Op die planke by US Woordfees 2017: Mari Borstlap gesels met Naomi Meyer oor die produksie Drif, waarvan Mari die regisseur is.
Mari, jy is regisseur van Drif, geskryf deur Reza de Wet. Dis nie die eerste keer dat jy hierby betrokke is nie, of hoe? Hoe het hierdie drama in die eerste plek jou pad gekruis?
Reza de Wet is een van my heldinne. Ek het op hoërskool reeds met haar werk kennis gemaak en op universiteit ’n punt daarvan gemaak om al haar werke te lees. Ek dink dit is die magiese realisme en die wonderlike sterk vroue karakters in so te sê al haar werk wat my besonder aantrek. Ek het Drif vir die eerste maal iewers in my vroeë twintigs gelees en ek het onmiddellik gewéét as die tyd reg is sal ek graag die ikoniese werk wil opvoer. Dis ’n donker drama met soveel lae. Ek vind die teks baie sensueel, dalk selfs eroties by tye, en dit het my ook gelok om aan die woorde lewe te gee.
Ek lees ook op Netwerk24 dat jy ’n groot bewonderaar van Reza se werk is, soos jy pas genoem het. Wat was haar heel eerste drama wat óf tot jou gespreek het óf waarby jy betrokke was?
Ek het ’n produksie van Op dees aarde in die Playhouse in Somerset-Wes gesien toe ek 17 was, en daar is die saadjie geplant. Hoe anders as jy dink aan daardie aangrypende toneel waar Mimi die swanger spook, Baby met ’n skêr in die maag steek. Ek kry sommer weer hoendervleis.
Wat roer jou spesifiek van Drif?
Ek dink ek het reeds gedeeltelik hieraan geraak in my eerste antwoord, maar om uit te brei: dit is ’n volronde drama, met drie sterk vrouekarakters en een onweerstaanbare manlike karakter. Die drama is donker en raak aan kwessies wat my fassineer: die verband en spel tussen seks en mag, die rol van die onderdrukker en die sogenaamde onderdruktes, vroulikheid, begeerte, drif, drang, illusie vs werklikheid, en die mens se ewige soeke na vryheid van gees.
En wat is anders van hierdie Drif as die een wat hier ter sprake is: http://www.netwerk24.com/Vermaak/Teater/n-Klassieke-toneelstuk-na-Stellenbosch-20151028?
Ons gebruik hierdie keer nie die Hofmeyrsaal as venue nie, maar die produksieontwerp is steeds theatre in the round. Die gehoor sit dus rondom die speelruimte en is baie naby aan die spelers. Dit sorg vir ’n intieme ervaring, maar onderstreep ook die voyeuristiese tematiek van die stuk. Ek het ook ’n nuwe (baie talentvolle opkomende) aktrise, Jane de Wet, wat hier die keer die rol van Ezmerelda vertolk.
Wat is die moeilikste wa om deur hierdie drif te trek? Of watter drif is in hierdie drama die sterkste?
Die stuk verg jou volle aandag en veral aandag aan besonderhede en nuansering. Die teks is dig en ryk en die karakters kompleks, maar ek is baie dankbaar vir ’n uitsonderlike rolverdeling wat hierdie magiese wa werklik met fyn aanvoeling en oortuiging deur die Drif trek.
Foto's: verskaf
Drif by die US Woordfees
Teks: Reza de Wet
Regie: Marí Borstlap
Klankbaan: Wilken Calitz
Met: André Roothman, Ira Blanckenberg, Cintaine Schutte en Jane de Wet
Twee susters bestuur ’n herberg langs ’n rivierdrif wat tydens storms afkom en gereeld lewens eis. Terwyl hulle probeer om die dwaalgeeste van almal wat daar verdrink het tot ruste te bring, leer ken ons die hipnotiseur Maestro en sy Ezmerelda wat oor betowerende kragte beskik. Dié Hertzogprys-wenner is ’n klassieke drama wat die gehoor ontnugter, ontroer en meevoer.
90min
The post Drif by US Woordfees 2017 appeared first on LitNet.