Liewe Ma,
Ek het van Bessie verneem dat Ma graag by ons in ’n rustige omgewing wil kom woon en dat Ma graag meer wil weet hoe dit hier is. Dit is waar dat daar min plekke in die land is waarna mense van buite met soveel waardering verwys as ‘n wonderlike plek om te bly soos Stellenbosch. Die rede daarvoor is die mooi boomryke omgewing en die mooi berge, die omringende wynplase en baie ander dinge. En dan is daar ook nog die skynbaar rustige, groen woonbuurte waaroor die eiendomsagente selfs meer liries raak as die inwoners. Die agente se advertensies praat van die gesogtheid, rustigheid, die historiese karakter en die ryke geskiedenis, van kleurryke, eens vername, vorige bewoners soos eerste ministers, ministers, beroemde professore, Springbokrugbyspelers.
Die rede waarom hulle dit so ophemel, is seker voor-die-hand-liggend want die eiendomme is peperduur en groot kommissies kan verdien word met elke suksesvolle verkooptransaksie. Veral as die koper onder die indruk is dat daar ook status ingesluit is by die pakket. Waar hierdie eiendomme in vergange jare meestal deur universiteitspersoneel bewoon is, het die tye verander en kan die nuwe akademici maar selde, indien enigsins, in hierdie woonbuurte nes skrop. Ouer inwoners hou wat hulle het, al is die kooppryse in die visiere van welaf, meestal suksesvolle, besigheidsmense van elders wat ouerige, gevestigde wonings vir miljoene rande kom koop en dan platslaan om hulle eie weergawes van gepaste akkommodasie (met of sonder pilare by die imposante voordeur) te laat bou. Moderne geboue met die voorkoms van kastele of tronke of casinos skiet ook op wat die “ historiese karakter” verdryf.
Ekonomiese realiteite dikteer en ouer inwoners dra swaar aan stygende belastings en lewenskoste wat die hoogte inskiet terwyl pensioene nie bybly nie. Hulle moet uiteindelik verkoop, voor die wolf aan die deur begin krap en hulle na goedkoper weivelde laat uitwyk.
Om dus in een van hierdie boomryke, gesogte, historiese woonbuurte met hul breё strate en gerieflike leiwaterbeurte te kan woon, word deur menigte as ’n besondere voorreg beskou omdat die lewenskwaliteit daar besonder hoog ingeskat word. Maar daar is ook ’n ander, soms komiese en soms steurende sy van die mooi prentjie wat dikwels nie op die voorgrond kom nie. Daar is harde realiteite wat die romantiek en fiksie kan verdryf. Ek sal met Ma oop kaarte speel en die vraag vra of die buurte werklik so rustig is soos beweer word? Ek gee vir Ma ‘n oorsig van ‘n week in ons lewens.
Die feit is dat sloping, verbreking en verbouing, wat baie maande duur, die afgelope dekades ’n algemene verskynsel is in sommige ou buurte. Enige bepaalde inwoner word min of meer omring deur agt buurhuise, sommige waarvan vroeg in die vorige eeu gebou is en wel statig vertoon maar na heelwat opknapping smag. Indien, teoreties, een van die agt al om die ander jaar verbreek en verbou word, duur die gepaardgaande, onvermydelike lawaai vir agt jaar lank sonder ophou totdat die eerste een weer wil verbou of aanbou. In praktyk verloop dit natuurlik effens anders en is daar kortstondige tye van rustigheid, behalwe dat die lawaai van verder afgeleë erwe, buite die kring van agt, steeds helder opklink. Kortstondige lawaai van verbygaande aard was dit dus nie oor die afgelope dekade of twee nie. Die werkers en subkontrakteurs by elke herbouing van ’n woning kan self met tien of meer motors en bakkies opdaag en lawaaierige swaarvoertuie met groot vragte blokkeer soms (onvermydelik) die paaie. Die kap en breek en saag is dikwels nie so erg soos die luide geskree en vloekery waarmee die konstruksie gepaard gaan nie. Goeie bouwerk vereis skynbaar kragwoorde. Jou kinders se woordeskat kan sommer vining uitbrei. Maar hulle kan ook kostelike sêgoed byleer as deel van ’n soort tuisskoling.
Sommige van die onrustigheid in die buurte is van ’n minder ernstige aard. Byvoorbeeld wanneer inwoners met mekaar vassit oor die leiwaterbeurte en elkeen hom op die waterfiskaal beroep wat, naas die sekuriteitssvoertuie, in die buurt se strate op en af ry om die hoofsluise te bedien. Hy is goed met sluise maar moet sommer ook soos ’n wafferse vredemaker dispute besleg.
