In sy LitNet Akademies-artikels ondersoek Burgert Senekal die skakels in die Afrikaanse literêre sisteem, soos poësienetwerke, Hertzogpryswenners se uitgeweryprofiele, die intellektuele struktuur van die Afrikaanse letterkunde, die filmbedryf en filmakteurnetwerke, kleinwêreldsheid in kultuurnetwerke, samewerkingsnetwerke in die toneelbedryf en die statistiese eienskappe van geskrewe Afrikaans, deur middel van netwerkanalises.
Inleiding
Een van die interessante fasette van die funksionering van ’n kultuursisteem kom voor wanneer mense en werke in meer as een komponent van ’n kultuurbedryf funksioneer.
Benewens die feit dat werke soms in verskillende komponente van ’n kultuurbedryf funksioneer deur byvoorbeeld die verfilming van boeke, funksioneer mense self ook gereeld in meer as een komponent van ’n kultuurbedryf. Die Amerikaanse aktrise Julianne Hough, vertolk byvoorbeeld die hoofrolle in films soos Rock of Ages en Safe Haven, maar neem ook in 2007 ’n CD op. Jon Bon Jovi vertolk rolle in films soos Moonlight and Valentino en Pay it forward, sowel as in die televisiereeks Ally McBeal. Taylor Swift, wat hoofsaaklik as ’n sangeres bekend is, vertolk ’n rol in die film Valentine’s Day, Reba McEntire vertolk die hoofrol in die televisiereeks, Reba, alhoewel sy ook aanvanklik bekendheid as kunstenaar in die musiekbedryf verwerf het (haar rol in Titanic is gekanselleer omdat sy op ’n musiektoer moes gaan, en Kathy Bates en het daarom haar rol in hierdie film vertolk). Selfs Marilyn Manson het ’n paar rolle in die Amerikaanse filmbedryf vertolk, onder andere in David Lynch se Lost highway.
Natuurlik kom dieselfde verskynsel in die Afrikaanse kultuurbedryf voor, en voorbeelde word in die huidige artikel genoem.
Die PRISMA-projek dui juis sulke oorgrensfunksionerings aan en is vir hierdie bespreking gebruik. Dié databasis dokumenteer mense se bydraes tot die Afrikaanse kultuurbedryf ten opsigte van film, teater, musiek, literatuur en televisie, en maak dit moontlik om in ’n enkele oogopslag te sien waartoe mense bygedra het. Dit is ’n meer gedetailleerde databasis ten opsigte van die filmbedryf as wat IMDB (Internet Movie Database, www.imdb.com) is, maar die reikwydte is ook veel breër as IMDB s’n, wat beteken dat kleiner bydraes aangedui word (byvoorbeeld as assistent), maar ook dat bydraes tot komponente van die Afrikaanse kultuurbedryf aangedui word wat nie in ’n databasis soos IMDB aangedui word nie.
Die huidige artikel noem ’n paar interessante voorbeelde van mense wat tot verskillende komponente van die Afrikaanse kultuurbedryf bygedra het, juis om aan te toon dat alhoewel ’n persoon miskien hoofsaaklik in een rol bekendheid verwerf het, sy of haar bydrae tot die Afrikaanse kultuur in vele gevalle heelwat verder strek.
Musikante in die Afrikaanse filmbedryf
Gé Korsten, wat hoofsaaklik as kunstenaar in die musiekbedryf bekendstaan, vertolk rolle in films soos Die Krugermiljoene (1967), Hoor my lied (1967), Lokval in Venesië (1972) en Netnou hoor die kinders! (1977), maar skryf ook die musiek vir Lied in my hart (1970) en dra na sy dood nog by tot die klankbaan van Die spook van Uniondale (2014). In geheel strek Gé Korsten se loopbaan as akteur in die Afrikaanse filmbedryf oor 10 jaar.
Carike Keuzenkamp se loopbaan begin met haar rol in die film Die professor en die prikkelpop (1967), en sy sou uiteindelik een van die gewildste Afrikaanse kunstenaars word. Sy het onlangs rolle in films soos Liefling (2010) en Prêtville (2012) vertolk, maar was ook te sien in televisiereekse soos Die kraaines (1975) en Kerneels se konsertsaal (1977). Sy lewer reeds vir 49 jaar ’n bydrae tot Afrikaanse films, musiek en televisieprogramme.
Robbie Wessels, wat bekendheid verwerf het met sy rol as Poena in die televisiereeks Gauteng-alêng-alêng, speel die hoofrol in Poena is koning (2007), waar hy die rol vertolk van ’n opkomende musikant (weer genaamd Poena) wat bekendheid verwerf met ’n liedjie genaamd "Leeuloop" (wat ook sy eerste treffer in die musiekbedryf was). In 2013 baseer hy ’n hele film op dié liedjie, nl 100 m Leeuloop, wat hy self regisseer (en waarin Naas Botha ook ’n rol vertolk). In 2011 vertolk hy ook die hoofrol in ’n Saak van geloof en speel ’n ondersteunende rol in Jakhalsdans (2011).
