Beste Jan,
Linguistiek is maar net ʼn ander naam vir taalwetenskap, en dit is die oorkoepelende naam vir alle taalondersoek wat op ʼn wetenskaplike wyse ondersoek word. Dit sluit onder andere in grammatika, stilistiek en sosiolinguistiek. Chomsky word beskou as die vader van die linguistiek, sowel as van die moderne grammatika.
Daar was ʼn tyd toe linguiste hulle toegelê het op die studie van die geskiedenis van die taal, die herkoms daarvan en hoe dit deur die tye verander het. Dit staan bekend as die diachroniese studie van taal. ʼn Fransman by name Ferdinand Montgin de Saussure het begin om taal te bestudeer soos dit nou funksioneer en dit staan bekend as ʼn sinchroniese taalstudie. Grammatika is ʼn beskrywing van taal soos dit op die huidige oomblik funksioneer, en daarom word dit deskriptiewe grammatika genoem. Dit beskryf taal soos dit is, terwyl ʼn preskriptiewe grammatika ʼn taal sal beskryf soos dit behoort te wees. (Maar nie noodwendig soos dit nou meer is nie.)
Daar bestaan talle metodes om ʼn vreemde taal aan te leer, maar die twee wat die gewildste is, is die Grammatika-vertaalmetode en die Direkte metode. Eersgenoemde is natuurlik die bekendste, veral by diegene wat Duits en Latyn op skool geneem het. Hiervolgens word die leerder die grammatika van die taal geleer as platform vir die aanleer van die taal. Wat Duits (of ook Engels, Afrikaans, Spaans, Portugees, ens) betref is hierdie metode ʼn mislukking, en word nog net deur tweedetaalonderwysers gebruik wat nie bygehou het met die metodiek van hulle vak nie.
Die direkte metode is die suksesvolste, want dit is so na aan die aanleer van die moedertaal as dêmmit aan ʼn vloekwoord. Slegs uiters knap onderwysers kan dit toepas, want dit verg moeilike en slim voorbereiding. Onnodig natuurlik vir my om te sê, nie ʼn woord oor grammatika in so ʼn klas nie.
Jou bewering dat ʼn mens grammatika kennis moet hê om ʼn taal te kan praat, is direk in stryd met moderne taalonderrig, en heeltemal foutief.
Volgens jou moet die klein Engelsmantjie wat “I am” sê, die volgende grammatikale kennis hê: Hy moet weet dat ‘I’ ʼn persoonlike voornaamwoord is; hy moet weet dat ‘I’ die vorm van die eerstepersoonsvoornaamwoord as dit in die onderwerpsposisie staan; miskien het hy ook al Latynse grammatika onder die knie, en weet hy van die nominatiewe naamvalsposisie; hy moet weet dat ‘am’ die eerstepersoonsvorm is van die infinitief ‘to be’, dat dit ʼn koppelwerkwoord is, en dat dit oorganklik gebruik word. En nog is het einde niet. Daar is nog heelwat grammatika verbonde aan “I am” wat die outjie moet weet voordat hy, volgens jou, kan sê: “I am”, maar ek wil jou nie daarmee verveel nie.
Nee, Jan, dis nie hoe taal werk nie. Hierdie klein Engelsmantjie het ʼn taalvermoë omdat hy ʼn mens is. Hierdie taalvermoë stel hom in staat om ʼn ingewikkelde taalsisteem baas te raak deur net blootgestel te wees aan die taal van sy ouers, en ander mense wat miskien ook geen snars kennis het van grammatika nie.
Jy verwar taalvermoë met grammatikale kennis. Eersgenoemde is aangebore by die mens, terwyl laasgenoemde ʼn studie is van daardie taalvermoë. Chomsky trek ʼn verband tussen hierdie sogenaamde taalvermoë en die taal wat die mens praat met sy deep en surface structures.
Oor jy insig van feite en teorieë kan ek maar net sê dat jy dit in hulle populêre betekenisse gebruik. Vir my is ʼn teorie die grondplan wat opgestel is nadat heelwat navorsing en studie gedoen is van een of ander natuurverskynsel of begrip. As jy beweer dat dit jou teorie is dat RSG Afrikaans ondermyn, is dit sommer net praatjies. So nie moet jy my jou studie wys in dié verband, en jy moet dit bekend stel, sodat ander deskundiges die juistheid daarvan kan bepaal. Wat feite betref: hulle raak verouderd, en verander. Feite wat vinnig verander, soos die prys van ruolie, sien die mens raak, maar feite wat uiters stadig verander, merk hy nie op nie, soos dat ʼn jaar bestaan uit 365¼ dae. Jy kan hierdie feite-inersie by die mens gaan toets. Kyk na ʼn horlosie, en jy sal die beweging van die sekondewyser maklik kan raaksien. Jy mag jou nog verbeel jy sien die minuutwyser beweeg, maar die uurwyser staan vir jou doodstil.
Geradbraakte Afrikaans is Afrikaans wat amper onverstaanbaar is. As Afrikaans se woordeskat verryk word deur Engelse woorde, word dit nie onverstaanbaar nie, inteendeel, ʼn mens verstaan dit beter. Niemand sal sê: “ you noemed that we don’t have a toekoms together” nie. Sou iemand so praat, sal sy hoorders hom deeglik verstaan, want hulle sal dan dieselfde taal praat, maar ek betwyfel dit ten sterkste. Jy moet verstaan dat Engels ʼn wêreldtaal is, en het eintlik niks nodig van Afrikaans nie. South African English het nou wel so ʼn paar honderd Afrikaanse woorde opgetel, maar dit is beperk tot Suid-Afrika. Australiese Engels gebruik dit nie en so ook nie Amerikaanse Engels nie. Afrikaans, daarenteen, is baie afhanklik van Engels. Op alle gebiede moet Afrikaans bars om by te hou met vertalings, nuutskeppinge, verafrikaansings. Neem maar enige sport (behalwe jukskei) en kyk hoe wemel dit van die Engels. Kyk maar na ons regeringstelsel, die regstelsel, die polisie, die weermag, al die dissiplines van die wetenskap, ens. Haal Engels uit Afrikaans en dan sal net ʼn geradbraakte taal oorbly, en dan sal jy verstaan wat geradbraak beteken.
Nog verstaan jy nie dat ek nie iets verdedig nie, allermins dat ek dan sou polities korrek wil wees. Ek hou self nie van Engelse woorde wat in Afrikaans gebruik word nie. Ek beskryf maar net wat werklik aan die gebeure is. Dis net ʼn blinde (of is dit ʼn dowe?) wat nie kan insien dat nuwe woordeskat by ʼn taal die taal se uitdrukkingskrag verryk nie. As jy so twee eeue gelede geleef het, sou jy darem lekker die herrie kon opskop oor jou geliefde Nederlands wat ʼn geradbraakte taal word met al die vreemde woorde en die verwoesting van die Nederlandse grammatika.
Groete,
Angus
The post Vir Jan oor linguistiek en grammatika appeared first on LitNet.