Beste Angus
Wat jy op 23 Februarie skryf oor die bestudering van spraakklanke, spraakklankverskynsels ens klink vir my reg behalwe dat dit die veld van die linguistiek is. Ek het nou nie taal nagraads soos jy bestudeer nie maar na my mening is dit die linguis wat so diep in sintaksis, die oorsprong van woorde ens ens ingaan.
’n Linguis soos Chomsky bestudeer die, noem dit maar ‘meganika’, van taal as kommunikasiemiddel en hy sal verskeie tale se werkinge as verwysing hê. ’n Grammatikus bestudeer die geskiedenis van ’n spesifieke taal se grammatika, oorsprong van woorde ens, die ‘hoekom’ van daardie taal se grammatika. So sal jy dus ’n Duitse of Engelse of Afrikaanse grammatikus kry (soos Willem Botha, Tom McLachlan of wyle Anton Prinsloo) wie se spesialisgebied ’n spesifieke taal is. ’n Linguis, aan die ander kant, bemoei hom met die breër aspekte van taal as kommunikasiemiddel. Grammatici is taalpraktisyns in ’n spesifieke taal waar linguiste die breër beginsels van taal in die algemeen bestudeer. Linguistiek staan teenoor grammatika soos suiwer wiskunde teenoor toegepaste wiskunde, of soos wetenskap teenoor tegnologie.
Wanneer jy ’n vreemde taal aanleer dan gaan jy nie daardie taal se grammatika BESTUDEER soos ’n grammatikus nie; jy gaan bloot die grammatika, saam met die woordeskat, van daardie taal leer. As jy byvoorbeeld Duits leer moet jy die grammatika (en die woordeskat) ken voordat jy die taal kan praat; jy moet weet wanneer om die datief of die genitief of wat ook al te gebruik. Iemand wat die taal volgens die Berlitzmetode, of aan moedersknie, geleer het gaan waarskynlik nooit weet dat, wat hy nou inspan, die akkusatief of nominatief is nie maar hy gebruik dit korrek. ’n Engelsman wat byvoorbeeld ‘whom’ reg gebruik weet nie eers dis die datief van ‘who’ nie. Soos ek jou al gesê het, jy hoef nie fisiologie te bestudeer het om die spiere wat jy vir stap nodig het se name te ken nie; jy kan stap sonder enige kennis van die spiername.
Die kind waarna jy verwys wat sy taal redelik goed kan praat kan slegs die taal redelik goed praat omdat hy dit grammatikaal ken. Hy sal nie indien hy nou ’n Engelsmantjie is, “I is” of “I are” sê nie; hy sê “I am” omdat hy die grammatika ken. Hy sal nie vir jou kan sê dat hy nou die eerste-persoonsuitgang van die werkwoord ‘to be’ gebruik nie want hy hoef nie die grammatikaterme te ken om die grammatika onder die knie te hê nie.
My bewering dat jy kennis moet hê van die grammatika om die taal te kan praat is reg; anders kan jy nie die taal praat nie. Om ’n vreemde taal te leer, leer jy die grammatika en die woordeskat.
Wat feit en teorie betref: As ek vir jou sê ek het ’n teorie dat RSG Afrikaans ondermyn dan is dit slegs my mening, dit is nie noodwendig ’n feit nie. As ek toevallig in ’n kroeg ’n werknemer van die SAUK raakdrink, en sy tong raak los, en hy sê vir my hy was in ’n vergadering waar besluit is dat Engels op die Afrikaanse sender gestoot moet word, dan is dit ’n feit so uit die perd se bek uit. Ek het egter nog nie so iemand raakgedrink nie en my mening dat RSG Afrikaans ondermyn bly net ’n teorie, ’n mening. So, op die lys van wetenskaplike waarhede is teorie ondergeskik aan feit en nie andersom soos jy beweer nie.
Jy’s reg, ons (baie van ons) gooi sommer net Engelse woorde in en dus, per definisie, praat geradbraakte Afrikaans. As “jy’t gemention dat ons nie ’n future saam het nie” vir jou meer “streamlined” is as “jy’t genoem dat ons nie ’n toekoms saam het nie” dan is “you noemed that we don’t have a toekoms together” seker ook meer vaartbelyn vir jou as wat “you mentioned that we don’t have a future together” is. As dit so is dan is dit seker jou smaak maar jy yl as jy dink dit is verrykend wat woordeskat betref want in albei gevalle bestaan die vervangde woorde in die oorspronklike taal, dus geensins verrykend nie. Jy verdedig die onmoontlike vermoed ek net om polities korrek te wees want so ’n simpel argument kan nie die produk van logiese denke wees nie.
Groetnis
Jan Rap
The post Vir Angus oor sy brief ‘taal, grammatika, feite, teorieë en Afrikaans’ appeared first on LitNet.