Genade maar julle is snaaks, nie soos in laggerig nie maar soos in gemeen, vies, aaklig, venynig en lelik. Dirk is erg onthuts oor Raed-na-Gael se uitwys van die swak Afrikaans, tot so ’n mate dat hy half ad hominem raak en selfs die woorde ‘fok’ en ‘moer’ gebruik, iets wat mens van Jan Rap en sy maats kan verwag maar nie maklik van Dirk nie. Wat gaan aan? Iets stink in Denemarke.
Dirk weet te vertel dat, die enigste verantwoordelikheid wat die koerant het, is om as verspreidingskanaal vir daardie advertensie te dien. Verkeerd – as kaal meisies in ’n motoradvertensie gebruik word gaan die koerant nie daardie advertensie plaas nie; IEMAND by die koerant moet hierdie goed keur en sorg dat onwelvoeglike materiaal nie geplaas word nie. Daardie iemand by die koerant swaai lood of is bloot onbevoeg.
Die patetiese Afrikaans in die betrokke reklame is onwelvoeglik in die ergste graad en met dié nou dat Afrikaans deesdae onder totale aanslag verkeer, behoort ’n soort van ’n regstellende aksie ten opsigte van Afrikaans in die media te geld; daar moet ekstra voorsorg getref word teen hierdie soort onwelvoeglikhede wat Afrikaans in ’n slegte lig stel.
Dirk se kniebuig teenoor Engels is al so erg dat hy die volgende growwe fout maak: hy skryf “ . . . die adverteerder het dit goedgedink om beleefd teenoor die Afrikaanse leser te wees en haar in haar eie taal te bedien.” Die leser in ‘haar’ taal? Dit is grammatika verkrag in ’n poging om polities korrek (gender korrek?) te wees en in wese is dit patroniserend; ewe hooghartig word die vroulike ook nou ’n beurt gegee. ‘Leser’ hier, soos ‘persoon’, is ’n onsydige entiteit waarvan die persoonlike en besitlike voornaamwoorde soos die manlike is.
‘Leseres’ sou korrek gewees het as Dirk spesifiek die vroulike bedoel het maar dit sou dan die manlike lesers uitgesluit het terwyl die uitdrukking ‘die leser in sy eie taal’ voorsiening maak vir beide vroulike en manlike lesers. Hierdie praktyk van die vroulike ook ’n beurt gee is tipies Engels (veral Amerikaans) en dit is weer eens die klakkelose navolging van Engelse gebruik deur al hoe meer Afrikaanssprekendes. Engels het lankal sy hoflikheidsvorm verloor en ook die vroulike van meeste selfstandige naamwoorde maar vir baie van ons is dit goed Want Engels Is Goed (mos). Vir ouens soos Dirk-hulle moet Afrikaans ook in die vuur spring as Engels in die vuur spring.
Dirk se gedienstigheid is so tiperend van ’n groot gros Afrikaanssprekendes deesdae; hy sou verkies dat daardie reklamebylaag in Engels geplaas gewees het en “ ... elke liewe Afrikaanse leser sou presies geweet het watter produkte aan die bod was en wat dit kwansuis kan doen”. So al asof Afrikaans nie toereikend genoeg is vir hierdie soort reklame nie.
Nog is dit het einde niet. Dirk beskou hierdie brouwerk van die adverteerder as “beleefdheid teenoor die Afrikaanse leser” waar dit in wese ’n growwe afjak teenoor die Afrikaanse leser is. Hoe gedienstig kan mens nou eintlik wees? Soos die spreekwoord sê, as jy gaan lê is dit makliker om op getrap te word.
Angus se poging tot vertaling is in dieselfde gedienstige gees; die gehoor moet sien hoe ontoereikend Afrikaans is. Soos Raed-na-Gael sê, die bestuur (redaksie) by die koerant is te inhalig om ’n geldjie te spandeer vir ’n ordentlike vertaling. Trouens, dit behoort nie eers nodig te wees om geld uit te gee nie, eintlik moet enige werknemer daar in staat wees om daardie gemors reg te maak en sy salaris dek die koste. Maar EINTLIK, eintlik, behoort die adverteerder die nodige respek vir die koerant en sy lesers te hê om nie sulke gemors voor te lê nie. Respek word egter verdien en mens kan nie anders as om af te lei dat die Afrikaanse media Afrikaans so behandel dat niemand meer respek daarvoor het nie.
Raed-na-Gael slaan die spyker op sy kop as hy die ‘Dirk-Rigters’ (en natuurlik Angusse) kwalik neem vir die stand van ons taal.
Jan Rap
The post Kommentaar op Angus en Dirk se kommentaar onderaan Raed-na-Gael se brief van 10 deser appeared first on LitNet.