Huis X-21
Hierdie kind is mooi
met die rooi van papawers op haar wange,
sy steek haar tong uit en byt dit vas
en wieg op die beat van ’n iTune.
Kurt Darren borrel saam met die kos op die stoof
en stort sy siel oor die teëlvloer
waar die kind in konsentrasie verstil:
haar vingers spoor die haarlynkrakies
in die grouting na.
Daardie vingers is dik en kort
met een lit minder as myne
en haar palm groef in een vou te min.
Haar hande het lief,
hulle vra nie vrae nie –
enfant bien-aimé,
wie is die afvlerk-homer
wat nooit die nes sal verlaat nie?
Sy ken geen vrees nie, maar mý vrese herrys
elke jaar, soos nuwe wonings.
Sy sit en neurie, haar longe stoom,
ons dapper klein Down-sindroom
is al agtien, vrou, maar steeds kind.
Die mense sê sy is ’n ster, ’n hemeling,
dog vir my bly sy net Somerkind. Sy jive al weer
op haar boude; die double jointed arms swaaiend,
haar oë skreef klein na bo
ja, Kaptein span die seile
want dit bly somer, geliefde kind, vir altyd somer.
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: Huis X-21 appeared first on LitNet.