Die beswaar van swart Suid-Afrikaners deesdae is dat wittes en veral Afrikaners in hierdie land ekonomies die bevoorregtes is; wil nie hulle met die massas vereenselwig nie; wil nie met meerderheid besluitnemings betrokke wees nie; is stroomop teenoor swart bemagtiging gekant; leef afsonderlik van swart mense, dws wil nie integreer nie; wil nie verander nie; ens. Die EFF vuur juis hierdie sentiment aan tot eie voordeel.
Mbt ekonomiese bevoorregting, word beweer dat Afrikaners hul rykdom vanaf die apartheid-era in die nuwe bedeling met hulle saamgebring het. Wat my verwonder is dat selfs Afrikaners vergeet het hoe hulle grootskaals vanuit hulle poste na 1994 uitgeskop was om plek te maak vir swartes. Afrikaners in die myne; in die poskantore; in die weermag; die polisie; korrektiewe dienste; verpleegsters; tellers; in die belastingkantore; ens. Afrikaners is grootskaals van hul staatsposte en mynbetrekkings uitgesit. Meer as die helfte van die Afrikaner werkerskorps het sonder werk gesit of oorsee verhuis. Stilletjies, sonder enige rumoer, het hulle hulself oor die jare heen by hul skoenrieme opgetrek, en hulself meer welvarend as voorheen bemagtig tot sodanige mate dat dit die jaloesie van die swart massas nou uitlok, wat nie wil vergun dat die Afrikaner op eie inisiatief homself sy welvaart na 1994 opgebou het nie, en wil dit nou propagandies voorgee dit is pre-1994 vanuit die apartheid era oorgedra na die hede!
Dan kan hulle ook nie verstaan hoekom Afrikaners nie met hulle in alles eens is nie. Ook Max du Preez verkwalik Afrikaners deur te vra: “Waar was julle Afrikaners? ten tye van die onlangse studente ‘protes’-aksies.”
Met die Waarheid en Versoeningskommissie het albei kante onderneem om nie te vergeet nie, maar wel om mekaar te vergewe. Wat gebeur sedertdien? Swartes ontneem Afrikaners sy gelyke regte in die werksplek; is besig om Afrikaners se taal aan te tas en te verontreg; sy geskiedenis te demoniseer; sy kultuur-simbole (straat en dorpsname, standbeelde, ens) te vernietig; is van plan om Afrikaner-eiendomme (plase) te nasionaliseer; maak geen spesiale moeite om die plaag plaasmoorde (merendeels op Afrikaners) te bekamp nie; wil ook vir hom voorskryf wat hy mag of nie mag sing nie, soos bv. Die Stem ens, ens. En na dit alles, verwag swartes van die Afrikaner dat hy sy selfrespek moet verloën om hulle ideologie te streel!!
Sedert 1994 en tot redelik onlangs toe, was Afrikaners leier-en-rigtingloos. As gevolg van negatiewe swart benadering tot Afrikaners, wat beide ’n onderdrukte weersin en woede in hulle oor die jare laat opwel het, is AfriForum tydig in die lewe geroep, juis om rigting in alle fasette van Afrikanerwees te verskans. Dat hulle ondersteuning onder Afrikaners daagliks vinnig aanwas (huidig 330 000 enkellede, met hulle gesinne, dek dit omtrent 1,5 mil Afrikaners) lok dit die gramskap van beide die swart gemeenskap asook die verregses en liberals onder Afrikaners. Dit sê vir my hulle weet hoe om te krap waar dit jeuk.
Sedert 1994 was werkloosheid onder Afrikaners vir die eerste klompie jare meer as die helfte, vandag, minder as 10%. In teenstelling het werkloosheid onder swartes sedert 1994 aanvanklik drasties verminder toe hulle Afrikanerposte in die werksplek grootskaals oorgeneem het, maar staan vandag daar by die 26%, groter as pre-1994!
Hoekom die verskil? Afrikaners glo aan harde werk sonder staatsteun, met besoldiging in verhouding met moeite GEDOEN vir produktiewe winsbejag. As gevolg daarvan het Afrikaners Suid-Afrika se ruggraat van klein entrepreneursbesighede geword wat werk verskaf, veral aan swartes. In teenstelling het swartes ’n kultuur van verwagting ontwikkel dat die staat vir hulle moet sorg, met die vakunies wat verhogings in besoldiging eis wat nie in verhouding met produktiewe besigheidswins strook nie, tot uiteindelike afleggings van werkers, onttrekkings deur oorsese besighede, bankrotskappe, ens.
Dus is dit nie die Afrikaner wat moet verander nie, maar wel die swartes se ekonomiese uitkyk rakende hulle eie samelewing indien hulle uiteindelike welvaart grootskaals mettertyd wil ondervind. Eerder as om die Afrikaner as hul vloek te sien, hoort hulle van hom te leer, en selfs in vennootskap met hom aan te gaan, ’n resep tot albei se uiteindelike voordeel. Selfs die vorige staatspresident Kagalema Mothlante asook Mathews Phosa sien dit raak, met albei meer goedgesind vir nadere verhoudings tussen swartes en Afrikaners.
The post Die wit vloek vir swart Suid-Afrika appeared first on LitNet.