’n Mater op die sosiale blaaie maak die anderdag die stelling: “Die stryd is op ons; maak gereed vir oorlog…”
As Afrikaanssprekende in ’n land waar die taal in sommige plekke en deur sommige persone as skeltaal beskou word, was my eerste reaksie een van politieke vrees. Die beelde in die ou geskiedenisboeke, Bloedrivier en die drome van Siener van Rensburg en trawante, het ’n skielike koue gevoel in my binneste laat neerdaal.
’n Angstigheid wat vir ’n oomblik my gewone glashelder groen oë, dowwerig en vaal gemaak het, wat my sig, by die denkbeeldige aanskouing van flitsende pangas en brandende bande, stip na niks laat staar het …
Gelukkig nie vir lank nie.
Dit is inderdaad so dat elke doemprofeet glo dat sy voorspelling van anargie en verval meer waarde en waarheid as die volgende een s’n bevat, maar dit is gewis ook so, dat twee sulke draers van die slegste tyding selde, indien ooit, met mekaar sal saamstem. Aan die anderkant van die drom staan egter tog ’n vraag en wag: hoekom sal ek dan nie van die ewige strewe na die goeie, die ordentlike en die regverdige, dieselfde verwag nie?
Die oorlog is gewis hier, maar die stryd het niks met tradisionele wapens te doen nie.
Verlede Saterdagoggend het ek die son oor die Bolandse berge sien kruip, terwyl ek met ’n opgeruimde gemoed die vars wingerdlug buite Durbanville opgesuig en in ’n stille gebed die dagbreek onder ’n kwynende Melkweg kalm ingewag het. Op daardie pragtige vroegoggend was ek deel van ’n span wat op diens was en die deelnemers, werkers en uitstallers van ’n fees op ’n plaas se aankoms moes reguleer.
Vir ’n kortstondige moment was ek ’n spietkop én ’n padaanwyser met: “goeie more, wat kom u vandag op die plaas doen; waarheen wil jy gaan?”
Om dan vanuit die oorlaaide voertuie met kassies en kissies en wat ook al begroet te word met “stalletjie nommer sis-of-so asseblief …”
Waarop ek dan sou antwoord …“draai hier regs en volg die pad, iemand sal u daaronder inwag; geniet die dag; hoop dit sal goed gaan …”
So het die motors en bakkies se ligte die een na die ander van duskant sesuur Saterdagmôre die bultjie uitgeklim, na daar waar ek hulle, flitslig in die hand as wapen teen die laaste donkerte, sou inwag en groet en in ’n rigting stuur. Eenhonderd en nog ’n klompie voertuie van mense wat ek van geen vinkel of vaandel ken nie, maar elkeen tog te bly om iemand voor hulle in die pad te kry wat bereid is om hulle te ontvang en te groet; mense met roomvelle, bruinvelle, wat Ingels en Xhosa en Afrikaans praat en mense met blink haarlyne, langhare en kortes, sommige met ink bedruip en be-oorbel en ander daarsonder, maar tog, weinig bekende gesigte uit ons deel van die gemeente.
Met die uitsluitsel van een of twee wat wel bekend gelyk het, was nie een van hierdie stalletjie-opnemers wat hul goedere by die dag se Plaasfees kom uitstal het, lidmate van ons kerk wat die geleentheid organiseer nie; niemand wat vanweë en op sterkte van herkenning die “christelike naambord” as toegangskaart getoon het nie. Maar tog, hul toegang met ’n glimlag waardeer het.
Nader aan sewe-uur en die mense van ons kerk, die braaiers, potjiekosmakers, pannekoekrollers en ’n ieder en elke bekende en amper bekende begin ook oor die bult aan te kom na daar waar ek steeds by die wit poorte van die plaas se werf staan; gereed met dieselfde groet en vraag en goeie wense. Maar, in skrille kontras met die vriendelike vreemdelinge wat reeds deur die fees se poorte is, word my gemoedelikheid met kasterolie gevoer deur meer as een, indien nie die meerderheid nie, van ons kerk se lidmate.
Die sogenaamde ligdraers wat hier, ’n swak sonstraal na sonsopkoms, die werf sonder goeie maniere wil binnejaag, net omdat hulle kwansuis daarop geregtig is; mede-lidmate wat die tong kwistig rondswaai met ...“haal daai lig uit my oë uit!”... “jong, doen jou werk en maak oop die hek” ... of my persoonlike gunsteling nadat ’n gewer van sy duidelik kosbare tyd, my beste helfte toegesnou het met ... “jy hoef nie met my te praat asof ek ’n skoolkind is nie”… en dit omdat hý op die verkeerde plek geparkeer het!
Smaak my dis toe eerder duisterdraers.
Daar is gewis ’n klomp bekende en eerbare redes hoekom mense hul tyd, energie en vermoëns sal opoffer om by ’n geleentheid soos ’n fees, wat ten bate van ’n welwillendheidsorganisasie is, betrokke te raak. Daar is egter een duistere motief wat ek na bykans ’n dekade se betrokkenheid by hierdie een spesifieke fondswerwingsgeleentheid, nog steeds nie kan uitpluis nie: “Hoekom doen iemand die moeite om vrywillig betrokke te raak en op te daag om die taak te vervul, indien hy of sy net bereid is om dit op hul eie voorwaardes te doen?”
Hoekom sal ’n mens jouself deur soveel marteling plaas en om dan in die genesing daarvan eers ’n paar ander mense se dag of oomblik behoorlik te ontsuur?
So amper ’n geval van: ek steel solank die energie in jou vriendelikheid, sodat ek my eie suurgeit daarmee kan vul!
Dit pla my nogal.
The post Duisterdraer appeared first on LitNet.