Die gevaarlike Afrikaanse kletsrymer Jack Parow se biografie, Die ou met die snor by die bar, is onlangs uitgereik. Hy beantwoord ’n paar vrae oor die boek en wat op die musiekfront aangaan.
Goeiedag, Jack. Wat skud?
Niks veel nie, of maybe ek, ek het ’n Harley gekry, so ek fokken skud heeltyd ... maar op ’n lekker manier.
Geluk met die vrystelling van jou biografie/outobiografie, Die ou met die snor by die bar. Jy's seker al goed gewoond aan die druk wat saamgaan met die uitreik van ’n nuwe album, maar ’n boek oor jou lewe is seker ’n ander soort storie? Hoe verskil daai druk en nerwe (as daar is) in daai twee opsigte vir jou? Hoe is die terugvoer wat jy kry oor die boek tot dusver en is jy senuweeagtig daaroor?
Ja man, dis nogal heavy in some ways, soos dat dit baie persoonlik is, miskien selfs baie meer as musiek. Ek praat oor alles en ek praat completely eerlik daaroor. So dit was daai ding van "jeez, almal gaan dit lees en weet van al die kak wat ek aangevang het!!" Maar gelukkig het Theunis dit amazing geskryf en die feedback is AMAZING, regtig, ek het nie woorde nie. Koos Kombuis het gesê dis een van die beste boeke wat hy al ooit gelees het ... KOOS KOMBUIS, een van my musikale heroes en ’n AMAZING skrywer. So ja, ek's happy, haha.
Die man wat die boek geskryf het, Theunis Engelbrecht, is natuurlik geen vreemdeling vir die soort omstredenheid wat jy ook al moes deurmaak nie, aangesien hy ook Randy Rambo van die Naaimasjiene is/was. Watter soort rol het dit in die proses gespeel? En hoe het die proses gewerk?
Dit was great, want ek het geweet dit maak nie saak wat ek vir hom sê nie, hy sal my nie judge nie en hy sal oop kyk na wat ek sê en waarvoor ek staan. So dit het die proses so vergemaklik in die sense dat ek kon net kak praat en hy het geluister en vrae gevra en dan dit gescribe en teruggekom en ons het nog gepraat, ens, ens. Hy is so ’n cool bra, en dit was net ’n immense eer en plesier om saam met hom te werk. Ek beveel aan dat hy alle boeke wat gepubliseer word van nou af skryf, maak nie saak oor wie of wat dit is nie.
In die boek verklap jy op ’n baie eerlike wyse rêrig baie oor jou grootworddae, jou familie en dies meer. Was dit ’n moeilike ding om te doen, aangesien jy wat die public eye betref nog altyd Jack Parow was en die kollig nou skielik op Zander Tyler is? Hoe streng is daai onderskeid tussen openbare en private lewe vir jou, en was jy bekommerd dat die boek daai grens sou vervaag? Of hoe beskou jy die saak?
Wel, soos ek altyd sê, Jack Parow is net ’n dronker version van Zander, so die eerlikheid is maar altyd daar en dus was ek darem nie te nervous nie, want almal weet eintlik maar alles van my, hulle weet dit net nie altyd nie. So nou is dit swart op wit.
Jy het natuurlik nog altyd ’n sterk outobiografiese/nostalgiese/terugkykende element in jou lirieke ook gehad ... jou mees onlangse musiekvideo, "Never gonna grow up” (feat Riky Rick) is beslis ook in daai selfde "kategorie", as mens dit so wil noem. Hoe maklik of moeilik is dit vir jou om daardie soort lirieke te skryf, om by daardie herinneringe in te klim? Watter ander fases of afdelings van jou lewe sal jy nog wil ontgin in daardie opsig, vir liriekpleging ens?
