Die Radio Kalahari Orkes is ná 'n lang stilte terug met 'n nuwe album, getiteld Mamba!. Ian Roberts, veteraanakteur en sanger van RKO, beantwoord 'n paar vrae.
Goeiedag, Ian. Hoe's dinge?
Dinge is goed, dankie, Henry.
Geluk met Radio Kalahari Orkes se nuwe album! Dit is die band se eerste uitreiking in min of meer vyf jaar – 'n betreklik lang tydperk tussen vrystellings. Waarom die lang wagtydperk? Wat is die voordele daarvan om mens se tyd te neem met 'n nuwe album, en hoe dink jy skemer dit op die ou end deur in Mamba!? Met watter soort nuwe aanslae wou julle eksperimenteer, en hoe het julle te werk gegaan om die balans tussen dit en die outentieke RKO-klank te behou en uit te bou?
Ons het so lank geneem omdat ons so lank geneem het. Toe die Pous vir Michelangelo gedurig vra wanneer gaan die Sistynse Kapel se plafon klaar wees, toe sê die groot skilder: "Dit sal donners klaar wees wanneer dit klaar is!"
Ons het twee weke gehad om op te neem. Ons het nie baie geëksperimenteer nie. Die balans het homself bewerkstellig in 'n mirakel.
Dis nogal opmerklik hoe uiteenlopend die album is – dit tref 'n mens as 'n bykans 50/50-opdeling tussen draakstekerige pretliedere soos "Bobbejaanvlei" en "Charlize Please" en snitte wat drup van sielswroeging, soos "Oor die see" en "Jezebel". Dit voel ook soos die geval as 'n mens kyk na van RKO se grootste treffers oor die jare – "Melanie" het byvoorbeeld 'n ietwat ander gevoel as "Blaas my vuvuzela". Watter van hierdie twee strate geniet jy meer? Watter een dink jy definieer RKO beter in terme van die groep se gees? Natuurlik oorvleuel dit ook soms, op 'n tragikomiese manier ... Hoe sou jy daardie oorvleueling beskryf in terme van wat RKO onderskei van almal anders? Met ander woorde, hoe benader RKO die donker-en-lig-in-dieselfde-asem op 'n nuwe manier, en hoe sal jy dit nog verder wil verken?
Jy praat nogal filosofies diep hier – asof ons dinge filosofies beplan en daar so "execute" – ek werk nie so nie. Iets kom in my bewussyn en formuleer ditself in musiek en lirieke in.
Die donker/lig-dinge stel hulleself na vore in die ou/nuwe Suid-Afrika. Die politici sal seker bydra tot hoe ons vorentoe verken. Soos Pieter-Dirk Uys gesê het: "Die politici skryf my tekste vir my."
In 'n mediaverklaring word gesê: "Elke album [van Radio Kalahari Orkes] is 'n testament van waar die skrywers hulle bevind ten tyde van opname." Dis eintlik nogal 'n groot stelling – eerstens omdat julle so 'n uiteenlopende groep skrywers is, en ook omdat Mamba! oor 'n kwessie van 'n paar jaar geskryf en opgeneem is (as ek reg verstaan). Hoe werk daardie skryfproses tussen jou, Rian Malan, gasskrywer Jaco van der Merwe, en die res van die groep? Wie bring die idees, wie bring die woorde, wie wiks die akkoorde? Of is dit 'n spanpoging in die ware sin van die woord? En hoe, spesifiek op Mamba!, is die proses ingespan om daai kollektiewe bewussyn waarvan gepraat word vas te vang? Hoe sou jy daai kollektiewe bewussyn beskryf, as daar een is?
Organies. Die skrywers sit hulle goed neer op papier of in digits. Die Orkes doen bosberaad (ek love daai woord). Die werk wat in die duister gehang het, word blootgestel. Dit dryf tot bo of sink later.
Met ander woorde, ons skrywers skryf in die geheim. Dan word die besonderse lig van die Orkeslede daarop geskyn.
