AfriForum het dit reggekry om Julius Malema en die EFF te muilband deur middel van ’n hofinterdik mbt die opsweep van hulle ondersteunersbasis om onwettig ander se grond te beset en onwettig te plak.
Dit moes eintlik die DA-opposisie se taak gewees het, maar nee, deurgaans was hulle tjoepstil, te bang hulle verloor hulle magsposisie in die groot metro’s wat van die ANC onlangs afgevat was indien die EFF hulle steun aan die DA onttrek.
Met die paar setels in beide die parlement en die munisipale rade, het die EFF die hef in die hand. Julius het aan die ANC voorgestel, dat met die EFF se 6% ondersteuning, die twee partye gesamentlik ’n twee-derde meerderheid sal kan bewerkstellig om die konstitusie te kan wysig sodat blanke-boere sonder vergoeding onteien kan word. Gelukkig, weens die ANC se bitsige venyn teenoor die EFF, was hulle nie bereid om met die EFF saam te werk nie, tot nadeel van hulle eie siening, wat soortgelyk aan die van die EFF s’n is. Ten tye van hierdie voorgestelde transaksie van Julius aan die ANC, was die DA ook tjoepstil! Nou spring Julius terug na die DA en ander opposisie partye met die voorstel, dat almal van hulle hulle parlementêre setels bedank sodat daar nie meer ’n kworum in die parlement is nie, wat die Speaker sal dwing om ’n verkiesing uit te roep. Vergun dit. Julius is ’n meester manipuleerder.
As gevolg daarvan dat daar geensins meer in die parlement beskerming in belang van die blanke minderheid verleen word nie, is AfriForum stadig maar seker besig om as ’n de facto alternatiewe gesag in blankebelange op te tree. Al hoe meer links- en reggesindes in blanke politiek is besig om na AfriForum te graviteer, wat hulle ondersteunings en finansiële basis laat groei en verder verstewig.
The post ’n Groot nadeel van ’n koalisieregering appeared first on LitNet.