Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Suzanne: "Ek wou baie graag ’n eerlike album maak"

$
0
0

Die Afrikaanse sangeres Suzanne – ’n voormalige kinderster – het pas ’n nuwe vollengte-album, Vuurbestand, uitgereik. Suzanne beantwoord ’n paar vrae oor die album, musiek in die algemeen en die lewe.

Goeiedag, Suzanne. Hoe's dinge?

Hallo Henry! Dinge is baie lekker hier aan my kant. Ek hoop dinge is net so lekker daar by jou!

suzanne1web_Jana_Heyns
Foto: Jana Heyns

Ja wat, dankie. Baie geluk met die uitreiking van jou nuwe album, Vuurbestand. Dis ’n indrukwekkende album, met ’n rits sterk snitte en "hooks" daarop. Het jy ’n spesifieke algehele gevoel vir die album gehad wat jy wou bereik, of dalk eerder ’n soort balans tussen die snitte? Met ander woorde, is daar ’n soort storie wat strykdeur die album vertel word, of hoe het jy op die ou end besluit watter liedjies op die album sal beland en watter eerder nog ’n ruk in die laai moet lê?

Baie dankie, Henry! Ek wil graag glo dat harde werk vrugte sal afwerp!

Ek wou baie graag ’n eerlike album maak, so elke liedjie op hierdie album was geïnspireer deur ervaring wat ek op my lewensreis opgedoen het. Die balans tussen die snitte weerspieël die balans in my lewe. "Belofte" en "Dieselfde" is byvoorbeeld die liedjies wat ek en my man vir mekaar geskryf het ter bevestiging van ons liefde teenoor mekaar. "Vergewe my" het ontstaan nadat ons ’n bietjie verskil het. "Herinner" is opgedra aan ons beste vriend wat oorlede is. "Liefde is alles" se inspirasie het gespruit vanuit ’n waardering vir die mag van liefde en hoe dit gebruik kan word om ons as mense te verenig. "Vuurbestand" het ontstaan toe ons baie uitdagings in die gesig gestaar het met die maak van dié album. Elke liedjie op hierdie album het ’n spesiale plek in my hart!

Die skryfproses het twee jaar geduur. Teen die einde van die proses moes ek tien liedjies kies en dit was beslis ’n moeilike keuse. Daar is ongelukkig ’n algemene model daar buite wat gevolg word met die samestelling van albums: ek vind dat daar gereeld net twee of drie sterk liedjies op die albums verskyn met die potensiaal om vuurwarm treffers te wees en dat die res van die materiaal dan louwarm is. Dit was vir my belangrik dat elke liedjie op die album ’n sterk liedjie moes wees. Ek wil graag strewe na gehalte in ’n tyd wat mense daarvoor vra.

Die album is deur jou en jou eggenoot, Jacobus Uys, geskryf. Dit moet seker ’n interessante uitdaging wees – in hoe ’n mate is dit ’n proses van konstruktiewe kritiek wat wedersyds gebeur? Hoe werk daardie skryfproses vir julle? Is dit ’n geval van sit en besluit "ons moet nou ’n hartseer lied skryf", of wie bring die inspirasie? Wie voorsien die lirieke en wie die musiek, en hoe kom julle tot ’n punt waar julle besluit dié lied is nou reg nes hy is?

Ek en Jacobus skryf baie lekker saam. Toe ons begin uitgaan het, het hy vir my kom kuier met sy kitaar en dan het ons vir ure saam musiek gemaak. Ek het sommer vroeg besef dat daar ’n baie sterk band tussen ons is wat toelaat dat ons deel in ’n baie natuurlike kreatiewe proses. Dit is vir ons ’n baie groot voorreg om so iets te kan deel.

Ons het gelukkig ’n baie eerlike verhouding, so ons sien die konstruktiewe kritiek as blote eerlikheid met die doel om ten einde beter kunstenaars te wees. Ek kan nie juis sê dat net een van ons verantwoordelik is vir ’n enkele aspek in die skryfproses nie; ons vul mekaar aan in alle fasette. Dit is belangrik dat ons albei die “ja-gevoel” ervaar wanneer voorstelle gemaak word. Dit is moeilik om te sê wat daardie “ja-gevoel” veroorsaak of behels, maar ek dink dis ’n kombinasie van ’n sterk idee wat slim oorgedra word deur lirieke op ’n aangrypende melodie. Wanneer ek so ’n kombinasie hoor, raak ek baie opgewonde!

