Was boekvrate, skrywers en uitgewers bietjie dun van nerf toe hulle verlede week so uitgevaar het teen Standard Bank se Nitesh Patel wat mense gemaan het om minder nuwe boeke te koop om hulle begrotings te laat klop?
Standard Bank is immers ’n sterk ondersteuner van die kunste en het pas R10 000 aan die ATKV / Vriende van Afrikaans se Babalela-boekprojek geskenk. Jean Oosthuizen het met die skrywer en boekekenner Izak de Vries gesels om perspektief te kry oor die saak noudat die stof gaan lê het.
Jy was ’n aktiewe lid van die openbare protes teen Standard Bank se hoof van finansiële oplossings vir kliënte, Nitesh Patel, wat mense aangeraai het om minder nuwe boeke te koop as hulle wil spaar. Dit het ’n helse storm onder boekliefhebbers, skrywers en uitgewers tot gevolg gehad. Maar was julle nie te vinnig op julle perdjie nie?
Meneer Patel se woorde oor boeke kon duisende mense se werk in gedrang bring. Die ander goed wat Nitesh Patel in sy artikel gesê het, steun ek, maar sy feite oor boeke was glad nie op Suid-Afrika van toepassing nie.
En hoe het jy in die geveg beland?
Die storm het losgebars voor ek betrokke geraak het. Ek was eintlik ’n Johnny come lately. Douwleen Bredenham het die alarm laat afgaan, Sophia Kapp het ’n baie deeglike veldtog geloods, en toe het Alta Cloete betrokke geraak.
PEN Afrikaans, met wie ek ten nouste saamgewerk het, was ook betrokke, Daar is baie hard gewerk aan die bewoording van daardie veldtog. Dit was nie vinnig op die perdjie nie.
Boeke is tog wel ’n duur item, nie waar nie?
Jy sê boeke is duur? Ons almal wil goedkoper boeke hê, maar ons het reeds so min kopers, en daarom bly boeke so duur. Dit is ’n hoender-en-eier-situasie. As meer mense boeke koop, sal die eenheidsprys afkom. As minder mense boeke koop, sal die eenheidsprys al hoër word tot dit later nie meer moontlik is om boeke kommersieel uit te gee nie. Dan verloor mense hulle werk.
Dis mos goeie raad om mense te waarsku om nie bo hulle vermoëns leef nie en vir hulle aftrede te spaar. Stem jy nie saam nie? Waarom dan die heftige protes en wat wou jy bereik met jou “#Standardbankmustfall?”?
My protes was net teen een van die punte in die Nitesh Patel-berig, en ook net omdat ek weet hy kon nie die skade voorsien wat sy goedbedoelde woorde tot gevolg sou hê nie.
Die res van sy berig steun ek volmondig. Om die waarheid te sê, ek wil hê mense moet na sy filosofie luister. Ek self leef dit uit. My kar is oud, ek het getrou in jeans wat ek by by die OK gekoop het ... So kan ons aangaan.
Vir enigiets moet ’n mens egter begroot. My dogter se universiteit, my seun se skool ... Dis duur, maar ek kan dit nie ignoreer nie. Daarom begroot ek, daarom spaar ek – soos Patel aanbeveel.
Die punt is, selfs vir kos moet ons begroot. Kos is ook duur. Hoe gereeld koop ons by ’n prima supermark, en hoe gereeld waag ons dit in die gewone mense se supermark? Eet jy soms uit, of eet jy soms uit blikkies? Keuses. Daarom begrotings.
Begroting. Dit is wat ek bepleit.
Maar hoe raak dit Standard Bank en die kunste?
Standard Bank is ’n groot borg van die kunste. Hul handelsmerk is direk daaraan gekoppel. ’n Handelsmerk kan nie iets ondersteun en dan sy kliënte vertel om iets anders te doen nie. ’n Handelsmerk soos daardie moet eerder sê: “Ondersteun die kunste deur daarvoor te begroot, net soos wat ons dit doen.”
Daardie jazzkonsert wat Standard Bank borg is duur, maar as jy wil gaan, begroot daarvoor en spaar daarvoor.
Maar waarom so ver gaan om te “#Standardbankmustfall?”?
Jy vra oor my veldtog #Standardbankmustfall?. Jy vergeet dat ek ’n vraagteken bygesit het, lekker tong in die kies, juis om mense se aandag te trek.
Ek weet Standard Bank gee om vir die kunste, en daarom het ek geweet ’n gefokuste veldtog sal hulle aandag trek.
Patel was dus nie heeltemal verkeerd nie?
Nog eens: die res van sy artikel was great. Ek wens mense wil dit lees en toepas. Sy feite oor boeke was egter verkeerd en daarop moes ek reageer.
Standard Bank ondersteun die kunste en hul handelsmerk is sterk daaraan gekoppel, soos wat jy self opmerk. Hulle het selfs ’n Facebookblad wat jy kan like: https://www.facebook.com/StandardBankArts, asook ’n twitterrekening vir die kunste: @StandardBankArt. Het julle dit in ag geneem toe julle Standard Bank so gelooi het?
O, ja. En ek het het daardie kennis deeglik benut, want die mense wat kuns steun in Standard Bank, sou notisie neem.
