harris het sinne in kleiner en kleiner stukkies opgebreek en ontleed. Sy kollegas het sy werk heel eienaardig gevind, maar dit het ʼn groot invloed gehad op sy student, Noam Chomsky, wat beskou word as die vader van die moderne linguistiek.
Chomsky het Harris se formalistiese metodes van grammatikale ontleding geneem, dit verbind met sekere wiskundige beginsels en dit het gelei tot ʼn heel nuwe benadering van sinstruktuur. Sy idees van ʼn generatiewe grammatika het hy gepubliseer in sy boek Syntactic Structures (1957). Taal, volgens hom, bestaan uit ʼn dieptestruktuur (deep structure) en oppervlaktestruktuur (surface structure) en hieruit het hy sy transformasionele grammatika ontwikkel. Dit staan bekend as sy transformasionele, generatiewe grammatika (TGG), wat verduidelik waarom taal produktief is. By alle mense, ryk of arm, geleerd of ongeleerd, slim of dom, is hierdie linguistiese strukture aanwesig, en hiermee het hy B F Skinner se behavioristiese model vir taal hewig teengestaan. Hierdie innerlike strukture word gereflekteer in, wat Chomsky noem, ʼn Universal Grammar (UG). Sy taalsiening het ʼn groot invloed gehad op hoe taal benader moet word, selfs op die programmering van rekenaarprogramme.
Natuurlik word Chomsky se taalbeskouing deur verskeie ander linguiste geopponeer. Daar is o.a. beweer dat sy Universal Grammar alle moontlike taalvorms deurlaat, en die doel van ʼn grammatika moet juis wees om die onmoontlike uit te wys en te keer.
Hier moet ek vir eers halt roep.
Om hierdie skrywes van my as selfs ʼn kort geskiedenis van linguistiek te noem, sal voorbarig wees. Ek het nie eens melding gemaak van Jespersen, Langacker, Lyons en baie ander wat ook ʼn groot rol gespeel het in die denke agter linguistiek nie.
Groete,
Angus
The post Linguistiek (vervolg) appeared first on LitNet.