En van verkeer gepraat. Bo en behalwe gedurende die spitstye as mense, sonder in ag neming van die spoedgrense of stopstrate haas om die jong bloedjies by die skool te kry, moet jy self betyds op kantoor wees. Eekhorings kan hoe rats wees, maar hulle word plat gery. En net as die ouer garde in die buurt gedink het dis nou ’n rustige Maandagoggend, kom die buurman se “Pooldoctor” met sy luide span om die swembad skoon te maak. En ure later is dit tyd vir die ander bure se tuindienste om met ’n span werkers op te daag en hulle lawaaierige masjiene te laat praat by twee erwe oorkant die straat. Hulle blaarblasers blaas die blare in ’n rigting weg waarheen net hulle weet. Die rus is nie op ’n Maandag nie. Wat van Dinsdag? Tuindienste by een van die ander agt erwe rondom jou, te midde van die lawaai wat die bouers maak. Dinsdag is dus ook nie eintlik rustig nie want die fietsers met hulle duur resiesfietse wat sesuur soggens verbyjaag, voer skreegesprekke met mekaar. En teen halfagt kom die minibustaxis, wat kort-kort stilhou om die huishulpe af te laai.
Wat van Woensdag? Dieselfde patroon word daagliks herhaal. En voor jy jou oё uitvee is dit tyd vir ’n bedelaar wat die voordeurklokkie onophoudelik lui, onder die voorwendsel dat hy werk soek maar eintlik nie werklik veel van werk hou nie. En as dieselfde bedelaar wat al voorheen sy moeder verloor het en ’n geldjie soek vir begrafniskoste twee of drie weke later weer ’n keer sy moeder aan die dood afstaan, verloor jy geduld met hom en gee nie weer nie. Soms gee jy vir een ’n veewerkie teen betaling en ’n heerlike bord kos, dan lui hy daagliks die klokkie al is daar geen werk nie en help verduidelikings niks. Hy raak sommer moeilik met jou. En as jy hom ’n koepon in die hand stop sodat hy by die nagskuiling kan gaan aanklop vir kos en slaapplek trek hy sy neus op. Nee, Woensdag is ook nie rustig nie. Hou duim vas dat Donderdag net bouerlawaai sal oplewer. O nee, Donderdag het sy eie lewe. Geen wekker is nodig nie. Vroegoggend, nog voor die afvallorrie die vullisdromme luid kom tiep, is die vullisdrombrigade daar met hulle supermarktrollies en hoor jy die geklingel van die bure se wynbottels (jy hou jou doof vir jou eie) soos die herwinnaars dit van huis tot huis versamel en ’n skrapse maar welkome geldjie daarmee verdien. Dis maar net een keer per week, dink jy dankbaar. Behalwe vir die buurt se baie honde wat onophoudelik vir die trolliemense en die bouers blaf, maak die kinders wat na skool hulle vaardighede op hulle ryplanke slyp, die honde rasend opgewonde. Dit lewe.
Dan lui die voordeurklokkie al weer want die koerierdiens het ’n pakkie, vir die regte nommer, maar verkeerde straat. Jy help hom reg en besluit om jou maar te verlustig in die klanke van jou wêreld. Die hadidas op die dak dra by tot die kakofonie van geluide en die helikopters vlieg die vallei in waar daar weer ’n brand ontstaan het. Vandag is daar ook nie langdurige rustigheid nie. Moenie eers aan ’n middagslapie dink nie.
Dit is nog ’n dag. Die oggendspitstyd van baie motors wat almal gelyktydig en ewe haastig verbyjaag, is verby. Net een tuin in die onmiddellike omgewing word vandag “gedoen” en dit sal seker nie langer as ’n uur of twee duur nie? Helaas, ’n ander buurman het ’n boomsjirurg gekry om sy groot bome terug te sny. Dit kan ure duur, maak die buurman hoflik verskoning. Maar hy weet sy ander buurman het ook reeds ’n afspraak met die boomman vir later in die week. As die kettingsae ure later stil word, word die stompe en takke met groot lawaai in die straat fyngekerf dat die bodem skud. Die bome groei vinnig en dit sal maar kort-kort gebeur, het die buurman verduidelik. Dit is ’n geringe prys om te betaal vir ’n mooi, groen omgewing.
Die voordeurklokkie lui. Ek hoor hom skaars waar ek in die agterplaas is. Maar die gelui hou aan en ek haas my om die voordeur oop te maak. “Lekker droё kaggelhout master? Wattel en bloekom. Die winter is om die draai master.”
Vrydag breek aan en verskeie bakkies met lere op die dakke en sleepwaens aan die sterte beweeg verby. Wippende oor die hobbels wat bedoel is om die verkeer te kalmeer maar eerder veroorsaak dat daar tussen die bulte gejaag word en gerem word dat hoor en sien vergaan. Dis die TV-mense wat kom help sodat ’n familie die naweek die rugby kan kyk. Iemand het êrens hoër op in die straat ook ’n elektriese probleem want sommige huise se bedrading is regtig baie oud. En die ou water- en rioolpype lol ook soms sodat die loodgieters ook in die buurt moet boer. Die huis aan die ander kant van die straat word ook al vir maande verbreek en verbou. Die verbeteringe in die omgewing gaan die waarde van my eiendom verhoog, hoor ek. Maar waarde meet mens nie net in geld nie, dink ek. Ek wil nou waarde hê en dalk my middagslapie inkry.