Toe PEN Afrikaans dreig om skrywers, uitgewers, boekverkopers en lesers aan te moedig om hulle besigheid by Standard Bank te onttrek as Patel nie sy woorde sluk nie, het hy hoflik reageer en verskoning gevra as hy verkeerd verstaan is. Hoe ernstig dink jy was sy verskoning?
Goed. Ek praat hier as Izak, nie namens PEN Afrikaans nie. As Izak kan ek egter sê dat Nitesh Patel absoluut hoflik was en baie gou kon insien hoekom ons protes aangeteken het. Dit is belangrik. Hy kon sien dat ons veldtog gemik was op die beskerming van werksgeleenthede.
Ek het ook insae gehad in korrespondensie wat hy met individue gevoer het. Nog eens, absoluut hoflik. Ek het baie respek gekry vir die manier waarop hy individue behandel het.
Met ander woorde jy wou nooit die fokus wegneem van spaar nie?
Glad nie. Ek wens regtig dat die filosofie agter Nitesh Patel se woorde ernstig opgeneem word. Al waaroor ons verskil het, was sy feite oor boeke. Nitesh Patel is ’n wyse man. Ek wens mense wil begin luister na sy idees.
So, jy en Standard Bank se Patel is eintlik in dieselfde bootjie. Julle het albei goedbedoelde raad gegee en word toe verkeerd verstaan?
As jy dit so sê, sal ek dan sê: Tel julle sente, mense, tel hul een vir een ... Spaar vir die oudag. Begroot, en hou by die begroting. Luister na Nitesh Patel!
En wat is jou eie raad vir boekvrate wat lief is vir lees maar ook hulle sente moet omdraai, en hoe verskil dit van Patel se raad?
Begroot. Hou by die begroting. Moenie meer uitgee as wat jy kan nie. En luister na Nitesh Patel. Sy feite oor boeke was verkeerd, maar verder gee hy goeie raad.
Toe Patel besef mense het hom verkeerd verstaan, was hy mans genoeg om dadelik verskoning te vra. Is jy en PEN Afrikaans hom nie ook ’n verskoning verskuldig nie?
Ek praat hier in my eie hoedanigheid. Ek kan nie hier namens PEN Afrikaans praat nie. PEN Afrikaans het egter reeds amptelik gereageer, en daardie reaksie is baie wyd, in die openbaar, versprei.
Patel het nie net verskoning gevra nie. Hy het iets tasbaar gedoen namens Standard Bank en onderneem om 'n skenking van R10 000 te maak aan die ATKV / Vriende van Afrikaans se Babalela-boekprojek. Hoe voel jy persoonlik daaroor?
Die skenking het gevolg op korrespondensie tussen Nitesh Patel en Sophia Kapp. Dis ’n mooi gebaar. Ek het moeite gedoen om op Facebook en elders van Standard Bank se skenking te vertel, want as individu noop dit my om hand in eie sak te steek en ook die projek te ondersteun.
Ek sou dus ander individue wou uitdaag om ook hierdie projek te steun – of soortgelyke projekte. Hierdie een is na aan my hart, want ek het eerstehands beleef wat die Babalela beteken vir die kinders in Kewtown, maar as daar ander boekprojekte is wat steun nodig het, steun hulle.
Ek kan, terloops, bevestig dat Nitesh Patel persoonlik betrokke was by daardie skenking. ’n Saluut dus aan hom én aan die bank.
So julle protes het eintlik ’n goeie nadraai gehad en lyk my daar is nou vrede?
Ek sou hoop dat ons ’n paar wanpersepsies oor boeke kon verjaag, ja. Die uitgewers en die boekhandelaars kry swaar.
Toe jy so moerig was vir Patel, het jy hom uitgedaag tot ’n openbare gesprek in The Book Lounge. Gaan jy hom nou vir high tea nooi in die Mount Nelson se lounge?
Nee, wag nou. Dit was ’n berekende veldtog. Dit was glad nie ’n moerige veldtog nie. Ek wou die aandag vestig op die feitefoute en het allerhande, baie berekende, maniere geruik om seker te maak die protes kom by die korporatiewe hoofkantoor uit.
Mag ek eerlik wees?
Ja, asseblief!
Ek sou steeds graag met Nitesh Patel ’n gesprek wou voer in The Book Lounge. Nou eintlik meer as ooit.
Dit is belangrik dat sy wysheid gehoor word, maar ook dat ons saam besin oor maniere om mense te laat begroot vir die kunste.
Ek dink dit kan wonderlik wees as ons rustig, in die openbaar, kon gesels oor Standard Bank se bydraes tot die kunste, en oor individue se maniere om hulle begrotings te laat klop om ook die kunste, en dus boeke, te kan ondersteun.
Ek het baie respek vir wat Nitesh Patel wil bereik. Daardie uitnodiging staan nog. Dan kan ons saam na oplossings soek.
Lees ook
Boekwurms looi bankier se spaarplanne
Jean Oosthuizen "’n Voorstel dat boekliefhebbers biblioteek toe gaan of vriende se boeke leen as hulle geld wil bespaar het ’n storm in die kuberruim veroorsaak." |
'n Babalela vir Kersfees
LitNet Skenk ’n kopie van Babalela en laat ’n kind se ogies hierdie Kersfees blink. |
The post Vrede na bekgeveg oor boeke appeared first on LitNet.