Twee Suid-Afrikaanse musikante, Annari Breed en DuPreez Strauss, het pas op hul eerste Europese toer vertrek met die doel om Afrikaanse musiek en die groeiende ondersteuning van Suid-Afrikaanse kuns en kultuur in België en Nederland te vier.
Breed en Strauss het op 1 Maart na Vlaandere en Nederland vertrek vir ’n reeks optredes om ’n passie vir Afrikaanse musiek in die buiteland te bevorder. Hul deel hul eksklusiewe dagboekinskrywings met LitNet.
Op pad
Sestien maande gelede is ’n saadjie in die grond gesteek.
Iets wat begin het as ’n vlietende gedagte, dat DuPreez sou reël dat ek ’n lid van die Vlaams Zuid-Afrikaanse Cultuurstichting ontmoet terwyl ek in België was, het vorm aangeneem en gegroei tot ’n droom wat moes vlieg, of ons “reg” was of nie.
En hier is ons uiteindelik.
Die sonneblom is so hoog soos ’n mens en draai sy kop son toe.
Op ’n vliegtuig, op pad na Brussel vir ons eerste optrede in die Vlaams-Brabantse streek in die dorp van Tervuren.
Ek is pynlik bewus van ’n stille histerie binne my: sê maar niemand verstaan my wanneer ek in my moedertaal sing nie? Aangesien my liedjies almal liriekgedrewe is, sit ek dan met ’n groot probleem. Sê maar niemand daag op nie?! Hoekom sal hulle opruk in hulle hordes vir twee onbekende, niehoofstroom kunstenaars wat kom uit ’n land aan die ander kant van die wêreld? Sê maar ek word wakker en ek’t nie ’n broek aan nie, of sê maar húlle word wakker en ék was slegs ’n droom?! So kom die vrese een vir een verby gesnel asof op ’n silwerdoek en ek klou grootoog aan my stoel se armleunings vas.
Die hele storie voel skielik vir my soos een groot kansvattery.
Ek vra vir DuPreez: “Doepa, is jy ook bang?”
Ons kyk vir mekaar en begin saam glimlag.
Asof ons mekaar uitgevang het in ’n private oomblik van vertwyfeling, maar dankbaar is dat dit oplaas uit is in die oopte.
Ons herken beide hierdie vrees.
Hy/sy kom met ’n subtitel: “Jy doen die regte ding. Dit is moeilik, dit is ongemaklik, maar moenie bekommerd wees nie, jy doen die regte ding.”
Wanneer jy twyfel, kies altyd die moeiliker pad.
Die kanse is goed dat dit die regte een is.
De Warandepoort, Tervuren, 4 Maart
5 Maart 2017
Die gemoedelikheid van die mense en die verwelkoming wat ons hier ontvang, slaan my voete onder my uit. Ons verstaan en word verstaan, al gaan dit met hake en stote. Daar is ’n gewilligheid om ons te probeer begryp en dit raak my baie diep. Waarom? Waarvandaan hierdie diepe behoefte wat ons het om in ons moedertaal verstaan te word?
Na 15 jaar in Engeland (en ’n huwelik met ’n Skot) druk ek myself baie vlot en duidelik in Engels uit. Maar waar skuil hierdie Afrikanermeisie-deel van my persoonlikheid wanneer ek klets in Engels? Dit weet ek nie.
Die klanktoets met Patrick (wat ook vertel van sy laaste vakansie in Suid-Afrika) verloop seepglad. Alles is tot op die minuut uitgewerk en ons twee met ons “Afrika-horlosies” kom gou agter ons gaan moet wolsokkies optrek. Ek vind die mense vriendelik en ongelooflik behulpsaam, maar ’n knertsie meer gereserveerd as waaraan ons in Suid-Afrika gewoond is. Tog kry ek die gevoel dat as hulle jou eers ingelaat het, sit hulle jou nooit weer uit in die koue nie.
Op die verhoog die aand is dit asof ek deur die gehoor gedra word.
Nie net het die mense opgedaag nie, maar hulle het hulle wawyd-oop ore en harte ook saamgebring.
Vanaand kan ek voel, hoor, sien hoe elke hart in die saal om die een of ander onverklaarbare rede, oopgaan.
Ek wonder ... kan dit wees oor die taal waarin ek sing?
Herken hulle dit in hulle selle en in hulle bloed?
Asof die kollektiewe geheue hierdie veraf niggie van Nederlands wil terugneem na die familieplaas toe en wil gaan sit op die stoep met ’n beker koffie en uitvind: Waarmee was jy al hierdie lange jare, weg van huis en haard, besig?
Na die vertoning vind ons dit inderdaad ook so. Ons is twee ure nadat die vertoning geëindig het, steeds in die Foyer Restaurant besig om met gehoorlede te gesels. Elkeen het ’n storie wat hulle aan Suid-Afrika en Afrikaans verbind en wat hulle eenvoudig vir ons móét vertel.
Ek voel my ontroerd.
’n Dame wat onlangs haar seun verloor het en tot nou toe nie kon begin treur nie, is in staat om te begin huil wanneer ek sing “Sal jy onthou dat die nag nie vir ewig kan aanhou nie? Die son sal weer opkom en die donkerte verdryf.”
Iemand anders erken: “Ik kan niet alles begrijpen maar dat geef niets. De emotie begrijp ik wel heel goed.”
Almal wil ons omhels. Nadertrek. Een sê: “Door jullie zijn we precies op een reis meegenomen.”
Ons is meestal sprakeloos.
Dit het ons wydste en verste verwagtinge oortref.
Wat sou volgende wees?!
- Die toer word deur die Vlaams-Zuidafrikaanse Cultuurstichting (VZACS), in samewerking met Marnixring (’n internasionale diensklub vir die ontwikkeling, bewaring en bevordering van die Nederlandse taal en kultuur), aangebied.
The post Afrikaans in die Laaglande-toerdagboek: inskrywing 2 appeared first on LitNet.