Die musikale invloede en rigtings op die album is ook geweldig uiteenlopend – die fado van "Encantador" is byvoorbeeld meer as 'n paar klipgooie weg van die maskandiagtige klanke te hore in "Visvang Hudson". Hoe belangrik was hierdie uiteenlopendheid vir julle as 'n strategie, in die aanloop tot en tydens die opneem van die album? Met ander woorde, hoeveel beplanning het die album geverg in die samestelling van die songs en hoe die een vloei na die ander, al is daar soveel verskillende inslae? Of is julle al op die punt waar julle basies kan gooi soos julle lus kry, en die mense sal volg? Wat is vir jou die ideale scenario om in te werk, in dié opsig?
Ek glo ons is meer in die "Gooi!"-area. Alhoewel, my neef Dan is meer intellektueel bedrewe. En miskien meneer Rian ook. (Alhoewel, ek scheme hy't meer "skeletons innie cupboard".)
Jaco ken ek nie so goed nie, maar ek hou van sy lirieke. Maar dié wat ek is, is nie soseer "intellektueel" in die benadering nie. Ek sien myself net as 'n pypie van die groot tenk na die Orkes se kookketel. Ek vra nie veel vrae nie.
As kunstenaars – musikante, skrywers, akteurs – in RKO het julle al saam en op jul onderskeie maniere 'n moerse klomp draaie op die plaaslike kuns- en vermaaktoneel geloop. Daar's seker groot verskille en ook groot raakpunte tussen al dié sfere, maar hoe beskou jy die toestand van Afrikaanse musiek, film, boeke en dies meer deesdae? Wat is lekker daaraan, en wat is aaklig? Wat sal jy graag wil verander, en op watter maniere het RKO 'n rol te speel in daai verandering, of dalk bloot die waarneming en artikulering daarvan?
In Amerika maak hulle baie movies in 'n jaar wat ons nie sien nie, want dit maak dit nie. Hier moet ons alles kyk. Die bloot "kommersiële" vlak hier is nie "my cup of tea" nie. Ek wil net vorentoe boor om dinge wat ek laaik na vore te bring.
En bokker backtracks.
Gepraat van die diverse groep mense waaruit RKO bestaan (in terme van ouderdom, spesialiteitsgebied, ens) – vind julle dit soms moeilik om plek, tyd en ruimte te maak vir RKO? En wanneer julle wel saam sit en bou aan 'n optrede of album, is daar tye wanneer daar noodwendige kommunikasiegapings opduik, of is dit deel van wat RKO maak wat dit is? Is dit inderdaad "!ke e: /xarra //ke", of doen julle juis moeite om mekaar se gedagtegange te vind en te waardeer? Watter raad sou jy hê vir groepe met 'n soortgelyke verspreiding in hul middes?
As mens oppie verhoog is met vyf ander lede, en die gehoor wag om te sien watter "magic" julle kan oplewer, is ons saam in die voorste loopgraaf. Die kameraderie tussen ons sal die comrades laat tjank. Ek respekteer dit en moedig dolheid en eksentrisme aan, so veel as moontlik.
Vir die ander groepe sê ek soos Dirk de Villiers (regisseur van Arende, waar daar nie budget vir stunts was nie) altyd voor 'n stunt gesê het: GOOD LUCK!!
Radio Kalahari Orkes is nou al meer as 'n dekade deel van hierdie vreemde plaaslike musieklandskap. Wat staan tot dusver vir jou uit as hoogtepunte, in terme van samewerkings, toere, ongewone optredes en dies meer? Enige laagtepunte wat opduik? Enige agter-die-skerms-stories wat grens aan die absurde?
Ag, ons het oor die jare 'n paar banja goeie shows gedoen. Dan park ons agter die saal en Frizo sê: "Jussss!!! That was the best show we ever did!!" Ek smaak dit.
Absurd: in Kimberley het een iemand ons gevra om "Loslappie" te speel. Oooooo FOK!
Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Radio Kalahari Orkes, in so verre julle dit kan beheer?
GROOOOTER SHOWS DOEN.
Wat is die sin van die lewe?
Hierdie stuk van die Persiese poet Rumi vertaal ek:
Gisteraand
Het ek die wyse een gesoebat
Om my van die geheim van die Wêreld te vertel.
Saggies, so saggies fluister hy,
Wees stil,
Die geheim kan nie gepraat word nie.
The post Radio Kalahari Orkes: "Bokker backtracks" appeared first on LitNet.