Die Herero-opstand 1904–1907
Gerhardus Pool
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485305941
Die optrede van die Duitse koloniale owerhede in Namibië tydens die Herero-opstand van 1904 kan met ’n aardskudding vergelyk word waarvan die naskokke vandag, meer as ’n eeu later, steeds gevoel kan word. Die gedeeltelike uitwissing van die Hererovolk, die vernietiging van hulle stamkultuur en die vervreemding van hulle tradisionele grondgebied was ’n nasionale trauma waarvan die nagedagtenis van een geslag na die volgende oorgedra is. Veral sedert onafhanklikheidswording in 1990 het ongelukkigheid in Namibië met opeenvolgende Duitse regerings se skynbare onverskillige houding jeens koloniale vergrype aan Duitse kant sterk na vore getree en al hoe meer toegeneem.
Tesame met sekere individue en groepe in Duitsland word daar van Namibiese kant al hoe meer druk uitgeoefen om Duitse verantwoordelikheid vir dié grootste ramp in die geskiedenis van die Herero van staatsweë erken te kry. By die eeufeesvierings in 2004 in Namibië het die Duitse Minister van Ontwikkelingsake vir die eerste keer van gruweldade gepraat “wat vandag as volksmoord beskryf sou kan word”. Maar eers in 2015 het die president van die Duitse Bundestag (parlement) aan die kern van die eise toegegee deur die optrede van die Duitse magte, veral die genadelose verdrywing van feitlik die hele Hererovolk tot diep in die onherbergsame Omaheke-woestyn wat tot die grudood van etlike duisende mans, vrouens en kinders gelei het, onomwonde as ’n volksmoord te bestempel. (Daar word geraam dat ongeveer 65 000, dws omtrent 75%, van die 80 000 Herero’s in die opstand omgekom het.) En vanaf Julie 2016 is dit amptelik: die Duitse regering teken verskoning aan vir die volksmoord op die Herero’s. Vir reparasies is die Duitse regering egter steeds nie te vinde nie.
Die gebeure van 1904 was só dramaties en ingrypend in die lewens van die inheemse bevolking, die Duitse setlaars en die soldate, asook vir die sosiale, ekonomiese en politieke omstandighede van die gebied, dat dit uit die staanspoor skriftelike verslae, historiese relase, outobiografieë en ’n groot aantal romans (hoofsaaklik in Duits, maar ook in Afrikaans) tot gevolg gehad het. Ook historici het nie op hulle laat wag nie. Tot om en by die jare sestig van die vorige eeu is die betreklik groot aantal historiese studies feitlik sonder uitsondering deur Duitsers en vanuit ’n Duitse perspektief geskryf.
Daarna, van die laat 1960’s af, het ’n aantal “linkse” en marxistiese navorsers meer krities gefundeerd en ideologies gerig na die geskiedenis van Duits-Suidwes-Afrika begin kyk. Akademici uit die kommunistiese Oos-Duitsland het argiefmateriaal begin ontgin waartoe hulle Wes-Duitse kollegas nie toegang gehad het nie. ’n Mens dink hier aan name soos Helmut Bley en Horst Drechsler. (Ook Ruth First het oor Suidwes-Afrika geskryf, met haar visier skerp op apartheid gerig.) Daardeur het ’n nuwe blik op die Duitse koloniale geskiedenis moontlik geword, en verbindingslyne is getrek na temas soos die Eerste Wêreldoorlog, die opkoms van die Nazi’s en die moord op die Europese Jode. Ook opvattings oor ras, die behandeling van die inheemse bevolking en die rol van die sending en vele meer is daarby betrek. En nog is het einde niet. Een van die onderwerpe wat skynbaar oneindige aandag geniet, is die verband tussen die koloniale situasie en die latere Nazi-ideologie en -praktyk.1
Teen hierdie agtergrond kom die herdruk van Gerhardus Pool se studie oor die Herero-opstand blykbaar op ’n baie gepaste oomblik. Pool se publikasie is op ’n doktorale proefskrif gebaseer en in die kader van militêre geskiedenis, en is ’n uitstekende stuk werk. Die navorsing is kennelik baie noukeurig gedoen, en bykans elke stelling word deur ’n verwysing na een van die menigvuldige argivale bronne geboekstaaf. Dit is vlot en in puik Afrikaans geskryf en die indeling in hoofstukke volg die gang van die militêre aksies op so ’n wyse dat die leser die soms ingewikkelde gebeure goed kan volg. Altesaam 23 kaarte gee ’n oorsigtelike beeld van troepebewegings en die ligging van die gevegsterrein, die strategiese plasing en bewegings van die opponerende groepe waardeur baie van die skermutselings en veldslae goed toegelig word.2