Dit voel tog of daar ’n goue draad deur die album loop, in terme van ’n intieme, een-op-een liefdesverklaring. Jy het alreeds hier bo deels daarna verwys. Sal ’n mens aanneem dat dit nét outobiografies van aard is, of is dit ook ’n geval van iets waarby luisteraars vinnig aanklank kan vind en dan verder kan verken? In watter mate dink jy ’n mens behoort suiwer outobiografies te skryf (ek dink byvoorbeeld aan die snit "My verhaal"), of vind jy dit heel OK en gemaklik om jou in sekere scenario's in te dink om ’n lied te laat werk?

Dit is beslis outobiografies en baie persoonlik. Ek vind dat ek my beste werk lewer wanneer ek werklik begrip het vir die situasie waaroor ek skryf.

Alhoewel ons almal verskillend is en van verskillende dinge hou, is daar wel ’n eendersheid in ons almal se verhale. Die oorheersende boodskap bly dus universeel. Alhoewel die verhaal van hierdie album my eie is, hoop ek opreg dat mense aanklank sal vind by die dele van my verhaal wat ooreenstem met dié van hul eie.

Julle het ook die hulp van ’n vervaardiger, Fred den Hartog (van onder meer Die Heuwels Fantasties-faam), ingeroep vir die album. Hoe het die opneemproses vir jou verloop, in terme van wat julle verwagtinge en mikpunte was en waarmee julle op die ou end uitgestap het? Hoeveel anders klink die snitte nou, soos dit uitgereik is, as toe julle dit met Fred en ander rolspelers begin bespreek het?

Ek kan nie genoeg dankbaarheid betoon teenoor Fred vir sy bydrae nie! Hy is waarlik die toonbeeld van ’n talentvolle musikant en vervaardiger. Ek het vir Fred skaars vyf maande gelede ontmoet. Hy het aanvanklik deur my en Jacobus se werk geluister en bevestig dat ons die regte materiaal het vir ’n vollengte-album. Ek sou nooit kon droom dat hierdie liedjies so fantasties sou klink nie en ek is werklik stomgeslaan dat hy dit in só ’n kort tydjie kon vermag. Ek het nog nooit gemakliker saam met ’n musiekverwerker gewerk nie; die opnames was vinnig en pynloos.

Die liedjies klink baie anders as die oorspronklike weergawes wat ek aanvanklik vir Fred gespeel het, so hy het sy eie stempel op die werke afgedruk en daarvoor sal ek hom ewig dankbaar wees!

Dit is natuurlik ook nie meer ’n gegewe dat ’n kunstenaar ’n vollengte-album uitreik nie – in die digitale era verkies heelwat mense om eerder so nou en dan enkelsnitte of EP's vry te stel as die lang proses (en baie geld!) wat met die maak van ’n volledige album gepaard gaan. Hoe beskou jy die saak? Wat is jou filosofie rondom die ervaring van musiek in die verskillende formate of op die verskillende platforms? Sal jy verkies om by die volle-album-benadering te hou, of wat is vir jou opwindend in terme van digitale moontlikhede wat jy wil verken?

Ek glo vas dat die grootse deel van ’n kunstenaar se sukses in sy/haar liedjies lê. In die digitale era is die onus op die kunstenaars om topklas musiek te skep. Ek glo dat die beste plan van aksie sal wees om sterk liedjies op te neem. As daar dan net genoeg sterk liedjies vir ’n EP is, maak dan ’n EP. Vollengte-albums kan nie meer uitgereik word met net twee of drie sterk snitte nie. Ek verwelkom alle mediums wat die musiek by die luisteraar kry. Die luisteraar is vir my die belangrikste komponent van musiek. Sonder die luisteraar is my kuns nutteloos.

