Mossie maar man! So kan die land se nuutste kunstefees wat die afgelope naweek sy buiging in die skadu’s van die Simonsberg in die skilderagtige nedersetting Pniël gemaak het, opgesom word.
Die Adam Small-fees is die breinkind van Darryl David, wat landwyd bekend is vir sy uitsonderlike vermoë om die kunste en letterkunde na die mense te neem daar waar hulle woon.
Die Bookbedonnerdfees in Richmond, die onlangse Soweto-boekefees, asook ander feeste wat na skrywers vernoem is – soos JM Coetzee se fees of Athol Fugard s’n, tel onder sy suksesverhale.
Pniël met sy ryk slawegeskiedenis is in die Groot Drakenstein geleë, sowat 12 km vanaf Stellenbosch op pad Franschhoek toe.
Daar kon kwalik ’n beter plek as die prentjiemooi Pniël gevind word om ’n fees ter ere van Small aan te bied.
Spreker na spreker het tydens die fees hulde gebring aan Small, wat vanjaar sy 80ste verjaarsdag sou gevier het en tot wie se nagedagtenis die fees aangebied is.
By die Pniël-museum-kompleks net oorkant die kerk het dit meer soos ’n gesellige familiereünie gevoel as soos ’n kunstefees. Onopgesmuk en intiem soos by ’n informele familiefees het die paar dosyn feesgangers almal saam op die museum se stoep geëet en stories uitgeruil gedurende etenstye.
By watter ander fees kan jy smul aan ’n braaivleis-ete met twee hoedervlerkies, wors, ’n broodrolletjie én slaai teen slegs R30 en feitlik al die items op die program gratis bywoon sonder om enige toegang te betaal?
Of tuisgebakte sjokoladekoek, melktert of brandewyntert geniet teen ’n skamele R10 per sny in die koelte van die eeue oue eikebome in die museum se teetuin.
By Francois Koegelenberg en Cecile Galant se stalletjie kon mens yskoue vars vrugtenektar van verskillende soorte vars vrugtesappe teen R10 per bottel geniet en selfs blomme koop.
Van die minder bekende skrywers op die fees was Jolyn Phillips, skrywer van Tjieng Tjang Tjerries wat deur Modjaji Books uitgegee is, een van die fees se hoogtepunte, sê Darryl.
"Wow, wat ’n praatjie! Daardie boek is iets besonders. Die Vader weet, hierdie feeste ruk my sak, maar ek móés net daardie boek ook koop. Ek voorspel ’n gróót toekoms vir Jolyn. Die Universiteit van die Wes-Kaap verdien erkenning vir die nuwe stemme in hulle midde."
Mense soos Loit Sols en Floris Brown het nie net hulle gedigte voorgelees nie, maar deur hulle musiek die “fees” in “boekefees” terugsit.
En dan was daar die swaargewigte. “Etienne van Heerden se gesprek het weer eens getoon waarom ek altyd sê Etienne het ’n ekstra rat, en Braam de Vries se dokumentêr oor Adam Small was buitengewoon,” vertel Darryl opgewonde as jy hom uitvra oor sy indrukke van die fees.
Helen Zille se gesprek oor haar boek was volgens verskeie feesgangers ’n kragtoer soos min. “Sy kan miskien nie dans nie, maar sy kan beslis skryf en praat!” skerts Darryl.
Dit is ook hier aan Simonsberg se voet waar twee groot geeste, die maer man met die groen trui en die man met die af arm, mekaar die naweek omhels het op die plek waar die land se slawegeskiedenis steeds soos donker wolke in die lug hang.
Breyten Breytenbach, en daarna oudregter Albie Sachs, het ook by die fees aan die woord gekom.
Beide Sachs en Small moes ’n duur prys betaal vir hulle teenstand teen apartheid.
Nadat hy gearresteer en vyf maande lank in alleenaanhouding opgesluit is vir sy deelname in die stryd teen apartheid het Sachs na Engeland uitgewyk, waar hy sy studies voltooi het. Kort voor die aanbreek van die nuwe Suid-Afrika verloor hy sy arm asook die sig in sy een oog toe ’n motorbom sy motor in die Mosambiekse hoofstad Maputo aan flarde ruk. Daarna wy hy hom dag en nag toe aan die voorbereidings vir ’n nuwe demokratiese grondwet vir Suid-Afrika. ’n Grondwet waarvan die DNS volgens hom by Oliver Tambo gesoek moet word.
Tambo was ’n natuurlike demokraat, vertel Sachs. Anders as in lande soos Mosambiek, Lesotho, Swaziland en ander Afrikalande, wat deur militêre regerings, diktators of de facto-eenpartyregeringstelsels regeer word, wou Tambo nog altyd in Suid-Afrika ’n veelpartydemokrasie vestig.
Dit is duidelik dat Sachs se lojaliteit lê by die Grondwet van die land waaraan hy so hard gewerk het en nie by individue of groepe wat die Grondwet minag nie.
“Daar is ’n hewige politieke stryd wat in die ANC woed, maar as voormalige regter wil ek nie kommentaar lewer oor politieke sake nie.”
Suid-Afrika is volgens hom steeds die land waarvoor hy en baie ander geveg het. Die land se grondwet beskerm sy burgers ook teen die vergrype van mense in leiersposisies soos wat onlangse hofsake uitgewys het, sê Sachs.