Karen Zoid het een van die belangrikste rolspelers in die Afrikaanse musiekbedryf geword, met verskeie opnames en ’n televisieprogram, Republiek van Zoid Afrika, waar sy onderhoude met rolspelers in die Suid-Afrikaanse kultuurbedryf voer. In 2010 vertolk sy die hoofrol in Bromley Cawood se film Susanna van Biljon, waar sy die rol speel van ’n meisie wat ’n loopbaan in die musiekbedryf wil begin. Sy het ook bygedra tot die klankbane van die films Klein Karoo (2012), Bakgat 3, Pad na jou hart en Musiek vir die agtergrond (almal 2013).
’n Film met ’n soortgelyke storielyn as Susanna van Biljon is Musiek vir die agtergrond (2013), wat nie toevallig dieselfde naam as die album van die groep Klopjag dra nie (die gelyknamige album het in 2008 verskyn). Hier span die lede van Klopjag saam om ’n film te maak oor ’n jongman wat ’n loopbaan in die Afrikaanse musiekbedryf begin. Die hoofrol word deur John-Henry Opperman vertolk. Opperman het ook ’n rol in Roepman (2011) vertolk, maar vir Verraaiers (2013) en Suurlemoen! (2014) het hy agter die skerms gewerk, en selfs die webtuiste vir laasgenoemde film ontwerp. Sy loopbaan in die Afrikaanse kunste is nog kort, maar hy lewer nietemin ’n baie diverse bydrae, van akteur en musikant tot webtuiste-ontwerper.
Steve Hofmeyr is ook ’n persoon wat bekendheid as musikant en akteur verwerf het. Sy loopbaan begin in 1985 met sy rol in die televisiereeks Agter elke man, waarvan hy ook die temalied gesing en daardeur sy musiekloopbaan begin het. As akteur het hy bygedra tot ses films: Kampus: ’n Varsity-storie (1986), Agter elke man – die film (1990), Bakgat 2 (2009), Platteland (2011), Pretville (2012) en Treurgrond (2015). Hy het ook rolle vertolk in televisiereekse soos Guillam Woudberg (1987) en Egoli. Hy het ook verskeie trefferalbums vrygestel en is een van die bekendste Afrikaanse kunstenaars, maar sy invloed in die musiekbedryf strek ook verder: Monique het byvoorbeeld "Agter elke man" opgeneem op haar album, Ek val vir jou (2010). In geheel strek Steve se loopbaan in die film- en musiekbedryf reeds oor drie dekades.
Richard van der Westhuizen is welbekend as musikant, veral deur treffers soos "Ballade vir ’n enkeling" (van die gelyknamige televisiereeks, maar verskeie kere heropgeneem) en "Tussen treine", wat aanvanklik saam met Lochner de Kock opgeneem is. In 2011 stel hy ’n duetalbum saam met Gerhard Steyn vry waarop "Tussen treine" en "Ballade vir ’n enkeling" in ’n nuwe gedaante verskyn. Maar Richard van der Westhuizen is ook ’n bekende gesig in die Afrikaanse filmbedryf: hy vertolk rolle in Liewe hemel, Genis! (1987), Orkney snork nie – die movie (1992), Karate Kallie (2009), Bakgat 2 (2009), Stoute boudjies (2010), Hartsbegeertes (2013), Die ballade van Robbie de Wee (2013), Alles wat mal is (2013), Trouvoete (2015), Treurgrond (2015) en Suiderkruis (2015). Hy vertolk ook verskeie rolle in televisiereekse, van Koöperasiestories (1983), Agter elke man (1985) en Die Mannheim-sage (1986) in die tagtigerjare tot meer onlangs soos in Plek van die vleisvreters (2004) en Konsternasie oppie stasie (2009). Voeg hierby sy verskeie optredes in toneelstukke en produksies by kunstefeeste, en Richard is een van die bekendste gesigte in die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf. Hy het ook die musiek geskryf vir die filmweergawe van Ballade vir ’n enkeling (2015).
Verskeie ander persone het onlangs ’n bydrae tot sowel die musiek- as die filmbedryf gelewer. ’n Paar voorbeelde:
- Bouwer Bosch, die leier van die groep Straatligkinders, vertolk rolle in films soos Klein Karoo (2012), Oom Karoolus en Lente (2013), Pad na jou hart (2013), Mooirivier (2014), Die spook van Uniondale (2014) en Trouvoete (2015). Sy solo-album Almal maak voute word in 2011 vrygestel. Hy het ook die musiek geskryf vir Vir altyd (2016).
- Stefan Ludik neem in 2005 die CD Liggroen doringbome op en verwerf bekendheid met onder andere die liedjie "Ons wil net braai". In 2008 vertolk hy die hoofrol in die reeks Transito, en verskyn ook in die films Jimmy in pienk (2013) en Trouvoete (2015).