Die boek lees ten dele byna soos ’n aksieroman met die heen en weer van strydende magte, verkennings, vergissings, blapse en taktiese skuiwe, maar ook die probleme waarmee veral die Duitsers te kampe gehad het, soos die groot afstande, die digte bosruigtes wat beweging van mens en dier, die gebruik van byvoorbeeld masjiengewere, asook gewoon sig erg belemmer het, die chroniese watertekort, uitputting van die troepe en hulle perde en trekosse en, les bes, siektes soos tifus en malaria – wat alles tesame onbeskryflike eise aan die strydmagte gestel het. Maar alles beweeg dan tog meedoënloos en skynbaar onafwendbaar voort na die groot konfrontasie, die deurslaggewende slag by die Waterberg op 11 Augustus 1904, met die genadelose agtervolging in die woestyn tot in Oktober as ’n grusame epiloog. ’n Mens is byna geneig om hier in terme van die bou en onvermydelike konflik van ’n Griekse tragedie te dink. Tog was dit mense en menslike beweegredes en besluite, en nie die gode of die blinde noodlot nie, wat hier beslissend was.
Die narratief volg die gebeure uiteraard vanuit ’n Duitse invalshoek, aangesien daar haas geen geskrewe verslae van Herero-kant bestaan nie. Nietemin verkry die leser tog hier en daar inligting wat ’n mens laat besef dat jy versigtig moet wees met voorafingenome opvattings en stereotipes wat deur die bril van die Duitse betrokkenes en beriggewers van meer as ’n eeu gelede dikwels die alte subjektiewe en ideologies verwronge voorstelling van die teenstrydige groepe as objektiewe waarheid laat verskyn.
So is daar in die Duitse weergawe ’n duidelike swart-wit tekening waarvolgens die Duitse troepe dikwels groot heldedade verrig en groot moed en uithouvermoë aan die dag gelê het, terwyl die Herero’s as verraderlik, slinks, onbetroubaar, primitief, dikwels barbaars bestempel word. Pool is hier egter versigtig en poog om eensydige oordele te vermy. Uit sy studie word dit duidelik dat die opperhoof Samuel Maharero voor die uitbreek van die opstand ondubbelsinnig opdrag gegee het dat slegs Duitse mans omgebring moes word: vroue en kinders, Boere, Engelse en sendelinge se lewens moes gespaar bly. Dit was ’n bevel wat deur die oorgrote meerderheid van die Herero’s gehoorsaam is. (Kyk bv ble 91, 92, 106 en 112.) In teenstelling met hierdie (as ’n mens wil) beskaafde oorlogvoering is dit juis die Duitse bevelhebber, genl Lothar von Trotha, wat in sy berugte Vernichtungsbefehl (uitdelgingsproklamasie) van 2 Oktober 1904 geen genade of toegewings aan weerlose lede van die reeds gedemoraliseerde Hererovolk toon nie, soos waar hy onder meer verklaar:
Alle Herero’s moet die land (Suidwes-Afrika) verlaat. As hulle dit nie doen nie, sal ek hulle met kanonne daartoe dwing. Binne die Duitse grense sal elke Herero met of sonder geweer, met of sonder vee, doodgeskiet word . Ek herberg nie meer vrouens en kinders nie. Hulle moet óf na hul volksgenote terugkeer óf daar word op hulle geskiet. (Pool, bl 246)
Verder is dit duidelik dat die inheemse volk met oorgawe, groot vasberadenheid en moed vir hulle vryheid geveg het en die Duitse magte telkens met verrassende hinderlae, strategies slim bewegings, groot kundigheid van die terrein en blitsvinnige bewegings beïndruk het. Tog was hulle – meesters van die guerrillategniek van hoë beweeglikheid, lae sigbaarheid en skielike, verrassende aanvalle – ten slotte nie opgewasse teen hul vyand se tegnies superieure wapens en ander hulpmiddels van die moderne oorlogvoering nie, wat ’n skamele tien jaar later op Europa se slagvelde op groot skaal aangewend sou word en soveel bloedvergieting sou veroorsaak: telegrafie, heliografie, die spoorweg (al was dit beperk), masjiengewere en artillerie.
