In my donker huis
Jy het vir my ’n huis gebou
Nie omdat ek jou gevra het nie
Dit is nie die huis wat ek wou gehad het nie
Nee, jy het my in ’n donker poel ingesmyt
Die koue water was skokkend, ek het probeer swem
Jy stuur donker spoke na my kop
Ek hardloop deur my huis
Van bo na onder, heen en weer
Ek soek die stemme
Hulle is so luid in my kop
Hulle roep my nader
Steek hul swart tentakels uit om my te vang
Ek kan nie nee sê nie – ek is betower
Maar dit is tog my donker huis
Hier woon ek saam met hulle
Dit word donkerder en ek raak sieker
In my donker huis hardloop ek in sirkels rond
Ek wil die gespuis uit my kop uit ruk
Ek wil in my donker kas wegkruip
Ek soek my wapens – ek moet veg hierteen
Hulle lê in kleurvolle hopies op my bed
Hulle skree vir my – vat ons, want dan sal jy lig sien
Ek gooi hulle van my bed af
Nee, julle gaan nie van my besit neem nie
Ek jaag die stemme weg. Ek haal asem
Ek is so moeg, die slaap oorval my
As ek slaap, is daar nie spoke of donkerte nie
Vroegoggend loer ek onder die kombers uit
Êrens skyn ’n flou liggie
Daar is hoop, hier in my donker huis.
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: In my donker huis appeared first on LitNet.