In die laksman se skoot
Chris Marnewick
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485302650
Ek was aanvanklik skepties om In die laksman se skoot te resenseer – moontlik omdat die verhaal grotendeels in ’n Suid-Afrikaanse hof afspeel. En ook moontlik ure se vervelige stories om braaivleisvure deur vriende in die regsberoep, want benewens medici, maak hulle hulself seker die skuldigste aan shop talk. Die Engelse rolprent Shepherds and Butchers, wat op dié boek gegrond is, het egter baie goeie resensies ontvang, en daarom het ek besluit om die boek ’n kans te gee.
Die hofdrama is gegrond op werklike gebeure in die Suid-Afrikaanse regsgeskiedenis waar daar in 1987 alleen 164 mense in Pretoria tereggestel is.
Johann Weber, ’n senior advokaat van Durban, kry opdrag om ’n moordverhoor in Pretoria pro bono te behartig – dié van Leon Labuschagne, ’n eskort (iemand wat terdoodveroordeeldes na die galg neem) en bewaarder by “Maksimum” in Pretoria, soos Labuschagne self daarna verwys. Een laatmiddag skiet Labuschagne sewe insittendes van ’n minibus dood ná ’n onderonsie in spitsverkeer. Dit is Weber en sy junior pro deo-prokureur Pedrie Wierda wat Labuschagne se onskuld moet probeer bewys. Wat eers gelyk het na ’n hulpelose saak vir die verdediging, neem ’n ander wending namate Labuschagne se werksomstandighede blootgelê word en die trauma en emosionele druk waaronder hy gebuk moes gaan, onder die loep geneem word.
Die hoofstukke is in die dae opgedeel waarin die hofsaak afspeel. Tussendeur gebruik die skrywer verwante doodstrafsake om te probeer bepaal wat hierdie moordenaars dryf en of daar iets relevant is wat hy ter verdediging kan gebruik. Sommige van hierdie gevalle is skrikwekkend, en die moordenaars se weergawes van die misdade uit die dossiere tref die leser hard, hoewel ek dink dat die skrywer dit beter met die storie kon verweef het. Tussendeur word Pretoria en die argitektuur rondom die howe deur Pedrie Wierda ingekleur om ’n bietjie afwisseling van die hofgebeure te verskaf.
Marnewick se kennis van sy beroep word met deernis aangewend en dit kan byvoorbeeld op bl 401 gesien word: “Dit is moeilik om te begryp waarom enigiemand die advokaatsberoep sal kies met die wete dat elke dag ’n nuwe stryd gaan oplewer. Ons veg soos outydse ridders altyd iemand anders se geveg, en wanneer ons wen of verloor is dit iemand anders wat die vreugde of pyn ervaar. Die idee dat ons nie omgee oor die uitslag nie, is ’n versinsel. Natuurlik gee ons om. Wen of verloor, die uitkoms sal altyd by ons bly, net soos elke kliënt ’n permanente plek in ons geheue inneem.”
Hy wend die andersins saai en kliniese atmosfeer van die hof ook telkemale poëties aan (bl 187): “In die boonste galery heel agter begin iemand hoes. Almal kyk op. ’n Ry bleek gesigte kyk af na ons. Ek bespiegel oor wat die toeskouers van ons dink. Sien hulle ons as vegters in ’n Romeinse arena, of dalk as monnike in ons swart togas met ons rituele en oppervlakkige beleefdheid terwyl ons letterlik gewikkel is ’n stryd tot lewe en dood?” Ook oor die kruisverhoor in ’n hofsaak: “Kruisverhoor is die swaard waarmee die waarheid ontbloot kan word. In die hande van ’n ervare advokaat word die swaard nie gebruik om te probeer om met een hou ’n kop af te kap nie. Dit word eerder as ’n rapier gebruik om talle klein maar geniepsige wonde toe te dien, waarvan die slagoffer dan stadig doodbloei.”
Ek het nie verveeld met die hofgebeure geraak nie en dit eintlik baie interessant gevind om te sien hoe die proses werk. Marnewick se karakterontwikkeling skiet soms ’n bietjie te kort terwyl die verhaal op die hofgebeure fokus. Ek sou graag ’n bietjie meer wou geweet het oor die adjudantoffisier wat Labuschagne se senior was by die gevangenis. Asook oor Pierre de Villiers, Weber se swaer, wat hy inspan as speurder om te help met die saak. Dit is egter ’n goeddeurdagte verhaal deur ’n skrywer wat meer as genoeg kennis het oor sy veld. Daar is selfs ’n bevredigende kinkel in die kabel wat die leser onkant sal betrap as hy nie oplet nie.
In die laksman se skoot laat baie stof tot nadenke. Die mense wat gereeld vra dat die regering die doodstraf moet terugbring, sal twee keer dink ná die lees van die verhaal. ’n Mens besef nie altyd wie almal deur die doodstraf geraak word nie, en dis inderdaad nie net die persoon wat tereggestel word, sy familie, of die familie van die slagoffers nie. Regters, bewaarders, balju’s, advokate en prokureurs, om net ’n paar te noem – niemand spring die trauma vry wat die galg bring nie.
The post In die laksman se skoot deur Chris Marnewick, ’n resensie appeared first on LitNet.