Daniël Wolmarans, wat verlede jaar in die kategorie Deurbraak vir sy spel in Skadu vir ’n WOORDtroFEE genomineer is, is vanjaar weer by die US Woordfees te sien in die debuutproduksie Drie.
Drie.
Drie.
Louis Preller maak handskoene by sy huis. Sy huis is skoon en hy hoef nie iewers heen te gaan waar hy miskien meer as drie trappe moet klim nie. Wanneer hy uitgaan, trap hy nie op die groewe tussen die teëls nie. Hy skud nie blad nie. Hy trek sy skoene by sy voordeur uit en wanneer hy kuiermense kry, moet hulle eers hulle hande was voor hulle mag inkom. Louis Preller is ’n 37-jarige, enkellopende OCD-lyer. En hy verkies die donker, want dan kan niemand sy foute sien nie.
“Ek is Louis. Louis Preller. Ek is bewus van wat fout is met my. Vir jou is dit vreemd, ongewoon, simpel, irriterend, abnormaal. Vir my is dit doodnormaal.”
OCD staan natuurlik vir “obsessive-compulsive disorder”, oftewel “obsessief-kompulsiewe steuring”. In dié eenmanvertoning word die gehoor blootgestel aan die innerlike konflik en dialoog wat gewoonlik tot die binnekamer van die OCD-lyer beperk is. Louis Preller vertel sy storie en lig sy gewoontes toe deur na die simptome van OCD te verwys. Omdat hy ’n daaglikse stryd met angs het, is sy gewoontes daarop gemik om ’n mate van beheer oor sy lewe te behou. Ter wille van oorlewing moes hy gedrag aanleer wat hom meer in beheer sou laat voel, veral te midde van sy moeilike kinderjare.
Hy het onder andere ’n obsessie met die getal drie. Hy maak die deur drie keer oop en toe wanneer hy of een van sy kuiergaste die kamer binnekom of verlaat (ook tot die gehoor se genot wanneer hy die deur vir “Mejuffrou” oopmaak wanneer sy by hom kom aandete eet, en hy dit eers twee keer in haar gesig toemaak voor sy die derde keer mag inkom).
Soos Louis meer vertel van sy ongesonde verhouding met sy ma, sy isolasie van ander mense en ook sy behoefte aan aanraking (wat hy doelbewus vermy weens sy vrees vir kieme), word die gehoor uitgedaag om dié deel van Louis te aanskou wat nie eers sy ma kon verduur nie. Sy kompulsiewe gedrag was by tye ongemaklik om te aanskou, en ek het telkens gevoel hoe my hart vinniger klop wanneer Louis tydens sy angsdeurdrenkte monoloë drie tree op ’n slag op en neer oor die verhoog loop.
Daniël Wolmarans se spel was onverbeterlik en hy het my aandag van die begin tot die einde behou.
Louis se konstante gesprek met homself, sy frustrasie met sy kompulsiewe gedrag en sy “argumente wat met mekaar begin argumenteer” is pynlik eerlik. Terselfdertyd ook ontstellend wanneer Louis se spel dit duidelik maak dat hy insig in sy eie toestand het en weet dat dit disfunksioneel is, maar dit steeds nie kan verander nie – selfs al probeer hy sy brein manipuleer en dissiplineer.
Die produksie werp lig op ’n steurnis wat te maklik blameer word wanneer iemand bietjie meer perfeksionisties as die norm is. Deurdat die storielyn met interessante feite oor die steurnis gekombineer word, kan die gehoor die produksie geniet en terselfdertyd ook ’n paar minder-bekende feite inwin.
Die vraag wat die produksie stel en waarmee Louis die gehoor konfronteer, is wat die konsep van “perfek-wees” behels. Is ons perfek omdat ons die deur slegs een keer hoef oop te maak? Of is Louis perfek omdat hy altyd seker maak sy deur is gesluit?
Die aandag aan besonderhede, soos die netjiese stelontwerp, die aan- en uittrek van doktershandskoene wat telkens na gebruik weggegooi word, en die fyner nuanse van Wolmarans se spel, dra by tot ’n debuutproduksie wat die toonbeeld van deeglike navorsing en weldeurdagte wisselwerking tussen al die elemente is. As Drie drie maal gewys het en ek al drie vertonings bygewoon het, sou ek elke keer iets nuuts daaruit kon neem.
Drie by die US Woordfees
11 Maart 18:00 by die Weltevreden Waenhuis
60 minute
R80 | R90 by die deur
The post US Woordfees 2017: Drie, ’n resensie appeared first on LitNet.