Gesprek van Estelle Kruger met Carina America en Michele van der Merwe oor hulle artikel:
Hoe het julle twee mekaar “ontdek” en besluit om saam hierdie Mobilex-projek aan te pak?
CA: Ek het voorheen ’n lees-praat-skryf-projek met my EBW-studente gedoen waaroor ek later ’n artikel geskryf het met die fokus op konsepgeletterdheid. Ek en Michele het eendag gesels oor die uitdagings wat eerstejaarstudente ervaar, ek het haar vertel van die projek en ons het besluit om saam te werk met die Mobilex-projek.
MvdM: Teekamergesprekke help!
Hoeveel EBW-studente gebruik reeds hierdie selfoonwoordeboek?
CA: Mobilex is beskikbaar gestel aan al die eerstejaarstudente, maar die frekwensie van die gebruik deur EBW-studente is nog spekulatief en moontlik deel van ’n opvolgprojek.
Verduidelik asseblief kortliks die proses om so ’n veeltalige selfoonwoordeboek te ontwikkel?
MvdM: Werk aan so ’n vakwoordeboek vereis goeie spanwerk en samewerking met vakdosente. As leksikograaf dryf ek die projek, maar ek is afhanklik van vakdosente se bereidwilligheid om saam te werk. Aangesien die selfoonwoordeboek op voorgraadse studente gemik is en hulle dus die teikengebruikers is, is dit vir my belangrik dat daar in hulle leksikografiese behoeftes voorsien word. Vakdosente wat klasse aan voorgraadse studente doseer, is goed op hoogte met die terminologie wat in die spesifieke vak benodig word. Hulle gaan deur lesings en aanbiedings en soek sodoende terme om in die vakwoordeboek op te neem. Dosente verskaf ook ’n bondige omskrywing van terme wat op voorgraadse vlak gebruik word. Daarna word die terme en betekenisverklarings na die Taalsentrum gestuur vir vertaling in Afrikaans of Engels, en Xhosa. Wanneer alles geproeflees is en in die korrekte formaat verskyn, word dit elektronies op Mobilex gelaai en is dit gereed vir gebruik.
Wat was julle elkeen se ervaring in onderwys voordat julle die akademie betree het?
MvdM: Ek was dosent by Hoëveld Kollege, Brakpan Kollege, Boland Kollege en KSUT (Wellington).
CA: Ek was ’n dosent in die Fakulteit Bestuurswese aan KSUT (Kaapstad), het in die privaatsektor gewerk, en was ook ’n rekeningkunde-onderwyser.
Word huidige onderwysers en ander dosente ook opgelei om die selfoonvakwoordeboek te gebruik?
MvdM: Die woordeboek is baie gebruiksvriendelik en dosente gebruik die woordeboek as ondersteuningsmiddel vir studente, veral op die universiteit se leerplatform.
Wat is die potensiaal om soortgelyke selfoonwoordeboeke in ander vakke te ontwikkel?
MvdM: Mobilex bevat tans ook terminologie vir geskiedenis, aardrykskunde, wiskunde, die natuurwetenskappe en opvoedkundige sielkunde en word dus wyd in die fakulteit gebruik. Die Fakulteit Teologie maak ook van Mobilex gebruik en daar is reeds etlike terme in verband met teologie gelaai.
Julle studie het Afrikaans- en Xhosasprekende studente betrek. In watter mate gebruik Engelssprekende studente ook die Mobilex?
MvdM: Ons glo dat hulle dit ook gebruik, maar ons studie het nie op hulle gefokus nie, aangesien daar meer leksikografiese bronne tot hulle beskikking is.
Is julle Mobilex gereed om bemark te word aan skole? Indien wel, hoe sal julle dit doen?
MvdM: Die WKOD is bewus van die projek en daar kan geleentheid vir samewerking wees. Op die oomblik is ons teikengebruikers voorgraadse studente, maar dit kan aangepas word om baie effektief in skole gebruik te word. Ek dink dit kan baie nuttig in die klaskamer wees, veral waar leerders nie in hul moedertaal onderrig word nie.
As jy die hoof van ’n skool was, hoe sou jy die onderwysers motiveer om opgelei te word om hierdie woordeboek te gebruik?
MvdM: Woordeboeke moet as kennisbron gesien word – houers vol nuttige taalkundige inligting. Woordeboeke se rol is om kommunikasie tussen taalgebruikers te verbeter en om gebruikers te help met lees, luister, praat en skryf.
Wat was vir julle die grootste uitdagings in die ontwikkeling van Mobilex? Hoe het julle dit oorkom?
CA: Die sinchronisering van die verwagtinge van die vakkundige en dié van die taalkundige/leksikograaf. Goeie spanwerk en geduld. Ons het probeer om by die sperdatums te hou.
Wat het julle van julleself geleer in die proses van hierdie navorsingsprojek en skryf van die artikel?
CA: Om geduldig te wees. Dit is tydrowend om navorsing te doen en ons tye vir persoonlike kontak is beperk as gevolg van ander akademiese verpligtinge. Die interaksie was goed en ek het so baie geleer van leksikografie.
Is daar enige nuwe ontwikkelings ivm selfoonwoordeboeke op julle horison?
MvdM: Ek het befondsing van die Departement van Kuns en Kultuur ontvang vir die volgende drie jaar, en beoog om die woordeboek verder uit te brei en te ontwikkel.
The post Selfoonwoordeboeke, ’n onderhoud appeared first on LitNet.