Ek is maar eintlik bietjie van ’n introvert, of ’n observer, kan mens dit miskien noem. So ek het nog altyd baie opgelet op sulke goed en dit is soort van maar net deel van my karakter en kom nogal baie naturally voor sodra ek aan ’n idee begin dink of werk. Ek weet nie eintlik wat volgende sal wees in daai "kategorie" nie, maar ek begin nou werk aan my nuwe album, so ons sal hopelik soon sien!
Jy het onlangs ’n "platinum edition"-vinyl uitgereik, wat nogal besonder bedonnerd is. Wat was die gedagtes rondom hoekom julle die plaat wil uitgee en wat julle daarmee wil bereik? Sal jy weer musiek in vinyl-formaat wil uitgee, of hoe dink jy oor die ideale formate vir musiek vrystel (digitaal, CD, vinyl, tape ...) deesdae? Wat is die voordele en nadele van elkeen vir jou?
Ek hou van vinyl en wou nog altyd ’n vinyl maak, so met die reappearance en nuwe interest daarin was dit ’n easy besluit om te doen, en wat beter as my eerste album vir my eerste vinyl!
Ek dink die formaat hang maar af van die situasie. In my kar hou ek van CD's, by my huis is dit vinyl of digitaal, op toer is dit digitaal, ens, ens.
Gepraat daarvan – Jack Parow het ’n hele rits onlangse musiekvideo's vrygestel. Oor die jare het jy nog altyd gemik vir volledige albums vrystel, en so hier en daar ’n nuwe digitale snit. Wat is die waarde van ’n volledige album vir jou? Hoe sal jy nog vorentoe wil eksperimenteer met hoe ’n mens dit vars kan hou (soos byvoorbeeld met die elektroniese en akoestiese CD's in die Nag van die lang pette-album? Is dit nog die moeite werd om volledige en "harde" albums vry te stel in hierdie era?
Ek dink dis altyd die moeite werd om volledige albums te doen. Mens kan hier en daar die single ding doen, maar na ’n tydjie is dit lekker om ’n full-length album uit te sit, vir jouself en vir die fans. Dit gee ook kans om te eksperimenteer met musiek en goed te doen wat jy maybe nie met ’n single sal doen nie, want ’n single is maar meeste van die tyd meer gemik op radio ens, so byvoorbeeld, my bek kan nie so lekker los wees altyd daarin nie, haha. En as for keeping it fresh, fok weet, dis maar iets wat die future bring, jy moet net altyd jou oë oop hou.
Jy het onlangs ’n Suid-Afrikaanse toer saam met Dirt Nasty van Amerika onderneem. Hoe het dit vir jou afgeloop? Wat is lekker daaraan om met internasionale kunstenaars (en spesifiek nou Dirt Nasty) saam te werk? Wat leer julle by mekaar en watse soort kak jaag julle aan op ’n afdag?
Haha, ja, dit was befok, ek was ’n groot fan van hom gewees, en toe ek in Amerika was toe kontak hy my en tune hy is ’n fan van MY! So ja, toe is dit ’n easy choice om musiek saam te maak.
Ek het by hom definitief geleer dat as jy saam met iemand iets wil doen, whether dit musiek is of whatever ... vra hulle, want meeste van die tyd sal hulle amped wees, en dis wat ek nou meer doen, musiek maak saam met mense van wie ek hou. En as for die kak wat ons aanvang sal julle maar moet lees in die boek of wag vir die next one, want dis te rof vir LitNet.
Wat gebeur in die nabye en verre toekoms vir Jack Parow? Wat gaan ons verras?
Ek werk aan ’n paar lekker dinge, soos bv ’n Dutch EP saam met ’n paar artists van Holland, en dan doen ek weer ’n lekker vet EU-toer next year. Daar is ook ’n hele paar secret things cooking, maar julle sal maar moet wag en sien ... maar belowe ... dit gat LOOP!!
Jack Parow en die vrou in sy lewe, Jenna
Foto: Allister Christie
The post Jack Parow: "Ek is maar eintlik bietjie van ’n introvert, of ’n observer" appeared first on LitNet.