Die heilige ibisse het kom slaap
Die heilige ibisse
het sononder
een vir een kom land
in die hoë bloekombome
voor Hotel Boulevard
en hul wit vlerke
was lotuslelies
toegevou in spierwit Japanese kerse
aangesteek in die laat middagson
Had ek ook spierwit vlerke –
sodat ons saam
ons tuiste vir die nag
in die hoogste bome kon gaan soek
ons kon oprol in ’n lotuslelie
en wag totdat die rooi son –
ons môreoggend weer uitnooi
om uitbundig en onbeskaamd die
tuiskoms te kan vier
Ek verlang na ’n agterdeur
Vierkant, alkant
staaldeur voor
my hoenderhok
stellasie op stellasie
geen agterdeur
om by koffie te drink
om platboud koerant te lees
met ’n opgekrulde kat
op jou skoot
om Ma se brood agter jou te ruik
om mieliepitte uit te strooi
en in die oggendson
by die agterdeur –
aan die slaap te raak.
Jy het Parys kom begrawe
Jy het Parys kom begrawe
om nooit weer op te staan
in die duine van Sossusvlei,
langs die soutpanne in Etosha,
langs die waaisand by Kolmanskop
in die grasvlaktes van Klein Aus:
en die wildeperde het kromnek
saam gebuig
saam bly gewees
om terug te wees
in Afrika!
Om oud te word in Parys
Om oud te word in Parys
is om in stilte te eet
en met afgeslane oë
jou sop te lepelsuig
jou hond skelm
tussen jou bene deur te voer
aan krummels uit jou bord
jou stywe heupe in gelid te kry
een Euro fooi weer op te tel
en weer lank te kyk
na laasweek se advertensie
in die venster van die apteek
om stadig aan te skuifel
jou hond trekkend aan sy tou
na ’n donker woonstel
alleen in avenue Hoch.
Om terug te wees van weg gewees
Om weer weg te wees
van terug te wees
weg van tuis te wees
van elke dag weer om te wens –
om weer terug te wees
van weg gewees!
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: Gideon Brückner se inskrywings appeared first on LitNet.