Die ATKV het op Saterdag 18 Februarie 2017 ’n werkswinkel oor die verskillende kulture van Afrikaans aangebied.
Volgens Danny Titus, uitvoerende direkteur: kultuur van die ATKV, vorm hierdie werkswinkel deel van ’n groter projek waarbinne die verskillende Afrikaanse kulture saam met alle ander Suid-Afrikaanse kulture sal kan gedy. Die publikasie Ons kom van vêr, onder redaksie van WAM Carstens en Michael le Cordeur, bewys onteenseglik hoeveel Afrikaans te bied het wanneer ’n eksklusiewe patroon verruil word vir ’n inklusiewe een, vertel Titus. Die idee vir die werkswinkel was om insig te kry in die rol van die Khoi op Afrikaans, te kyk na Bo-Kaapafrikaans, die invloed van die slawe, Moslems, ander Afrikaners op Afrikaans, en iets te hoor oor Oranjerivierafrikaans.
Julian Sonn was die fasiliteerder.
Die werkswinkel het plaasgevind in die Kunstekaap in Kaapstad. Sonn het begin deur te sê die vergadering moet plaasvind in die Afrikatradisie van “beide ... en”, nie “óf ... óf” nie.
Die eklektiese aard van die verhale wat toe sou volg, het Sonn se versoek mooi weerspieël.
Sonn se oproep is beaam deur Somadoda Fikeni, Kunstekaap se voorsitter. Nasiebou is ook vir hom hoog op die agenda. Sy eie Afrikaans is nie besonder goed nie, sê hy, maar Ingrid Jonker se gedig “Die kind” lê hom na aan die hart. Vir hom was dit wonderlik om die diverse kulture van Afrikaans in die een vertrek te sien. Hy sou egter ook wou vra dat Titus se belofte van groter samewerking met ander kulture deur die ATKV gedryf word.
Titus het bevestig dat dit die einddoel is en het die Nederlander Bart de Graaff, die skrywer van Nederlands als Poort naar Afrika, aangehaal wat sê dat daar byna daagliks ’nuwe' ou verhale in Suid-Afrika opduik. Daarom het hy almal aangemoedig om goed te luister.
Imam Hassiem Sallie het afgeskop en vertel hoe sy ouma kon lees en skryf, maar net in Arabiese skrif. Oor die Javaanse en Arabiese invloed op Afrikaans het wyle Achmat Davids heelwat werk gedoen. Van die eerste Afrikaanse geskrifte is inderdaad in moskees in Arabiese skrif geskryf; die geskrifte is later deur Davids geboekstaaf.
Fatima Allie was volgende aan die woord. Ook sy het vertel oor die ryk invloed wat die Islam op Afrikaans gehad het. Sy het onder andere verwys na die “doekmal” – die naamgee-seremonie, iets wat steeds deel is van die tradisie in die Bo-Kaap. Allie self het aanvanklik net in Engels geleef, maar hoe meer sy die waarde van Afrikaans, en die Arabiese invloed op Afrikaans, kon verstaan, hoe meer het sy haar met Afrikaans vereenselwig. Sy pleit ook dat die orale tradisie nie verlore moet gaan nie – daar is baie stories in die Bo-Kaap wat nog neergeskryf moet word.
Christo van Rensburg se navorsing oor Afrikaans se komvandaan toon dat ons Afrikaans se wortels kan naspeur na die tyd vóór Van Riebeeck. Die plaaslike handelaars wat water en vee aan die skepe verskaf het, se taal is verruim deur die invloede van die matrose.
Van Rensburg sê ook dat die nuwe AWS dit baie duidelik gaan stel dat alle variante van Afrikaans aanvaarbaar is, en dat dit baie “nuwe” woorde sal bevat – woorde wat natuurlik al lank in die volksmond is.
“Ek dra drie kontinente in my saam,” vertel Willa Boezak toe. Suid-Afrikaners se voorouers is baie divers. Dit kan ons saambind as ons daardie gegewe sou omarm. Hy self het Khoi-voorsate, maar daar is ook Ierse bloed in hom. Verder is die Moslemkoesister net so deel van hom as die Boerekoeksister.