Jy het al vroeg in jou lewe opgang gemaak in die musiekbedryf – as Suzanne Germishuys het jy in jou kinder- en tienerjare gereeld TV-verskynings gemaak en ook ’n paar albums vrygestel. Hoe beskou jy die goeie en die slegte elemente wat saamgaan met bekendheid as sanger op só ’n jong ouderdom en die druk wat daarmee saamgaan? Watter raad sou jy hê, as iemand met daardie agtergrond, vir ’n opkomende kinder- of tienersanger en hul ouers in terme van wat om te vermy en wat om te geniet? Watter soort invloed het dit gehad op hoe jy dink oor musiek en ook op hoe jy dink oor jouself?

Ek voel baie geseënd om die lewe te kon hê wat ek tot dusver gelei het. Ek was ’n doodgewone dogtertjie wat ongelooflike geleenthede gekry het om my sang te beoefen. My ouers was taamlik skrikkerig vir dié bedryf en hulle wou sien dat ek skool voltooi en ’n normale lewe lei. Ek moes hulle op verskeie geleenthede oortuig dat dit die beste pad vir my is. My ouers het elke sent wat ek verdien het oor die jare vir my slim belê en sonder daardie goeie bestuur van my sake sou ek nie vandag hierdie album kon vrystel deur my eie platemaatskappy nie.

Ek was nooit werklik ingestel op die slegte elemente van ’n sangloopbaan nie. Ek was maar net te dankbaar om my drome te kon uitleef. Vandag kan ek terugkyk en sien dat daar altyd afguns was en sal wees. Dit het my nog nooit ondergekry nie en het my geslyp.

My raad aan kinders wat so ’n loopbaan nastrewe is om te doen wat reg en goed voel. Moenie probeer om ander mense na te boots nie; wees jouself! Aan die ouers sal ek sê dat hulle op die uitkyk moet wees vir talent, maar wees realisties. Kyk uit vir die belange van die kind. My ouers het altyd my belange op die hart gedra en daarom kan ek vandag nog in hierdie bedryf werk.

Vuurbestand is jou eerste album in ’n hele klomp jaar. Wat was die redes vir die (betreklik) lang gewag om Vuurbestand te skep en vry te stel? Sal jy graag nou ’n soort momentum wil behou en meer gereeld nuwe musiek vrystel, of is jy rustig met die lang periodes tussenin? Wat is die waarde daarvan om ’n mens se tyd te vat met nuwe albums vrystel? Is daar enige nadele betrokke?

Ek dink die lang wag was dalk een van die beste dinge wat in my loopbaan kon gebeur het. Ek was laas aktief in hierdie bedryf toe die woord “digitaal” nog ’n vloekwoord was. Die lang stilte het gesorg dat ek op ’n skoon bladsy kon begin met Vuurbestand. Ek kon sonder druk my skryfstyl beoefen totdat ek werklik gelukkig is met my werk. Ek wil nou bou op hierdie momentum en aanhou skryf vir toekomstige albums.

Volgens jou Facebook-blad het jy al in 1996 die musiektoneel betree ... dit beteken dis nou ’n allemintige 19 jaar later. Is daar spesifieke herinneringe in dié loopbaan wat jy die graagste koester, en enige gebeure waarvan jy eerder sal wil vergeet? Enige agter-die-skerms-avonture wat jy nóóit sal vergeet nie?

My 19 jaar in die bedryf was beslis ongelooflik. Dit sal baie moeilik wees om spesifieke gebeure uit te sonder, maar ek kan wel sê dat dit ’n ongelooflike voorreg was om saam met ander kunstenaars te kon werk. Ek geniet spanwerk en die herinneringe wat ’n mens maak op toer en in groepsverband. Ons is almal doodgewone mense en dit op sigself is vir my baie spesiaal.

suzannecoverweb

Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Suzanne?

Ek is tans druk besig met die verspreiding van hierdie album. Ek stel ook binnekort my nuwe musiekvideo vir "Belofte" vry. Ek wil graag vir soveel moontlik liedjies op hierdie album video's maak. Ek beplan om binne die volgende jaar te begin opneem aan my volgende album.

Wat is die sin van die lewe?

Ons is hier om te leer, te ervaar en om lief te hê. Liefde is alles.

The post Suzanne: "Ek wou baie graag ’n eerlike album maak" appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>