Thu-tha-á
Uit my blink huisie van glas
staar ek na skimme van as
as hulle kon wees wat ék was;
sou hulle rêrig verstáán
want sewe sakke sout is geen sware las.
*Thu-tha-á – Namataal vir: ek weet nie.
Kluisenaarshuisie
Asof die wind sy wieke om my wikkel
in wit h-i-t-t-e
stukkies van my siel skroei
asof híerdie oomblik
tussen hemel en aarde hang
so hallelujah jy my met jou engelsang.
Vandag het ek my hande gevou
om tyd wat lankal grasieus
deur my vingers geglip het.
Vandag duik ek ook in ’n wind
wat soos asem
gedurig verskuif
vergaan of verdraai.
Vandag mond ek my vensters wyd
noord
wes oos
suid.
Vandag waak ek getrou
by bebrose grense
van my heilige eiland
want vandag gryp ek niks aan nie
en stoot ook niks weg nie
hier, in die tuiste van my stille wysie
bou ek vir my ’n kluisenaarshuisie.
*Bebrose = broos en gebroke
Mabalêl se blerts
Vir jou was ek
net ’n skets in die sand,
’n vormlose versinsel
van jou verstand;
dié ‘t jy oop arms geëien;
wit sandsteentjies
wat v-e-r-r-a-s-s-e-n-d
korreltjie vir korreltjie
deur jou vingers val.
O koud was dié windjie
toe jy Mabalêl hoor lag
vanuit haar donker stil
wyl my verwaaide skets
onheil in jou woning saai.
Uit ’n wêreld heeltemal agterstevoor om
lui haar lokkende laggie soos ’n klokkie
maar terugkeer sal sy nimmermeer
soos my skets
in jou voetspore
net ’n blerts.
Om te lewe, moet jy sterf
Vandag kan ek myself nie keer
woorde, wat gedagtes
in splinters laat spat
slingervel deur my kop.
Soms is ons sulke slytende woordvrate
met offerlammers voor heilige altare
waar ons fobies serafynklanke prewel;
gefnuik deur folklore en husse-ore
heeltemal te helder
heeltemal te stil
in hierdie hel van heerlikheid.
Tjankend kan ons wolke opjaag
(hou-ou-ou-hou)
in ’n skelet gekelk binne ’n fisieke beeld
wat fisionomies onder mekaar flikflooi
net om dít te soek wat óns bekoor.
Met die vlerk van my oog
kokon ek myself vandag as fetus
want dis beter om híér
in my flenterwoord-woning
onsterflik te rot.
*Fisionoom – Iemand wat die karakter van ’n persoon volgens sy uiterlike voorkoms oordeel.
Zoem-doef
Wanneer jou stem verkalk
in die holtes van my hart;
wanneer ek verwese en bang
vasklou aan jou sinkende skip
wat sirkels om my son brand
terwyl sterre verskiet in my kop
om my losse gedagtes
tot eenvoud te verflou.
Dis dan wanneer ek wens
ek kon huis toe gaan
om myself weer in ’n wit
wolkombersie toe te wikkel.
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: Caren Kearley se inskrywings appeared first on LitNet.