Hier rondom die middel van die 1970's het ek vir ses maande in Kimberley gewerk en in 'n kasarm van 'n selfsorg losieshuis gewoon. Die losies huis was agter 'n reuse ou boom wat sy takke mooi versprei het om ons welkome skaduwee te gee teen die hitte.
Daar het ek 'n vriend gemaak, sy naam kan ek nie meer onthou nie, maar hy was seker in die dertigs, nes ek. Hy was 'n lorriedrywer vir die Spoorweg en het met ver paaie na die noorde gery en tot diep in die Kalahari. Die ou was taamlik doof en kon nooit my naam verstaan nie, wat maar seker moeilik is vir Engelsman, al kon hy goed Afrikaans praat. So het hy my toe altyd "Steve" genoem en hoe meer ek my regte naam herhaal, hoe meer "Steve" hy my.
Nou daar, in die verafgeleë dele, het die mense nie al die winkels gehad wat ons in die stede het nie en was hulle dalk ook maar aan die arm kant. So het hulle byvoorbeeld die wortels van die witgatboom gebruik vir nagemaakte koffie. As hy by die een huis stilhou, het hy gehoor hoe skreeu die vrou vir haar dogter: "Sarieee! Sit op die gat hier kom mense!"
Die ou het ook gereeld nagtelike besoeke van 'n vrou ontvang wie ek liewer nie hier sal identifiseer nie. Dan was sy rug in die oggende erg gekrap, sodat ek hom amper jammer gekry het en salf wou aanbied.
Hy het nogal taamlik dikwels van die tenkwaens met suiwer alkohol bestuur. Ongelukkig het hy in die gewoonte verval om van die alkohol te drink en soms vir ons daarvan na die losieshuis gebring. Dan staan ek en hy in die kombuis en drink. Ek gooi myne dood met koeldrank en ons gooi 'n bietjie op die sink uit en steek dit aan die brand. Dit brand met 'n mooi blou vlam.
Jare later toe ek weer in Kimberley kom en hom opsoek, is hy getroud en bly hy in 'n netjiese woonstel met goeie meubels. Hy beduie vir my dat hy nie eintlik veel oor die verlede wil praat nie, duidelik bang dat sy vrou sal hoor daar in die kamer. Maar hy vertel my darem dat hy later begin het om te veel van die alkohol te drink. So al ryende het hy gedrink sodat, toe hy eendag weer in Kimberley by hulle depot stilhou en uit die trok klim, hy net daar neerslaan, uitgepass. Hy sê hy is toe dadelik gefire en moes gaan vir rehabilitasie.
Groete,
Varkspek
The post Sit op die gat! appeared first on LitNet.