Tess
Regie: Meg Rickards
Draaiboek: Tracey Farren, gegrond op haar roman Whiplash
Spelers: Christia Visser, Brendon Daniels, Dann-Jacques Mouton, Lee-Ann van Rooi, Tashanay Daniels, Quanita Adams
Ek het laas met Black swan (2010) só gebomskok uit ’n fliekteater gestap. Tess, wat laas jaar drie pryse by die Durban International Film Festival ontvang het, is die soort film wat elke byvoeglike naamwoord wat ’n resensent kan kies, banaal laat voel. Laat ek volstaan deur te sê dis een van die beste flieks wat ek al ooit gesien het. As enigiemand nog bewyse soek dat ons plaaslike filmbedryf werk van wêreldgehalte kan lewer – hier is dit.
Tess (Christia Visser) is ’n jong prostituut wat die Kaapse strande Muizenberg en Strandfontein “doen”. Soos die dwelmhandelaar Merrick (Brendon Daniels) dit stel: “Jy’s ’n wit, Afrikaanse meisie wat ordentlik grootgeword het, hoekom is jy dan ’n hoer?” Deur terugflitse na Tess se kinderdae kom die kyker mettertyd agter die hoekom.
Die verhaal word vertel met min dialoog, ’n treffende klankbaan en uitstaande kinematografie (grinterige beelde, beligting wat feitlik wit uitgeblaas word). Moet vir geen oomblik selfs net ’n sweem van die skoonste Kaap in Tess se wêreld van verlate treinspore, afgeleefde woonstelblokke en windverwaaide strande verwag nie. Moet ook nie ’n verromantisering van prostitusie as beroep verwag nie – dit is nie Pretty woman nie, dis harde, skokkende realiteit.
In ’n onlangse onderhoud sê Christia dat sy nie gerig is op ’n Hollywood-loopbaan en Oscar-beeldjie à la Charlize Theron nie. Met die gehalte spel wat sy hiér lewer, kan sy egter maar gerus daardie soort ambisie hê. Ek wil dit waag om te sê dat Tess nie moontlik sou gewees het sonder haar in die naamrol nie. Bygesê: die hele span in en agter hierdie film verdien net die hoogste lof.
As jy ernstig is oor film as ’n kunsvorm, móét jy Tess gaan kyk. Wees egter voorbereid op grafiese geweld en ’n uiters ontstellende verkragtingstoneel. Tog eindig die verhaal met ’n hoopvolle wending wat die ongenadige kykervaring draaglik maak, en dis des te meer oortuigend omdat die redding nie van buite kom nie, maar vanuit die karakter self groei.
Sterre: 5
The post Filmresensie: Tess appeared first on LitNet.