Hy het onder meer vertel hoe hy in die buiteland – kort nadat hy sy arm en een oog se sig in die bomontploffing verloor het – voor ’n skoon vel papier gaan sit het om ’n handves vir menseregte te begin skryf in opdrag van Oliver Tambo. “Jy kan dit nie sommer net uit ander dokumente kopieer nie, dit moet uit die hart kom,” het Sachs gesê.
“Ons het ook in ons eie organisasie slegte dinge sien gebeur en wou seker maak elke burger se regte word in ’n demokratiese Suid-Afrika deur die Grondwet beskerm.”
Sedert 1994 het Suid-Afrikaners al vier keer na die stembus gegaan. Die doemprofete wat voorspel het daar sou soos in baie ander Afrika-lande net een maal ’n een-man-een-stem-verkiesing wees, was verkeerd, vertel Sachs tevrede.
Maar dit was veral die maer man met die groen trui, die bryende digter Breyten Breytenbach, wat feesgangers met sy rustige stem betower het tydens die fees. Dié slag was hy nie daar om oor politiek te praat of die taalstryd te voer nie. En hoewel hy nie die versoeking kon weerstaan om kortliks te reageer op Sachs se uiteensetting van die land se politiek nadat hulle mekaar omhels het nie, was dit sy gedigte wat die gehoor in vervoering gehad het.
“Genoeg politiek,” het hy homself kortgeknip voordat hy die feesgangers betower het met sy woordkuns.
Breytenbach is in 1975 nege jaar gevangenisstraf opgelê weens hoogverraad. In sy boek oor Breytenbach se verhoor skryf Jack Viviers, ’n joernalis in die destydse apartheidsdae, soos volg oor Breyten se hofsaak nadat hy gevonnis is: “Nadat regter Cillié opgestaan en uitgestap het, is Breyten vinnig na die kantore van die veiligheidspolisie gebring en daar – in ’n kantoor waar sy vader en suster hom bygestaan het – het hy in trane uitgebars. Dit is ure later voordat hy traag weggestuur is om sy vonnis te gaan uitdien.
“In die laaste minute voordat die tronkdeur agter hom toegeklap het, het hy op ’n stukkie papier, van die soort waarop hy sy bekentenisse en sy verklarings gemaak het, ’n gedig aan my geskryf. Dit het sommer skielik gebeur, amper asof hy die woorde reeds ’n tyd lank met hom saamgedra het:
Mag die bome groen bly
en die sterre wit,
en mag daar altyd mense wees
wat mekaar sonder skaamte
in die oë kan kyk –
want die lewe is ’n asem lank
en die sterre op die Anderplek donker –
Groete, vriendskap, dankie
Breyten Breytenbach
26-11-75."
Toe ek hom die afgelope week tydens die Adam Small-fees uitvra oor daardie fragment van hom pas na sy vonnisoplegging, bevestig hy die gebeure. “Daardie fragment waarna jy verwys is inderdaad onmiddellik na die vonnisoplegging (die valdeur wat oopgaan) geskryf, sonder voorbedagte rade, en nog so in die hof aan ’n verslaggewer gegee – miskien neergekrabbel op die skutblad van ’n boek wat die persoon na my uitgehou het. 9 is die Boeddhistiese syfer van 'ewigheid'. Tronk is nog altyd Anderplek.”
Die afgelope Sondag het hy sy optrede begin met daardie roerende gedig oor sy vader terwyl Schalk Jacobs se baskitaar in die agtergrond Breyten se woorde vleuels gegee het.
ek sal sterf en na my vader gaan
Wellington toe met lang bene
blink in die lig
waar die kamers swaar en donker is
waar sterre soos seemeeue sit op die nok
en engele vir wurms spit in die tuin,
ek sal sterf en met min bagasie
in die pad val
die Wellingtonse berge oor
tussen die bome en die skemer deur
en na my vader gaan;
die son sal in die aarde klop
die wind se branders laat die voeë kraak
ons hoor die huurders
skuurloop bo ons kop,
ons sal dambord speel op die agterstoep
– ouvader kul –
en oor die radio
luister na die nag se nuus
vriende, medesterwendes,
moenie huiwer nie; nou hang die lewe
nog soos vlees om ons lywe
maar die dood beskaam nie;
ons kom en ons gaan
is soos die water uit die kraan so
soos klanke uit die mond
soos ons kom en ons gaan:
ons béne sal die vryheid kén –
kom saam
in my sterf in in my na my vader gaan
Wellington toe waar die engele
met wurms vet sterre uit die hemel hengel;
laat ons sterf en vergaan en vrolik wees:
mý vader het ’n groot bôrdienghuis.
Die laaste woord gaan aan Darryl David, die man wat die fees moontlik gemaak het. “Ek kan nie ophou glimlag nie. Ek voel so in my murg behalwe my geliefde Pietermaritzburg, is Pniël die plek wat tot my siel spreek. Ek glo die Adam Small-fees gaan een van die hoogtepunte op die land se literêre kalender word. Dankie aan almal wat dit moontlik gemaak het. Hopelik glimlag Adam Small ook vanuit die hemel want hy verdien so ’n grootse fees tot eer van dit wat hy gedoen het.”
The post Pniël se Adam Small-fees is mossie maar man appeared first on LitNet.