Naomi Meyer het met Ryk Hattingh gesels oor Sing jy van bomme wat vanjaar by die US Woordfees op die planke was.
Hallo Ryk, jou Huilboek het verlede jaar verskyn en nou het die drama waarvoor jy die teks in 1988 geskryf het, Sing jy van bomme, by die US Woordfees gespeel. Wat het jou die idee(s) vir Sing jy van bomme gegee, as jy nog kan onthou?
Sing jy van bomme het tot stand gekom tydens die onstuimige tye in die tagtigerjare. Die ou regime het alles in die stryd gewerp om die populêre opstande te onderdruk en die Suid-Afrikaanse gemeenskap is toenemend gemilitariseer. Die weermag en polisie is in die swart woonbuurte ontplooi en uniforms, pantservoertuie en helikopters het deel van die landskap geword. Moordbendes het aktiviste vermoor, die media is deur streng staatsensuur aan bande gelê, mense het verdwyn. Kortom, Suid-Afrika was op die rand van ’n afgrond. In dié neerdrukkende atmosfeer het al hoe meer wit mense begin besef dat hulle nie langer deel van dié moordmasjien wil of kan wees nie. Soldate het begin dros, alternatiewe organisasies is op die been gebring, mense het hul lewens gewaag om hulself teen die heersende orde uit te spreek. Die tagtigerjare was ’n smeltkroes van kulturele en politieke idees wat die stelsel met mening van binne af getakel het. Dis waar Sing jy van bomme vandaan kom.
Sing jy van bomme ... Is dit ’n drama uit die verlede hierdie, of een oor die toekoms? Waar speel dit af, en wie is die karakters? Kan jy iets van die storie verklap, vir diegene wat dit nie ken nie?
Nege-en-twintig jaar gelede het Sing jy van bomme groot opslae gemaak. Toe is dit as kontemporêre protesteater beskou. Op aandrang van Saartjie Botha en Gerrit Schoonhoven, die regisseur, het ek besluit om die teks onder die loep te neem en ’n bietjie aan te pas vir vandag of, as dinge in Suid-Afrika verder verval, dalk vir môre. Tog dink ek Sing jy van bomme is ’n eietydse stuk met ’n boodskap vir vandag.
Die oorspronklike opvoering het in Johannesburg afgespeel. Dié keer speel dit af in ’n postapokaliptiese, vervalle stad met ’n oorheersende steam punk gevoel.
Wat die karakters betref: Duif (Liezl de Kock) is ’n oordrewe stereotiepe huisvrou wat lewe vir aksierolprente, tee, en natuurlik haar man, die Kolonel (Frank Opperman). Die Kolonel is ’n gesoute militaris wat wet en orde met oorgawe najaag. Ampie (Luan Jacobs), Duif se broer, voel vere vir die militêre aanslag op die onderdruktes en kruip onder ’n kombers in om dit te ontduik. Mona (Hilda Cronje), ook uit ’n militêre huis, het weggeloop en droom daarvan om ’n punk band op die been te bring. Dan is daar Kruit Kruger (Zak Hendrikz), ’n hartelose entrepreneur wat bomme vanuit sy kroeg verkoop aan enigiemand wat geld het om daarvoor te betaal. Sy vriendin, Baby (Stephanie Gericke), het genoeg gehad van Kruit se bedrywighede en maak planne om hom te los. Laastens het ons twee krygers, Andy (Marnitz van Deventer) en Daantjie (Kaz McFadden), op verlof om ’n gesneuwelde kameraad te begrawe. Alles gebeur in een aand.
Die land was ’n ander plek toe jy Sing jy van bomme geskryf het. Of was dit? Wil jy iets van Suid-Afrika vertel en hoe jy dit nou beleef, jare later?
Ek was twee jaar gelede in Suid-Afrika en ek dink nie ek is regtig bevoeg om my te veel uit te laat oor die land nie. Tydens my laaste besoek was ek diep onder die indruk van die enorme gaping tussen die magdom van brandarm mense aan die een kant en die buitensporige weelde en rykdom van ’n handjievol aan die ander kant. En ’n mens kan nie anders as om te wonder wat van die beginsels van die destydse vryheidsmanifes geword het nie, want dit wil voorkom of die land weliswaar in die kille goudgreep van groot geld is.
Sing jy van blomme ... Is daar iets in hierdie land waaroor mens positief kan wees? Is dit nie die doel van die oefening nie?
Natuurlik is daar rede om positief te wees. Dertig jaar gelede was Suid-Afrika in die greep van ’n magtige militêre masjien met sensuur en indoktrinasie en ongelykheid as grondbeginsels. Die land is bevry van dié ongeregtighede. Nou is daar egter uiteraard nuwe monsters om aan te vat.
Die destydse koerantknipsels van Sing jy van bomme is verskaf deur Ryk Hattingh.
The post US Woordfees 2017: Sing jy van bomme, ’n onderhoud appeared first on LitNet.