Suné van Rooyen het daarna kortliks vertel van haar navorsing oor Oranjerievierafrikaans. Van haar is daar ook ’n pleidooi: “Ons mense kán stukke sny en daardie stories moet bewaar word.”
Toe word daar behoorlik stukke gesny. Danneline Ramsden is ’n bobaasverteller. Die stories wat sy vertel, draai dikwels om begrafnisse en troues, want dit is hier waar mense moeite doen om mekaar te sien.
Elias P Nel het hierna vir oompie Goltros nader gehark – daardie man wat grootpraat, maar darem nooit, wel, jok nie! Dis net dat sy stories groter is as ander s’n.
Aaron Messelaar was volgende aan die woord. Hy het ons vertel hoe taal die vermoë het om mense bymekaar te bring.
Basil Kivedo kom oorspronklik van Genadendal en kon vertel van Genadendalafrikaans. Hy is ook ’n DA-raadslid, wat ’n paar skreeusnaakse stories te vertel het van sy politieke werk in die gemeenskap. Die een vrou vir wie hy raad gevra het, sê vir hom: “As jy bulletproof hier inkom, is jy oukei. As jy egter kaal hier inkom en jy kry ’n bullet, dan moet jy maar die bullet byt.” Haar troos was darem: “As jy vrek, dan kom roep jy my.”
Armoede is iets wat sy wyk se mense goed ken. Die een vrou het gesê: “Ek moet met klippe kos kook en kyk of daar sous uitkom.”
Nico Koopman van die Universiteit Stellenbosch sê hy steun die oproepe dat diversiteit sover as moontlik ingesluit word in ons Afrikaans, maar op skrif moet ons altyd helderheid nastreef om kommunikasie te bevorder.
Jatti Bredekamp het ’n pleidooi gelewer vir erfenisbronbestuur; en vir hom is taal die bron van ons erfenis. Daar is dus vir hom ’n dwingende behoefte om die bydraes van die Khoisan te bewaar.
Anroux Marais, die Wes-Kaapse minister van sport en kultuur, vertel toe kortliks oor die erfenisprojekte wat haar kantoor reeds aan die gang het. Hulle gaan kyk so ver terug as die mens se oorsprong. Daar word moeite gedoen om mense se stories vas te lê, en om diegene wat deelneem se geskiedenis terug te vors, dikwels ook van die slawe van wie heelwat mense in die Wes-Kaaps afstam.
Marais sê dat die projek in die Wes-Kaap nou ook op nasionale vlak aandag geniet. Die nasionale minister van kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, het haar gevra om te help om soortgelyke projekte in ander provinsies van stapel te help stuur.
Henry Matthys het daarna vertel van sy werk by die Vryheidspark – dit wat reeds gedoen is, maar ook dit wat nog gedoen moet word. Die Vryheidspark poog om van die mensdom se vroegste tye af ons geskiedenisse na te vors en uit te beeld, ook die koloniale en die postkoloniale geskiedenis van al ons mense.
Niel le Roux van die Stigting vir die Bemagtiging vir Afrikaans het genoem hoe gevaarlik dit is om aan te neem dat alle akademiese aktiwiteite eenvoudig in Engels moet plaasvind. Hy noem gevalle van landboustudente wat nie handboeke het nie, selfs dansstudente wat sukkel, want talle handboeke word eenvoudig nie in Afrikaans uitgegee nie.
Natalia da Rocha het ook ’n pleidooi gelewer dat die stories van ons mense vasgevang moet word voor dit te laat is.
Christo van Rensburg het toe op sy beurt ’n pleidooi gelewer dat die verskillende variante van Afrikaans opgeneem kan word vir navorsing.
Steward van Wyk het daarna vertel van ’n groot projek oor Noordkaapafrikaans wat teen die einde van September in samewerking met die Sol Plaatje Universiteit gehou gaan word.
Sylvia van Vollenhoven, die skrywer van The keeper of the Kumm, het genoem hoe moeilik dit vir sommige mense was om te aanvaar dat daar Khoi in hulle voorgeslagte is. Sy het dit uitgevind tydens haar navorsing vir haar boek.
Julian Sonn het die werkswinkel met wyse woorde afgesluit. Hy het gesê as ons na alle stemme uit alle wêrelddele kan luister, dan sal ons vry word.
The post Afrikaans, die taal van vele kulture appeared first on LitNet.