(Cullinan in brailleskrif geskryf)
Home is one's birthplace, ratified by memory. – Henry Anatole Grunwald
Iewers in die moederskoot van jou grondtonnels en skagte
waarbo gister soos mynershuise saamgedruk sit,
met veldgras die kleur van geelperskes in canned fruit-bottels
en jakarandabloutes vol son
het jy en ek, geliefde heimat, één geword.
En in die étalage van draad-en-roesblikbeelde
voor janharmsgat,
die friends of the rail-stoomtrein op die stasieperron
en toeka se lokettreffers wat steeds by die ou Rec-klubhuis draai
het ek my eerste waggeltreë tot jou gegee.
Ook die fanagalo om kampongvure wat gesellig hurk
onder jou laaste lig en diamantblink donkertes
terwyl ’n ver-af jakkals roep,
en die in memoriam-krygslied oor wit grafsteenkruise
van soldate wat as vreemdes in jou arms kon sterf.
Ek onthou die uitgelate konfetti van kinderstemme
op die skoolterrein,
die purpervlek van somer en moerbeiryp onder ons voete,
ouma se skuiflaai wat ruik van 4711 eau de cologne,
’n witborskraai soos ’n steltloper onder die wasgoedlyn
op soek na glans en klater
en die reën wat giet en pannekoek en pypkaneel.
Met jou was daar altyd méér as wat die oog kan sien,
tot vandag hou jou naelstring my hart.
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: Cullinan appeared first on LitNet.