- Izak Davel het as musikant CD’s soos Verlore harte (2009) en Jy's my lewe (2012) opgeneem, maar speel ook ’n rol in Platteland (2011), Hoofmeisie (2011), Getroud met rugby (die film, 2011), Poppie Lariteit (2013) en Hartsbegeertes (2013).
- Die musiekkunstenaars Theuns Jordaan en Elizma Theron vertolk die hoofrolle in Jakhalsdans (wat ook ’n skakel tussen die literatuur en film verteenwoordig deur middel van Deon Meyer, wat die draaiboek skryf).
- Sean Else, voorheen lid van die boyband Eden, het verskeie bydraes tot die Afrikaanse musiekbedryf gelewer. Hy tree byvoorbeeld op as uitvoerende vervaardiger van Bok van Blerk se De la Rey (2006) en Afrikanerhart (2009) en publiseerder van My kreet (2010), uitvoerende vervaardiger vir Lianie May se Vergeet my nie (2007), en skryf musiek vir haar Boeremeisie (2009). Hy tree as akteur op in televisiereekse soos Begeertes (2007) en Proesstraat (2010), en skryf die reeks Liefste Kayla (2013). Hy regisseer, skryf en vervaardig die films Platteland (2011), ’n Man soos my pa (2015) en Modder en bloed (2016).
- Paul Riekert is hoofsaaklik ’n rolspeler in die alternatiewe Afrikaanse musiekbedryf, en het as leier van Battery9 en deur sy platemaatskappy, One F Music, ’n groot bydrae tot die alternatiewe Afrikaanse musiekbedryf gelewer. Sy bydraes tot ander komponente van die Afrikaanse kultuurbedryf is egter minder bekend: hy het byvoorbeeld die musiek geskryf vir die 2004-televisiereeks Plek van die vleisvreters, en in 2014 skryf hy die musiek vir die verfilming van Jaco Jacobs se roman Suurlemoen!, en dra daardeur ook by tot die Afrikaanse filmbedryf.
- Bok van Blerk se loopbaan het as musikant begin, maar met rolle in films soos Modder en bloed (2016), Somerson (2015), Leading lady (2014), Vrou soek boer (2013), As jy sing (2012), Platteland (2011) en Jakhalsdans (2011) is sy loopbaan as akteur reeds stewig gevestig.
- Ek het Ian Roberts as kind leer ken deur sy rol as Sloet Steenkamp in die televisiereeks Arende (1989). Hy was toe egter reeds ’n bekende akteur op Afrikaanse televisieskerms, met rolle in reekse soos Dr Con se Overberge (1981), Verspeelde lente (1983), Seeduiker (1985) en Wolwedans in die skemer (1987). Hy was ook te sien in ’n groot aantal Afrikaanse films, byvoorbeeld Boetie op maneuvers (1985), Kalahari Harry (1994), Paljas (1989), die Bakgat-trilogie, Musiek vir die agtergrond (2013), Die windpomp (2013), Babalas (2013) en vele meer. Alhoewel hy hoofsaaklik as akteur bekend is, dra hy ook by tot die Afrikaanse musiekbedryf deur die groep Radio Kalahari Orkes.
Babalas is ’n film wat spesiale vermelding verdien. Soortgelyk aan die Amerikaanse film Get him to the Greek, vertel die film die storie van ’n reklame-agent wat die bykans onmoontlike taak opgelê is om Boet en Swaer van die destydse Castrol-advertensie van die Kalahari na Gauteng te vergesel. Die film verteenwoordig daarom ’n aanknopingspunt tussen die film- en televisiebedryf, maar ook met die musiekbedryf: Jack Parow speel sy debuutrol naas Ian Roberts, maar Roberts se musiekloopbaan word ook in hierdie film uitgelig deurdat van sy opnames op die klankbaan ingesluit word.
Slotgedagtes
Verskillende komponente van die Afrikaanse kultuurbedryf is dig verweef, met rolspelers wat gereeld ’n bydrae tot byvoorbeeld die musiek en die film of die literatuur en film lewer. Hierdie artikel het ’n paar voorbeelde genoem, maar ’n mens sou ’n hele boek of verhandeling oor sulke raakpunte tussen komponente van die Afrikaanse kultuurbedryf kon skryf. Dit beteken egter geensins dat die Afrikaanse kultuurbedryf in hierdie opsig uniek is nie: dieselfde verskynsel kom ook in die VSA voor, en sekerlik in ander lande ook.
Lees ook die volgende artikels deur Burgert Senekal:
- Die Afrikaanse literêre sisteem: ’n Eksperimentele benadering met behulp van Sosiale-netwerk-analise (SNA)
- ’n Bespreking van die Afrikaanse poësienetwerk sedert 2000
- ’n Veelvlakkige netwerkontleding van die Afrikaanse filmbedryf en filmakteurnetwerk (1994–2014)
- Die statistiese eienskappe van geskrewe Afrikaans as ’n komplekse netwerk
The post Mense oor grense in die Afrikaanse kultuur: musikante in die Afrikaanse filmbedryf appeared first on LitNet.