Huis Aluin
Loseer daar deesdae ’n kielie-krappigheid in jou hartsare
en is jou bene nes esels: gekniehalter?
Kom! Kom na Huis Aluin.
Almal, ook dié wat sabander is, is welkom.
Moet jou nie laat flous deur my naam,
my hoofdoel is mos sametrekkend.
Hier’s my hek, dit sê soveel meer as net oop en toe
of dat dit ’n grens skep.
Vir my is elke gierts-garts oopgaan die voorgereg
van ’n aangename vertoef.
Heel rustig lê my klippaadjie tot by die deur:
Stap gerus nader,
op díé paadjie lewe geen spore,
Wees dus nie beklemd,
niemand hoef te weet jy ís, of wás hier.
Maar as jy spore wíl los, trap op die sagte grond
want jy mag trots wees op jou kuier hier.
So los spore vir die nageslag;
iemand wie ook van sagtrap hou
mag dalk net jou spoor wil volg.
Die Aluinvoordeur is ’n oopdeur – altyd;
wees verseker; daar hang altoos ’n olyftak.
Glip jou arm in myne en gee aan daai bagasie.
Helder kleure oral deur my oopplan-voorhuis
versprei my uitnodiging om voluit jouself te wees.
Sou jou siel smeek om sagte pastel-fluweelkussings,
dalk ritmiese tromme of moontlik geurige blomme,
hier is ’n kamer vir enige dors
of milddadige stiltes wat krag eggo.
Ons kan saamvlok tot ’n nuwe geheel;
sou daar ’n abses woed, glip gou in my serene stort –
witter as was bid ek jou.
Sametrekkende heelword – sonder onderskeid;
dís Huis Aluin
waar siele altoos rus vind.
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: Huis Aluin appeared first on LitNet.