Teen die einde van die agtiende eeu het linguiste die ooreenkomste tussen tale ontdek en tot die gevolgtrekking gekom dat almal van een taal afkomstig is. Hulle het die geskiedenis van tale begin navors en ontdek dat daar ook ʼn verband is tussen Oosterse en Westerse tale. Die gevolg daarvan was dat ʼn nuwe rigting, die historiese linguistiek, ontstaan het. Dit was egter van betreklik korte duur, want teen die einde van die negentiende eeu is die studie van die struktuur van taal weer hervat in die werke van oa Georg van der Gabelentz, Jan Baudouin de Courtnay en Mikofai Kruszewski.
Dit was egter die Switser, Ferdinand de Saussure (1857—1913) wat die belangrikste invloed gehad het op taalstudie. Hy was ʼn opgeleide historiese linguis en het belangrike bydraes gelewer om Proto-Indo-Europees te begryp. Voor De Saussure het linguiste ʼn atomistiese benadering tot taalstudie gehad. Hulle het taal beskou as ʼn versameling van woorde met grammatiese voor- en agtervoegsels. Die nuwe benadering wat De Saussure se werk ingebring het, staan bekend as strukturalisme. Veral woordvorming het heelwat aandag geniet, en tot op hede is die werk van linguiste strukturalisties van aard. Taal word gesien as ʼn geordende sisteem met al die linguistiese verskynsels wat ʼn rol speel. Sy werk het ook die klem gelê op die verskillende soorte benadering, nl die diachroniese en sinchroniese taalstudie. As ʼn taal diachronies bestudeer word, word gekyk na die ontwikkeling van die taal, terwyl met sinchronies bedoel word ʼn ondersoek na die taal soos dit nou is.
Na die Eerste Wêreldoorlog vlug ʼn hele klomp linguiste uit kommunistiese Rusland en vergader in Praag, waar hulle bekend gestaan het as die Praag-sirkel. Nikolai Troubetzkoy, en Roman Jakobson, is bekende name wat belangrike werk ivm die struktuur van taal gelewer het. Laasgenoemde is veral bekend, omdat hy uiteindelik Amerika toe gevlug het, waar hy belangrike werk gelewer het. Dink maar aan sy werk, Principles of Phonology (1939). Hy het ook belangrike werk gedoen om die aanleer van ʼn taal deur kleuters beter te verstaan, en die ontwikkeling van Semiotiek.
Word vervolg ...
The post Kort geskiedenis van die linguistiek (vervolg) appeared first on LitNet.