Boonop kon die Duitsers op periodieke troepeversterkings en aanvulling van materiaal staatmaak, terwyl die Herero, afgesien van die aanvanklike verrassingsaanvalle, meestal op die vlug was en maar min opsies tot hul beskikking gehad het. Boonop is hulle bewegings dikwels belemmer deur die beestroppe, en later ook deur die vroue en kinders, wat hulle vergesel het. Uit die staanspoor was die stryd dus in werklikheid eensydig, en oor die uitkoms was daar seker nooit werklik enige twyfel nie. Nogtans was die bitter einde, die barbaarse “totale oorlogvoering” en die byna volslae vernietiging van die Hererovolk en sy kultuur en sy degradering tot ’n landlose proletariaat nie die noodsaaklike en onvermydelike uiteinde van die konflik nie.
Die meeste van bogenoemde feite is wyd bekend en ’n mens moet jou afvra waarin die waarde van Pool se boek geleë is, afgesien van die nougesette uiteensetting van die gegewens van (hoofsaaklik) 1904. Die Herero-opstand het immers in 1979 reeds vir die eerste keer verskyn en blykbaar is die heruitgawe van 2016 ’n onveranderde oorname van die oorspronklike. Dit was weliswaar, soos reeds vermeld, ’n deeglike stuk navorsing wat nog tien jaar ná sy publikasie deur ’n Duitse studie oor dieselfde onderwerp vir sy bruikbaarheid as ’n onpartydige weergawe geloof is.3
By sy eerste verskyning was die Suid-Afrikaanse regering onder PW Botha nog by die “grensoorlog” teen Swapo betrokke en Namibië sou eers heelwat later onafhanklik word. Só baie het intussen gebeur, en die geskiedskrywing het ook nie stilgestaan nie. ’n Gesprek of beskrywing van ’n geskiedkundige gebeurtenis verwys tog steeds, hoe implisiet ook al, na ’n groter konteks en is dus altyd ook gerig op die hede. Pool is deurgaans uiters versigtig met stellings wat na waardeoordele mag klink, maar selfs ’n militêre veldtog hang kennelik nie maar net in die lug nie, veral nie wanneer dit so fundamenteel ingryp in die hele maatskaplike en politieke stelsel van ’n land soos in die geval van die Herero-opstand nie.
Pool sluit sy studie af met ’n hoofstuk oor die ekonomiese gevolge van die opstand vir die blanke gemeenskap wat met ’n lakoniese opmerking eindig (ble 281 ev):
Die opstand het egter nie net ekonomiese nadele gehad nie; dit het ook ekonomiese voordele opgelewer. Seker die vernaamste was dat die Herero nou verplig was om tot die algemene arbeidsmark toe te tree. Hy moes nou ook ander werk doen as bees oppas en hy moes gewillig wees om oral in Suidwes-Afrika te gaan werk. Dit het mettertyd die arbeidsposisie in die land as geheel aansienlik verbeter.
Hierdie slotsom spreek boekdele oor die ideologiese blindheid van hierdie benadering tot geskiedskrywing en sy onwilligheid, of dan onvermoë, om gegewens krities te beskou en standpunt in te neem. Maar dit was 1979. ’n Behoorlik inleidende voorwoord wat die groter konteks verhelder en veranderde standpunte en ontwikkelings rondom die gebeure van 1904 krities toelig, sou van baie groot waarde (of dan: noodsaaklik) vir ’n relevante heruitgawe gewees het.
Eindnotas
1 Om een voorbeeld van vele te noem: David Olusoga en Casper W Erichsen, The Kaiser’s Holocaust: Germany’s Forgotten Genocide and the Colonial Roots of Nazism. Londen: Faber, 2011.
2 Daar is een taalprobleem wat hinder: die Duitse woord Truppe is ’n versamelwoord en beteken min of meer “troepemag”; dit word nie soos die Afrikaanse troep in die sin van “soldaat” gebruik nie.
3 Walter Nuhn, Sturm über Südwest. Der Hereroaufstand von 1904. Ein düsteres Kapitel der deutschen kolonialen Vergangenheit Namibias. Koblenz: Bernard & Graefe, 1989.
Gunther Pakendorf is medeprofessor emeritus aan die Skool vir Tale en Letterkundes van die Universiteit Kaapstad en buitengewone medeprofessor in die Departement Vreemde Tale aan die Universiteit Stellenbosch
The post Die Herero-opstand 1904–1907 deur Gerhardus Pool, ’n resensie appeared first on LitNet.