Dis Vrydag. Genadiglik loop sommige bouers vandag vroeër, hoop ek. O nee. Ek raak net effens weg toe my selfoon onophoudelik begin kerm. Ek het vergeet om die ding stil te maak en as lid van die buurt se sosiale groep op WhatsApp word ek ”geken” as iemand se hond wegraak of as iemand van iets ontslae wil raak. Ek word wreed gewek deur die skril gepiep wat my betrokkenheid verklap.
Dan is die bouers weg maar in die straat klap motordeure toe. Wie sou dit wees? Mevroue X en Y oorkant in ons straat kry vandag besoek. Die een om haar naels te laat doen en die ander om haar hare tuis te laat knip en stileer. Gelukkig is daar nie lawaaierige masjiene betrokke nie maar die besoekers toet as hulle aankom en vertrek en dra dus hulle deel ryklik by om die buurt lewend te laat klink. Omdat die meeste nuwe huise nou outomatiese hekke gekry het, sal Ouma en Oupa wat gereeld hulle kleinkinders wil sien, sommer ook voor die hek toet om ingelaat te word.
En dan is daar plotseling ’n groot kommosie onder in die straat. Water borrel uit ’n gat in die teer en die munisipaliteit se span van ses of meer mense en twee voertuie kordon die plek af en grawe dit oop. Die waterpype kom uit toeka se dae en moet kort-kort gelap word. Dis die derde waterpyp wat in ’n kort tydjie in ons straat bars. Nou sit ons weer vir ure sonder water in ons gesogte woonbuurt maar is tog te dankbaar dat Eskom se kragonderbrekings hokgeslaan is.
Ons woonbuurt is snags meestal stil en rustig. Soms gaan ’n alarm êrens af maar dan word dit weer stil. Die buurt se katte, voëls of die wind kry gewoonlik die skuld vir die afsit van die alarms. Maar as dit vakansietyd word en die mense is by hulle vakansiebestemmings, dan gebeur daar dinge wat senutergend aanhou en jou geduld beproef. Die gesofistikeerde alarms gaan af en daar is geen siel wat die geloei kom stilmaak nie. Die skril getjank van die alarms duur soms ure lank en versteur die bietjie rus wat daar snags is. Die arme uile kan bedags nie ’n oog toemaak nie weens die lawaai en dan word hulle lieflike geroep snags, om ’n maat te probeer vind, ook nog deur alarms oordonder.
Uiteindelik is dit Saterdag. Daar sal seker meer rustigheid wees sodat ek my eie ding kan doen. By ’n buurhuis is daar ’n kinderpartytjie waar hordes gillende kinders in die swembad baljaar. Die vrolike, helder stemme is soos ’n lafenis na die boulawaai. Vanaand, so hoor ek, is daar by nog ’n huis ’n grootmenspartytjie met blêrende, doef-doef musiek wat tot twee uur in die oggend die bome kan laat skud en bewe. Gelukkig kom die uitheemse indringers soos Halloween en Guy Fawkes eers later in die jaar. Weer die voordeurklokkie en ek maak geduldig oop: “ Vars vis meneer. Reguit van die weskus.“
Ek haal op ’n Saterdag my grassnyer, my blaarblaser en my elektriese randknipper uit die stoor. Eers die gras sny. Daarna kom die blaarblaser aan die beurt. Dit kan ‘n tydjie duur. En vanmiddag gaan ek, soos twee van my bure, my stokperdjie beoefen. Ons het houtwerkmasjiene en doen graag houtwerk in ons vrye tyd. Ons dra almal ryklik by om die buurt ’n lewendige karakter te gee. Ek sal net tot so teen negeuur vanaand met die saagmasjiene en skaaf besig wees, selde langer.
Ons moet maar nog praat oor die bou van ’n woonstelletjie vir Ma agter op die erf en oor hoe rustig dit sal wees. En dan moet ons ook praat oor die finansiering van so iets.
Dit nou elfuur in die aand en ek wil nou in die bed gaan klim. Langs ons by die nuwe gastehuis het die reuse-hittepomp skielik ingeskop sodat ek skaars kan verstaan wat ek dink. Ek kan ma verseker die buurt lewe. En waar daar lewe is, is daar mos hoop?
Ek en Bessie hoor graag van Ma se planne vorentoe.
Jannie
The post Skoonma wil in ’n “gesogte” buurt in Stellenbosch by ons kom woon. appeared first on LitNet.