Vasgevang in vandag
Die Khoi se spore lê verdrink
onder grafte, geboue en graniet
Hul gewoontes na benede gesink
Voetspore na vergetelheid geskiet
Vandag dra die kroon
wil liewer niks van geskiedenis
weet, wil waardes kloon
met tegnologie, maar mis
kultuur, tradisie en herinneringe,
verskadu ook die hede
Die fokus op toekomsdinge
Onbeduidend kleiner die verlede
Ek swem swaar teen die stroom
want vandag hou my in toom
Leef-adres
Met sy voorvinger druk hy my
in ’n gleuf, my lyf gebukkend –
waar my oë met duisternis stry
vel en been skaaf, seer en stukkend
Al minder en minder suurstof
ontsnap. Ek spartel desperaat
om asem, dis redding of
die kringloop – altyd laat
Want as daar net, al is dit
’n spleet of spatsel hoop
’n kolletjie swart op wit
net vir opstaan en loop
kan wees, sal ek oorleef
en eendag (miskien) na beter streef
Kunste
Om nie meer deur mislae na jou droom te staar,
maar met die blote oog te verdwaal binne-in
’n netwerk van nuanse, kleur en lyn
vasgevang in ’n magiese raam van abstrakte realiteit
Om die ongereptheid van ritme
die haarfyn balans van melodie en beweging
te voel, ontsyfer en transformeer met jou lyf
of in jou hande hemelse harmonie te bewaarheid
Om selfs die toutjies van jou karakter te manipuleer
geloofwaardig en eg, die suggestie van tyd en plek
binne sy ruimte en dimensie te beleef
en deur die onsigbaarheid van vers en teks te sien en spreek
dis wanneer ’n kunstenaar deur aardse grense breek
met net ’n stem, liggaam en gees.
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: Tanita Da Silva se inskrywings appeared first on LitNet.